Tans voldoen die boere se produksie- en dieregesondheidspraktyke nie aan kommersiële standaarde nie.

Dr. Peter Oberem, uitvoerende hoof van die dieregesondheidsmaatskappy Afrivet, raam dat die projek, wat met die samewerking van Afrivet, die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Onderstepoort Biologiese Produkte en die Engcobo-diptenkkomitee bedryf word, binne drie jaar sowat R30 miljoen uit veeverkope sal kan verdien.

Volgens Oberem besit kommunale boere byna 50% van die nasionale ekstensiewe kudde, maar lewer slegs 10% van die land se vleis. Engcobo het 50 000 beeste, 450 000 skape en 25 000 bokke. Dit vorm ’n bate van R1 miljard vir die 6 000 boere wat die gebied se 66 kommunale diptenks gebruik.

vaardighede

Hy meen ’n groot deel van die probleem is dat kleinboere sukkel om die regte produkte op die regte tyd te bekom. Hulle kan dus nie siektes, soos tuberkulose, brucellose, hondsdolheid, varklintwurms en parasiete, bekamp nie. Boere het dikwels net 24 uur om te reageer wanneer hul diere simptome van siektes begin toon. Daarna kan gewoonlik min gedoen word om die dier te behandel of om verspreiding te voorkom.

“Ons wil ’n groep werklose mense toerus met kennis en vaardighede om veemiddels en entstowwe toe te dien. Toegang tot veemiddels sonder die nodige vaardighede is gevaarlik, maar die nodige vaardighede sonder die regte middels beteken ook niks. Albei hierdie struikelblokke moet oorkom word. Dit kan alles by die dipkrale gedoen word wanneer die boere hul vee kom dip,” sê Oberem.

opheffing

Hy verwag dat die program ook die sosiaal-ekonomiese omstandighede in die gebied kan verbeter danksy die bykomende inkomste. Die program sal in die distrik Engcobo begin word, maar die plan is om dit mettertyd ook elders in die provinsie in werking te stel