Hulle sê die gebruik van genomika verseker progressiewe genetiese vordering, verhoog die seleksiedruk en verkort die generasie-interval in kuddes.

Volgens prof. Donagh Berry, wat verbonde is aan die Ierse voedsel- en landbougesag (Teagasc), is die gebruik en ontleding van groot datastelle (big data) en presisielandbou onontbeerlik vir vinnige vordering met diereteelt.

“Om die doel van diereteelt te verwesenlik, moet vroulike diere dragtig raak om ’n nageslag voort te bring. Telers kan net sowel in dié proses goeie teelmateriaal gebruik,” sê hy.

Berry sê die gebruik van teelmateriaal het ’n opstapelende en permanente uitwerking op enige kudde. “Die prestasie van jou diere kan jaarliks deur die daaropvolgende geslagte verbeter word.”

In die melkbedryf is die benutting van genomika reeds goed gevestig. Hy waarsku dat melkboere wat in tye van lae produsentepryse nie aan melkaantekening en kunsmatige inseminasie met goeie teelmateriaal deelneem nie, hul kudde kan benadeel. Dit is omdat “die nadraai van die gebruik van minderwaardige teelmateriaal geslagte verder steeds ’n nadelige invloed op die kudde het.” 

Wins styg

Volgens Berry het die Europese melkbedryf sedert 2002 ’n groot winsstyging getoon. Nadat ’n nasionale teelprogram in Ierland ingestel is, het die styging ten opsigte van genetiese wins aansienlik toegeneem, veral ná 2009, toe genomiese tegnologie in gebruik geneem is.

“Sedert 2002 tot die hede was die waardetoevoeging van genomiese tegnologie in die Ierse suiwelbedryf sowat 1,1 miljard Euro,” sê hy. Berry meen dit kan nóg verbeter, en sê deur die beste teelmateriaal van ’n dierebevolking te gebruik, kan die genetiese vordering daarvan eksponensieel versnel.

Berry was van die eerste wetenskaplike wat die genotipering van beeste in Europa aangepak het. Dit was teen ’n koste van €282 (R4 831) vir 50 000 DNS-merkers. Die koste het sedertdien gedaal tot minder as €20 (R343) per skaap of bees.

Hy het gesê genomiese tegnologie kan ook help om inteling te beperk wanneer die chromosome van die twee ouers wat na die nageslag oorgedra word, geïdentifiseer word.

Inteling

Dr. André Eggen van Illumina, ’n biotegnologiemaatskappy, sê diereteelt sonder die benutting van genomika is steeds van waarde vir sommige eienskappe. By ander eienskappe wat moeilik daarsonder bepaal kan word, soos vrugbaarheid, moederwaardes, langslewendheid en funksionele siekteweerstand, speel genomika egter ’n groot rol.

Volgens Eggen was die klem vantevore hoofsaaklik op die seleksie van manlike diere by teelstasies, maar die seleksie van vroulike diere raak nou ewe belangrik.

“Genomika is nie ’n towerstaf nie, en indien jy swak teelmateriaal gebruik, is dit ook die resultaat. Indien genomika behoorlik aangewend word, kan die genetiese vordering egter verdubbel word. Die koste om beproefde bulle te lewer, kan aansienlik verlaag word, aangesien genomika nageslagtoetsing vervang,” sê Eggen.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.