Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy Januarie-verslag met die baie reën wat oor groot dele van die somerreënstreek aangeteken is en nog meer reën wat vir Maart voorspel word, kom groot uitbrekings van insekoorgedraagde siektes voor, soos knopvelsiekte, bloutong en drie-dae-stywesiekte.

Sover was daar gelukkig geen bevestigde gevalle van slenkdalkoors nie. “Dit is baie belangrik dat enige tekens van slenkdalkoors onmiddellik by jou veearts en staatsveearts aangemeld word omdat dit ’n aanmeldbare siekte is. Tekens van die siekte is aborsies en vrektes, veral by lammers. Die virussiekte kan ook by beeste en wild voorkom.

“Dit is ’n soönotiese siekte; wees dus versigtig om nie nageboortes en karkasse te hanteer nie. Moenie gerugte en vals nuus versprei nie, aangesien dit die uitvoer van wol en ander produkte nadelig kan raak.”

Parasiete, veral haarwurm, veroorsaak steeds groot verliese. Haarwurmweerstand teen sekere middels kom wydverspreid voor. Malan moedig boere aan om vas te stel watter groepe middels doeltreffend in ’n kudde is. Op elke wurmmiddel se verpakking is daar ’n nommer (1 tot 10) wat die aktiewe groep aandui. ’n Veearts kan help om vas te stel watter groep die beste is om te gebruik.

Bosluisoorgedraagde siektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, hartwater, knopvelsiekte en anaplasmose gaan ook toeneem. Maak seker die regte bekampingsprogram word gevolg. Bosluise veroorsaak ook sere wat spykerwurmvlieë lok en selfs tot vrektes kan lei.

Malan sê besmettings met bruinoorbosluise gaan in groot getalle toeneem. Kliniese tekens is bloeiende ore. Bosluise suip bloed wat bloedarmoede veroorsaak en tot produksieverliese lei.

Vrotpootjie het ook met rasse skrede in die nat toestande toegeneem. Die gereelde behandeling van kloue met sinksulfaat is die aangewese behandeling.

Beesbrucellose is steeds ’n groot bedreiging. Boere moenie vergeet om alle verse tussen vier en agt maande in te ent nie.

Malan sê die nuwe reëls van die landbouprodukte-agenteraad is nou van toepassing op alle diere op veilings. Almal, veral lewendehawe- en wildagente (afslaers), moet seker maak hulle kom op hoogte van hierdie inligting wat ten doel het om biosekerheid te bevorder.

Hoewel die reëls reeds in November 2020 van krag geword het, is lewendehawe-agente ’n bykomende grasietydperk van ses maande gegun om hulself op die hoogte van die reëls te bring, hulle daarvoor voor te berei en hul biosekerheid teen 30 Junie 2021 gereed te hê. Nog inligting is hier beskikbaar.