Wanneer is genoeg genoeg? Dié vraag geld seker alle aspekte van die lewe. Wanneer het jy genoeg geld, genoeg voorsiening gemaak vir jou aftrede, genoeg beeste? Wanneer kry jy genoeg geld vir jou produk? Die lys kan lank aangaan.

Die ander vraag waarmee ek baie worstel, is hoe weet ’n mens wanneer jy ’n spesifieke eienskap tot sy maksimum gedruk het, en waar is die keerpunt vir ’n spesifieke eienskap? Dit geld veral as ons met die natuur werk, want ons weet dat Moeder Natuur altyd die laaste sê het. Wanneer word van optimaal oorgegaan tot maksimaal? Maksimaal is nie noodwendig winsgewender as optimaal nie. Inteendeel, maksimaal is gewoonlik minder winsgewend as optimaal, veral omdat dit kunsmatig bereik word.

Stoetboere het hierdie dilemma wanneer hulle met teelmateriaal werk wat uit die aard van die saak verkoop moet word. Ek het ’n tydjie gelede ’n stuk gelees oor “rigting en bestemming” wat dit raak saamvat. Wanneer jy byvoorbeeld Kaap toe ry vir vakansie, het jy ’n rigting om daar uit te kom, maar wanneer jy by jou bestemming aankom, moet jy weet jy is daar sodat jy kan afskakel, vakansie kan hou en begin rus. Baie mense kom by hul bestemming aan maar hulle bly onrustig en rus nooit nie. Dit is dan ’n vermorste kans vir rus.

Is melkproduksie nie reeds optimaal nie?

Ek hou van navorsing en is die wetenskap goedgesind. Ek probeer heeltyd aan die voorpunt bly van die jongste neigings en navorsing, maar ek begin ook dink dat ons baiekeer die natuur wil rek tot waar die perk van optimalisering oorskry word. Dit veroorsaak in al die gevalle ’n afwaartse kurwe.

Die vraag oor wanneer genoeg “genoeg” is, is veral van toepassing op seleksie vir melkproduksie. Toe jare gelede met prestasietoetsing begin is, was dit veral toegespits op speenkalfgewig (groei) en die eienskap om daarvoor te selekteer, is melk en groei. Daarom was dit voor die hand liggend dat daar op melkproduksie en groei gekonsentreer moes word. Dit het later oorgegaan tot Blupsyfers, en steeds is daar groot klem gelê op die teelwaarde-indeks vir speen (direk en maternaal), en word gediskrimineer teen diere met laer syfers as die rasgemiddelde vir hierdie eien- skappe.

Herlewingslandbou is die nuwe gonswoord en die klem het verskuif na grondgesondheid en die groei van meer gras deur die verbetering van die grondbiologie – alles om die natuurlike prosesse te stimuleer en die volle potensiaal te ontgin. Verder dwing die voortdurende verhoging van insetkoste veeboere om na alternatiewe te kyk.

Die beperkings van die vleisbeeskoei wat produksie betref, en die gelyktydige skuif na die maatstaf van wins per hektaar pleks van produksie per dier, het ons ook laat besef dat belading en vrugbaarheid (liggaamskondisie) die belangrikste twee aspekte in ’n vleisbeesboerdery geword het.

Natuurlik moet ’n kalf groei en is melkproduksie nodig, maar die klem moet dalk effe verskuif na die feit dat om meer gras te groei waarop meer diere aangehou kan word, ’n groter impak op wins per hektaar sal hê as wat die verhoging in melkproduksie – dus ’n swaarder kalf – tot gevolg sal hê. My vraag is dus, is ons nie reeds by genoeg melk in ons vleisbeeskuddes nie?

Só raak dit onekonomies

Ek het ’n paar studies geraadpleeg oor melkproduksie. In 1990, in ’n studie oor die energievereistes van kruisgeteelde vleisbeeste met verskillende genetiese potensiaal vir melk, toon data van die Amerikaanse nasionale navorsingsraad dat ’n koei wat 25 pond melk (11 liter) by spitslaktasie produseer, 10% meer voedingsenergie nodig het as ’n koei wat 15 pond melk (6,6 liter) by spitslaktasie het.

Om ’n verskil van 10% te sien in voedingsenergie wat volwasse gewig betref, sal ’n toename van ’n 1 000 pond-koei (450 kg) tot ’n 1 200 pond-koei (540 kg) beteken, oftewel ’n toename van 200 pond (90 kg) in liggaamsgewig. Om volwasse koeigewig in toom te hou en vir optimale melkproduksie te selekteer, is voordelig wat kostebesnoeiing betref ongeag jou produksieomgewing, veral in die lig daarvan dat melkproduksie na raming vir 23% van die afwyking in onderhoudsvereistes verantwoordelik is.

In ’n omgewing met beperkte rantsoene sukkel koeie met ’n hoë energiebehoefte egter om ’n aanvaarbare liggaamsgewig te behou en om weer dragtig te raak. Rasse met ’n hoë genetiese potensiaal vir melkproduksie het volgens ’n studie deur Nugent (1993, “Relationship of post-partum interval in mature beef cows with nutritional environment, biological type and serum IGF-I concentrations”) langer droë siklusse in omgewings met beperkte voedingsbronne. Dit lei tot laer dragtigheidsyfers in ’n vasgestelde dektyd.

Ander navorsers het tot die slotsom gekom dat seleksie vir groter melkproduksie bo ’n sekere vlak nie ekonomies of biologies doeltreffend is nie, wanneer die uiteindelike bemarkingsbestemming óf speendiere óf die slagplaas is. Terwyl laktasievereistes intuïtief is, het koeie met ’n hoër melkopbrengs ook groter inwendige organe, wat aanleiding gee tot groter energievereistes, selfs as ’n koei nie melk lewer nie.

In die laaste studie wat ek wil noem, wat by die Universiteit van Nebraska-Lincoln gedoen is, is drie groepe koeie van eenderse grootte en groeitempo, maar met verskillende melkproduksievlakke (laag, medium en hoog), met mekaar vergelyk. Die 494 kalwers is gevoer met die oog op marmering. Die energiebehoeftes vir kalwers in die hoë en mediumgroepe was 11% meer as dié van die kalwers in die lae groep.

Reeds by DIE bestemming

Ons wil diere teel wat op natuurlike weiding floreer. Daarom dink ek ons het met sekere eienskappe reeds by ons bestemming uitgekom. Ons moet begin “rus” en ons eerder op ander faktore toespits, waaronder vrugbaarheid en onderhoudsbehoefte.

Die vraag is of jou diere met minimale insette (lekaanvulling en/of addisionele voer) op natuurlike weiding daartoe kan bydra om jou onderneming se wins per hektaar gunstig te beïnvloed. Miskien is melkproduksie reeds optimaal en kan jy op ander belangrike eien- skappe konsentreer terwyl melkproduksie optimaal sal bly.

Moenie dat die Blupsyfers wat melk betref, te swaar weeg nie. Die tabel toon dat indien jy jou weiveld teen konvensionele norme (pers deel) wil belaai, jou speengewig tot 385kg of 460 kg moet verhoog om dieselfde opbrengs op kapitaal te realiseer as ’n verhoging van 50% (wit) of 100% (blou) in beladingstempo. Dit is duidelik dat die speengewig-opsie onmoontlik is.

Verder is daar die ongunstige fasette waarna die studies verwys het wat in gedagte gehou moet word. Wees dus tevrede met ’n 240 kg-speenkalf, en maak eerder seker jy groei meer gras sodat jy jou belading kan opstoot tot dubbeld die ou norm met aangepaste vrugbare koeie met ’n speensyfer van 80-85%, wat eintlik 160-170% in reële terme is. As sy elke jaar ongeveer 50% van haarself speen, het jy ’n besonderse koei. Jou wins per hektaar sal baie beter daarby baat vind. 

Mnr. Gerrit van Zyl besit die bekroonde Hanzyl-Bonsmarastoetery buite Dewetsdorp.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.