Op Hoëveldse suurgrasweiding is daar geen alternatief vir aangepaste beeste nie, anders kom hulle nie die mas gedurende die winter op wanneer die gras min en die voedingswaarde laag is nie. Boere wat ook mielies verbou en dus oesreste vir hul beeste het, kom nog reg, maar diegene sonder hierdie luukse moet ’n ander plan maak.

Die aanbevole teelbeleid vir Hoëveldse toestande verg dus beeste wat by dié toestande aangepas is, hul kondisie tot ’n mate behou én reproduseer, gewoonlik net met ’n lek om ’n voedingstekort by die koeie te voorkom. Met die teel van sulke beeste speel aangepaste bulle ’n deurslaggewende rol, en dít is die grootste waarde van klipharde veldbulle. Dit is danksy die rol wat veldbulklubs speel om bulle in veldtoestande te evalueer en net die beste, aangepaste bulle te keur.

Mnr. Charles Greyling, ’n sakeman en deeltydse boer van die plaas Mara in die distrik Cornelia in die Noordoos-Vrystaat, is ’n lid van die Vrede-bulteelgroep. “Veldbulle het my gebring waar ek vandag met die vleisbeesboerdery staan.”

Hy boer met rooi vleisbeeste wat hy Rooivelders noem; ’n tipe Bovelder. Dit is nie ’n erkende ras nie, maar is as handelsmerk by die nasionale departement van handel en nywerheid geregistreer. “Deur my kudde aan ’n handelsmerk te koppel, beklemtoon ek gehalte en spesifieke fenotipiese eienskappe, asook die bepaalde eienskappe van ’n kudde. Hoewel dit vir my ’n alternatief tot SA Stamboek is, pas ek stoetteling se dissiplines deurgaans toe, soos visuele keuring van teelverse, asook netjiese brandmerke en onthoorning.”

Dié mediumraambees het goeie vleiseienskappe, is gehard en het ’n hoë vrugbaarheid, danksy die effense kleiner raamtipe. Hulle gedy in ekstensiewe toestande op suurgrasweiding. “Hulle word nie gepamperlang nie en behou deur die jaar ’n goeie kondisie met min lek. In die somer kry hulle soutfosfaatlek en in die winter onderhoudslek. Dit gaan oor kostebeheer. As sakeman weet ek enige besigheid gaan oor wins. Die inkomste moet die uitgawes oortref om wins te maak, en dit doen ek met beeste wat ’n lae onderhoudskoste het en in ekstensiewe toestande goed aanpas en reproduseer.”

Snap REGTE KONSEP

Greyling skryf ’n groot deel van sy sukses aan die gebruik van veldbulle toe. Alles het begin verander toe hy die konsep van veldgenetika gesnap het.

“Dr. Hannes Dreyer, stigter van ons veldbulklub, meet die dinge wat vir die beesboer saak maak: prestasie op veldgras danksy ’n lae onderhoudsfaktor. Omdat die klem by die veldbulklub op die regte eienskappe soos kondisie en bespiering is, kry die vroulike diere déúr die veldbulle ook daardie voordeel. Dis soos om al jou eende in ’n ry te plaas; dus al die eienskappe wat vir ’n kommersiële beesboer saak maak,” sê hy. “Hierdie konsep is nie moeilik om te verstaan nie. Hou alles eenvoudig. Enige beesboer kan hom daarmee vereenselwig.”

Die baie data in die stoetveebedryf lyk soms intimiderend. Greyling soek nie sóveel data nie, maar wil ’n funksionele dier teel wat winsgewend in ’n natuurlike omgewing is. Omdat hy hierdie beleid toepas, neem die gehalte van sy kudde toe.

Bewyse van sy vordering is: Die styging in die dragtigheidsyfer van byvoorbeeld vervangingsverse. Daling in die lekrekening, veral gedurende die winter. Radikale verbetering in kondisietelling. Daling in vrektes tydens geboorte, wat direk toegeskryf kan word aan pelvismetings van veldbulle tydens die toetsfase. Algemene verbetering van die vroulike kudde met verloop van tyd.

Misken nie genetika

Dit beteken nie Greyling misken die belangrikheid van genetiese vordering nie, maar hy spits hom toe op die belangrikste faktor: Gaan hy wins maak met die bees wat hy geteel het?

Daarom plaas hy klem op die regte genetiese eienskappe van ’n bul wat hy ook na sy nageslag oordra, waarvan maklike geboortes en vrugbaarheid uiters belangrik is. Die koeie moet elke jaar dragtig word en sonder bystand kan kalf, omdat Greyling nie aldag op die plaas is nie. Dus gebruik hy bulle wat daardie genetiese agtergrond het, maar as kommersiële teler konsentreer hy veral op die winsfaktor.

“Ek boer in ekstensiewe toestande waar ek nie die voordeel van mielies of oesreste het nie. My beeste moet op gras oorleef, groei en reproduseer.” Organiese vleis is juis die soort pro- teïen wat veld wen in ’n wêreld waar die verbruiker koning kraai en baie goed na gesonde produkte kyk.

PAD NA SUKSES

Greyling is ’n versekeringsmakelaar en het die plaas in 2000 gekoop. “My liefde vir boerdery kom van ’n ouditeur met ’n beesstoetery wat ek vir my boekhouding gebruik het. Later het ek, hy en nóg ’n aandeelhouer, ’n prokureur, elk ’n derde aandeel in die boerdery gehad. “Toe ek later my eie plaas koop, het ek my aandeel verkoop en my beeste hierheen gebring.”

Sedert hy sy eerste bulle in 2009 by die Vrede-bulteelgroep ingeskryf het, het hy stelselmatig vordering getoon met die gehalte bulle wat hy teel. Sukses is egter nie oornag moontlik nie. Trouens, aanvanklik kon hy geen verbetering opmerk nie, maar hy het besef hy moet geduldig wees.

Greyling reken dit kos sowat tien jaar om goeie teelmateriaal te vestig as ’n boer nie nuwe teelmateriaal wil koop nie, maar dit eerder sélf wil teel. Hy wou vinniger vorder en huiwer nie om goeie bulle te koop nie.

Perfekte verse

“Ek het gedroom om die perfekte verse te teel en dit was my gelukkig mettertyd beskore.”

Greyling gee sy suksesresep:

Observeer. Hy bestee baie tyd tussen die beeste, “met my voete in die gras”, om te kyk watter koeie goeie moeders is. Hy let ook op na die betrokke kamp se toestand en beskikbare voeding, want dit het ’n wesentlike invloed op die boerdery. Dit kan alles waargeneem word deur gereeld tussen die koeie rond te beweeg.

Evalueer. Hy maak deurgaans notas van sy waarnemings, evalueer dit en kan dan tydige regstellings maak, byvoorbeeld voeding as die kamp nie meer genoeg gras het nie, of ’n lek as die veldtoestand begin verswak. Let veral op na vroulike diere wat kondisie verloor.

Elimineer. Elimineer diere, boerdery- metodes, bestuurswyses en voeding as dit nodig is. Dit sluit alles in wat ongunstig op die beeskudde inwerk, soos ’n swak temperament of draadspringer.

Presteer. Dié vier stappe gee aanleiding tot die vyfde stap, naamlik om te presteer. “Ek het dit nêrens gelees of gehoor nie, maar self agtergekom hoe ek te werk moet gaan om die perfekte beeste te teel.”

Mnr. Charles Greyling
Dr. Hannes Dreyer Foto’s: Charl van Rooyen

Teel speenkalwers

Sy inkomste is hoofsaaklik uit: Bemarking van speenbulle vanaf die ma aan voerkrale. Bulletjies met potensiaal word vir die veldbultoets ingeskryf. Verkoop van teelbulle op die jaarlikse Frankfort-veldbulveiling in Julie. Vroulike diere wat op verskillende produksiestadiums vanaf die plaas aan gevestigde telers verkoop word na gelang van beskikbaarheid en behoefte.

Greyling volg twee dekseisoene: ’n somerseisoen van middel Desember tot middel Maart, en ’n winterseisoen in Junie en Julie. Verse word op gemiddeld 16 maande vir die eerste keer gedek. Die kalwers word op sewe tot agt maande gespeen. Omdat hy ekstensief met mediumraam koeie sonder byvoeding buiten lekke boer, is die speengewig gemiddeld 195 kg-210 kg.

Liries oor etos

Hy raak liries oor die etos in die veldbulgemeenskap, en sê almal is eerlik met mekaar en “ons harte klop op dieselfde manier”.

“Hannes bestuur die klub en sy lede uitstekend. Elke deelnemer ding met homself mee, terwyl hy sy diere ook met die ander deelnemers s’n kan vergelyk. Dit stel ons in staat om te bepaal waar ons tekortskiet, byvoorbeeld as ons té groot diere teel of as hul nageslag nie genoeg melk vir die kalwers het nie. Dan kan ons uit die aanbod van veldbulle op die jaarlikse klubveiling dié bulle kies wat daardie eienskappe sal verbeter.”

Greyling som sy teelbeleid op: “Ek noem dit KISS; keep it simple, stupid!” Boer dus eenvoudig, konsentreer op die ekonomiese faktore en maak wins.

Veldbulklubs het hulself bewys

Dit lei geen twyfel nie dat veldbulle ’n uiters belangrike rol in kommersiële beesboerdery speel en dat veldbulklubs hul waarde onteenseglik bewys het. Meer as 5 000 bulle word jaarliks oor die hele Suid-Afrika getoets.

Dr. Hannes Dreyer, onafhanklike veekundige raadgewer van Vrede, is die stigter en verantwoordelike beampte van die oudste veldbulklub in Suid-Afrika, die Oos-Vrystaatse veldbulklub.

Dreyer is ook die stigter van die Vrede-bulteelgroep, wat in die 1990’s ontstaan het toe hy en ’n groep kommersiële vleisbeesboere ’n leiersgroep gevorm het om self bulle goedkoper te teel, en te verseker dat hulle nie te vet is nie en by die klipharde, Hoëveldse suurveldtoestande aangepas is.

Dit het spoedig tot drie afsonderlike groepe gelei: die rooibeesgroep (waaronder rooi kruisrasbeeste), grasveldgroep en Simmentaler-groep. Dié groepe is later saamgevoeg. Aan die begin is die bulle op mnr. Martin Tromp se plaas, Paardenplaat, by Vrede getoets. Die projek is vyf jaar gelede na die plaas Malta van mnr. Jacques Jansen van Rensburg verskuif, waar die bulle deur Jansen van Rensburg en mnr. Marco Tromp (Martin se seun) bestuur word. Albei boer met vee en graan en is vertroud met boerderytoestande by Vrede.

Bulle van ongeveer ’n jaar oud word ingeskryf om vir 180-200 dae op die veld getoets te word. Dit begin in Augustus en duur tot middel Maart. Vir die mees onlangse inname het 25 boere altesaam 202 bulle ingeskryf. Die getal bulle per teler wissel na gelang van die beesboere se behoefte. Die huidige toetsgroep wissel van twee tot 28 bulle per eienaar. Ná afloop van die toets keur twee onafhanklike persone die bulle visueel, met inagneming van die veldbuldata.

Die telers is by, sodat hulle bulle vrywillig onder mekaar kan uitruil indien hulle dit verkies. Die meeste eienaars gebruik egter hul bulle ná die veldtoets eers self vir ’n jaar om waarde uit dié voortreflike bulle te put. Daarna word die bulle ná keuring op Frankfort se Makiti-veiling te koop aangebied. Bulle is dan drie of vier jaar oud.

Veldbulle se waarde

Veldaangepaste bulle is baie waardevol vir beesboere. Die veldbulstelsel help boere om net die beste, aangepaste bulle te gebruik, ongeag hul boerderytoestande. Groot klem word op funksionele doeltreffendheid gelê, sodat boere die beste waarde vir die geld kry wat hulle aan die bulle bestee en hul kudde kan verbeter.

Dreyer het ook ’n leidende rol gespeel om Veldbul-Ram SA (VBRSA) te stig, wat oorkoepelend ’n wakende ogie oor veldbul- en veldramklubs hou, en seker maak die standaarde word deurgaans gehandhaaf. Daar is nou verskeie veldbulklubs in Suider-Afrika, en meer as 5 000 bulle word jaarliks ingevolge ’n eenvormige stel reëls getoets. Daar is ook ’n veldbulklub in Namibië wat met Dreyer se hulp gestig is.

Ekonomiese indeks

VBRSA stel twee vereistes vir bulle wat vir die veldbultoets aanvaar word: Hulle moenie van kleins af baie kragvoer kry nie, maar genoeg ruvoer sodat die grootpens goed kan ontwikkel. ’n Bul moet in Maart of April gespeen word (op 7-8 maande) en van September of Oktober tot Maart of April die volgende jaar getoets word. Die bulle is ongeveer 18 maande oud wanneer die toets afgehandel is, en is gereed om met die volgende dekseisoen koeie te dek.

Die volgende eienskappe word gemeet: groei op die veld, temperament, kondisie, haarbedekking, bespiering en gesondheid. Opsioneel kan bosluistellings geneem word. Die bulle word maandeliks geweeg. Elkeen kry ook ’n punt op ’n skaal van 1-9 vir temperament, kondisie, hare en bespiering (onderskeidelik vir rug, agterkwart en voorkwart).

Met die afsluiting van die veldtoets word elke bul se skrotumomtrek en inwendige pelvisgrootte gemeet. Hierdie data en die syfers oor die ander metings en wegings word verwerk, en ’n waarde word aan elke eienskap toegeken. Op grond van dié waardes word ’n ekonomiese indeks vir elke bul bereken.

Die bulle word dan ingevolge ’n ABC-stelsel gekeur: A-bulle is die beste bulle, B-bulle is gemiddeld en C-bulle word uitgeskot. Die A-bulle word met die veldbulmerk gebrandmerk en die B-bulle met die letter B. Die C-bulle word nie gebrandmerk nie en moet verkieslik geslag word. Gewoonlik word ’n derde van die bulle in ’n veldbultoets as A-bulle, ’n derde as B-bulle en ’n derde as C-bulle geklassifiseer. In die laaste paar toetse was die helfte egter A-bulle, omdat die kuddes verbeter en die boere beter bulle inskryf.

: ’n Topklas Rooivelder-koei. Die gebruik van hoogstaande veldbulle speel ’n belangrike rol in die teel van sulke goeie koeie. Greyling het die Rooivelder as handelsmerk by die departement van handel en nywerheid =geregistreer.
Mnre. Marco Tromp (links) en Jacques Jansen van Rensburg, wat die veldbultoets bestuur, by ’n trop bulle wat geëvalueer word. Albei boer met vee en graan is vertroud met die toestande by Vrede.
Van die swaarder bulle in die veldtoets. Die veldtoets duur 180-200 dae.

Benut veldbulle

Die veldbulklub beveel aan dat sy lede die bulle daarna self ’n jaar lank gebruik om waarde uit hulle te kry, en hulle dan op drie jaar verkoop. Teen daardie tyd is die volgende bulle reeds getoets, gekeur en ekonomiese indekse is bereken. Vrede se veldbulklub toets slegs kommer- siële bulle.

“Die beesbedryf is besig om te verander, en die groot kommersiële beesboere word al hoe groter. Meer van hulle neem aan veldbultoetse deel om bekostigbare, aangepaste bulle te produseer. ’n Boer met 1 000 koeie kan in die meeste gevalle beter bulle selekteer as ’n stoetboer met net 50 koeie. Baie van die telers wat deelneem, toets die res van hul bulle wat nie vir die veldbultoets ingeskryf word nie, self op die plaas volgens dieselfde beginsels as wat ons gebruik,” sê Dreyer.

Deelname aan die veldbulklub se toets behels ’n uitgawe vir die boer. ’n Bul groei egter met 120 kg-150 kg gedurende die toets en dié gewigs- en waardetoename vergoed dubbel en dwars vir die koste. As ’n boer net een A-bul uit die toets kry, kanselleer dit die koste uit. Hy kan die bul boonop ’n jaar lank gebruik om ’n voortreflike nageslag te verwek voordat hy die bul kan verkoop.

Dreyer sê danksy die groot getal bulle wat vir die 2018-’19-toets ingeskryf is, is die diere in twee gewigsgroepe ingedeel om die bestuur makliker te maak, naamlik ligter as 250 kg en swaarder as 250 kg. Ondanks die droogte het sommige bulle in die ligter groep oor die toetstydperk van 200 dae meer as 1 kg per dag gegroei.

Bestuur bulle só

Tromp sê hy en Jansen van Rensburg keur die bulle op die eienaar se plaas as die eienaar dit so verkies. Ander boere keur hul bulle self. Al die bulle kom oor ’n tydperk van ’n maand op Malta aan, waar die toets gedoen word. Die bulle word dan vir drie weke tot einde Julie op die veld aangepas nadat hulle vir spons-, milt- en lamsiekte en ander siektes ingeënt en gedip is.

Die toets begin aan die begin van Augustus. In die winter (Augustus en September) kry die bulle ’n onderhoudslek, en gedurende die somermaande ’n sout-fosfaatlek met ’n bietjie proteïen by. Van Februarie af, wanneer die weiding in dié suurveldtoestande begin verswak, kry hulle vir die laaste twee maande ’n kondisielek.

Die veldweiding word gedurende die kouer maande met Eragrostis-hooi aangevul. Die veld word oorwegend deur rooigras, taaipol en ’n bietjie fyntamboekiegras gekenmerk. Die bulle word gereeld van kamp tot kamp verskuif.

Wanneer daar twee groepe bulle is, word hulle oor en weer verskuif sodat almal dieselfde kampe benut om te verseker almal kry dieselfde voeding. Die tydperk wat ’n kamp bewei word, hang van die veldtoestand en reënval af. ’n Styging in die lekinname wys duidelik wanneer die diere na die volgende kamp verskuif moet word. Die bulle word maandeliks geweeg.

Jansen van Rensburg sê hulle kyk minstens weekliks vir sigbare siektetekens en oogprobleme wat deur vlieë veroorsaak word. Hulle is nietemin deurentyd by die bulle. Daar is ’n permanente veewagter by die beeste en hy is goed onderrig om siek bulle uit te ken en aan te meld.

Die beeste word ook weekliks getel. Daar is gelukkig nie ’n diefstalprobleem nie, en oor al die jare is nog net een bul gesteel. As hulle wilde bulle teëkom, word die eienaar gevra om dié diere te gaan haal, want dit word nie geduld nie. Die ander bulle leer vinnig ’n bul met ’n swak temperament se maniere aan. 

Navrae: Dr. Hannes Dreyer, e-pos: hannescjdreyer@gmail.com; 082 823 1045.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.