Die skielike verbod wat Botswana se departement van landbou-ontwikkeling en voedselsekerheid einde 2020 op die opveil van ingevoerde diere geplaas het, het mnr. Christiaan de Jager, ’n Suid-Afrikaanse teler van Chianina-beeste, net tydelik gestuit deurdat hy toe nie sy beoogde veiling op 5 Desember kon hou nie. De Jager wat by Badplaas en in Mosambiek en Italië met die ras boer, het toe reeds ’n wettige invoerpermit gehad om die bulle in Botswana te verkoop en die beeste was reeds in daardie land.

Hy sê daar was toe reeds soveel belangstelling in die beeste dat hy al elf bulle in ’n japtrap uit die hand verkoop het. Die hoogste prys was vir die bul OL 321 Okavango wat vir R120 000 aan Letsa Farming van mnr. Kutshatha Moesi verkoop is. Die bul was in 2019 die Suid-Afrikaanse senior kampioenbul. Nog ’n bul, OL Bulldog, is vir R112 000 aan ME1Z Ranches verkoop. Die laagste prys was R56 000 en die gemiddelde R81 760.

“Ek sal voortgaan om die Chianina in Botswana bekend te stel. Daar is reeds ’n klompie bulle in dié land en hulle presteer uitstekend om swaar speenkalwers te teel wat vir boere baie geld in die sak bring,” sê De Jager.