Dr. Cobus Oberholster, hoofbestuurder vir vee, eiendomme en afslaers by BKB, skryf die optimisme van telers en rooivleisprodusente toe aan die goeie reën wat in die sentrale dele van die land uitgesak het, asook die uitvoer van lewende skape, wat in 2020 te midde van omstredenheid na veral die Midde-Ooste begin het. Die hoër vraag na rooivleis wêreldwyd dra daartoe by.

BKB bied oor die volgende ses weke tot einde Februarie sowat 3 000 Merino- en Dohne-Merino-ramme op sowat 45 veilings aan, asook sowat 18 000 ooie en lammers wat die komponent kommersiële diere op dié veilings uitmaak. Sy waarskuwing aan telers is dat gehalte ’n voorvereiste vir goeie pryse is. “As jy nie diere van topgehalte aanbied nie, gaan die kopers jou ’n pak slae gee.”

Intussen gaan BKB voort met sy weeklikse stoorlamveilings wat sedert ’n jaar gelede digitaal vanuit die Cradock-kantoor aangebied word. Die dryfveer vir die optimisme oor dié veilings is die reën wat in die Sentraal-Karoo, veral wes van Cradock aangeteken is.

Oberholster is versigtig om vaste prysvoorspellings te maak, maar sê die vraag na kleinvee is hoog. “Daar is baie kopers in die Vrystaat en Mpumalanga waar die weiveld goed herstel het en oesreste beskikbaar is. Daar skort tans niks met die aanbod van kleinvee nie.”

Pryse op veilings in Augustus en September 2020 in die sentrale dele en die Suid- en Wes-Kaap, waar die klem veral op Dohne-Merino’s geval het, was bogemiddeld hoog. “Die verwagting is dat dieselfde vlakke van aanbod en hoë pryse vir diere van gehalte vanjaar voortgesit sal word.”

Dit is nog onduidelik hoe die handel in groot- en kleinvee uit Namibië die plaaslike mark sal raak. Aangesien Suid-Afrika tradisioneel skaapvleis invoer en groot volumes uit Namibië plaaslik verhandel word, kan die bogemiddelde hoë reënval in Suid-Namibië die aanbod van beeste en lammers op die plaaslike mark raak. Die aanbod kan afneem as die Namibiërs nou ’n fase van kuddebou betree.

Daar is ook gissings dat ’n voerkraal en abattoir vir Suid-Namibië beoog word vir dié land se verwerkte vleis wat aan die naspeurbaarheidsnorme van die Europese en Amerikaanse markte voldoen.

“Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrika nou sy naspeurbaarheidsnorme vir die rooivleisbedryf ingestel moet kry vir groter deelname aan die buitelandse mark,” waarsku Oberholster.