Dr. Kobus Delport, rasdirekteur van die genootskap, sê dié besluit volg nadat die groen lig vir die veiling vroeër verkry is met die voorbehoud dat die veilingdiere 28 dae ná die byeenkoms in kwarantyn sou bly voordat hulle uit die stad vervoer word. Die aanvanklike reëling was dat die 31 voorste Dohne-Merino-ramme van die land se beste telers onder veeartstoesig by Ramsem en Gene Co onder kwarantyn aangehou word. 

Volgens Delport het dr. Mpho Maja, hoof van die departement landbou se afdeling dieregesondheid, gelas dat die veiling met vier tot ses weke uitgestel word. “Die praktiese uitwerking van dié maatreël sou wees dat die topteelmateriaal van die veiling nie in die huidige paarseisoen beskikbaar sou wees nie,” sê Delport. 

Die genootskap en die afslaer, mnr. Gert Jordaan van BKB, het vier weke gelede reeds toestemming vir die voorwaardelike aanbied van die veiling van die staatsveearts in Bloemfontein, asook die bestuur van die Vrystaatse departement veeartsenydienste verkry. 

“Top-ramme het in die verlede pryse van meer as R300 000 op die veiling behaal. Die afstel van die veiling het dus ’n groot finansiële impak vir die Dohne-Merinobedryf. Hierdie ramme word tans deur die 11 deelnemende telers uit die Oos-, Suid- en Wes-Kaap, asook die Vrystaat en KwaZulu-Natal uit die hand bemark.” 

Die genootskap se jaarvergadering is op 18 Februarie in Bloemfontein. 

Die genootskap gaan voort om die tweejaarlikse streekwenners van sy nasionale Bobaasteler van die Jaar aan te wys. 

Vanjaar se streekwenners is mnre. Frans Marx en sy seun Andries (FEM-Dohne’s by Burgersdorp; Oos-Kaap), Marius van Heerden (namens die Grootfonteinse Dohne-Merinostoetery by Middelburg; Oos-Kaap), Boeta Wessels (Weska-Dohne’s, Bredasdorp; Wes-Kaap), me. Marcellene van Rooyen (Mullersvlei-Dohne’s, Calvinia; Wes-Kaap), mnre. Freddie Schmidt en sy seun Mark (Kromspruit-Dohne’s, Memel; Oos-Vrystaat en KwaZulu-Natal) en Louis Nel en sy oom Carel Nel (Nello-Dohne’s, Brandfort; Vrystaat). Die genootskap se bobaasteler sal in 2021 uit hul geledere aangewys word.