Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy Desemberverslag van siektes en toestande wat deur lede van die liggaam aangemeld is, skape met knoppieswurm is by Steynsburg in die Vrystaat aangemeld. Sy raad aan boere is om na tekens van besmetting op te let. “Ondersoek elke dier wat geslag word of gevrek het vir knoppies in die derms. Vir verdere raad moet hulle ’n veearts raadpleeg.”

Daar was ook ernstige gevalle van maagwerking by lammers en kalwers in talle streke. In baie van die gevalle was Cryptosporidium en patogeniese stamme van Escherichia coli die sondaars. Daar is geen entstof of geregistreerde behandeling vir Cryptosporidium nie. Diere met ’n goed ontwikkelde immuunstelsel kan die terugslag mettertyd te bowe kom.

Bosluisbesmetting neem ook toe sedert dit begin reën het. Veral bloubosluise is gevaarlik omdat dit rooiwater, anaplasmose en knopvelsiekte na vee oordra. Daarom moet boere goed aandag aan die gebruik van veemiddels gee sodat weerstand nie opbou nie. Hulle moet ook net vee koop wat nié weerstandig is nie.

Malan vermaan boere om hul vee nou teen slenkdalkoors in te ent aangesien dié ernstige siekte deur insekte oorgedra word wat erg toegeneem het sedert dit in talle streke begin reën het. Veral muskiete vier nou hoogty en is die sondaars wat slenkdalkoors oordra.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het veeboere ook daaraan herinner om hul beeste, skape en bokke teen slenkdalkoors in te ent. Benewens veeverliese kan die siekte na mense oorgedra word as hulle met bloed of ander liggaamsvloeistowwe van besmette diere in aanraking kom.

Lewende entstof wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte vervaardig word, word gebruik om nie-dragtige vee in te ent, terwyl dooie, geïnaktiveerde entstof vir diere gebruik moet word as hulle dragtig is.

Enige boer wat vermoed slenkdalkoors het op sy plaas voorgekom, moet sy naaste staatsveearts dadelik in kennis stel.

Klik hier om te sien watter ander siektes is in Desember by Ruvasa aangemeld.