Moenie dink volstruisvere is net vir die karnaval in Rio, die Moulin Rouge se hoogskopdansers of jou uitstaphoed nie... Toe Anna Wintour, redakteur van die modetydskrif Vogue, in Mei verlede jaar in ’n pienk rok met blinkers en ’n pienk-en-swart volstruisveermantel by die groot mode-okkasie die Met Gala in New York opgedaag het, het die media gegons.

Daardeur het sy onwetend ’n lansie gebreek vir die volstruisboere wat nog spogpluime oes, sê mnr. Laubscher Coetzee van Kandrift Boerdery by Oudtshoorn. Al het volstruisvere nog nooit weer so baie geld in die Klein-Karoo ingebring soos die volstruisoplewings van 1865-1870 en 1900-1914 nie, ry dit soos enige bedryf wat van modegiere afhanklik is, golwe van gewildheid.

Mode-ontwerpers gebruik vere omdat dit feitlik gewigloos is en glans aan uitrustings verleen. Dit is uit die aard van die saak een van die bedrywe in die visier van Peta, ’n organisasie wat hom vir die etiese behandeling van diere beywer.

Laubscher sê hy kon gelukkig onlangs afgevaardigdes van die Franse modehuis Hermès met ’n veeroesdemonstrasie daarvan oortuig dat ryp vere in elk geval sou uitval en volhoubaar geoes word, amper soos om ’n skaap te skeer. Die droogte, asook reëls en vereistes vir volstruisboerdery wat boere deesdae in reaksie op voëlgriep moet nakom, het baie van hulle laat tou opgooi.

Mnre. Jacques (links) en Laubscher Coetzee wys Kandrift Boerdery se spogvere. FOTO: ELMARIE COETZEE
Die uiteinde van die harde werk in die broeikamers is die dag wanneer kuikengroot­makers soos mnr. Kobus Snyman (links) van Merweville die kuikens kom haal. Hy voer die kuikens tot hulle 45 kg weeg en verkoop hulle dan aan ’n slagter. Party van hulle bly tot slagouderdom. Mnr. Izak (Seun) Witbooi help hom om die kuikens in kratte oor te pak vir die lang rit Merweville toe.
Die meeste volstruiskuikens kan hulself uit hul dop pik, maar die res moet gehelp word of lewe nie meer nie. In broeityd sit mnr. Laubscher Coetzee douvoordag in die broeikamer en kyk hoe die kuikens lê en of hulle nog lewe. As hulle nog lewe, kap hy die dop met ’n hamertjie en breek die vlies om die kuiken sodat die kuiken kan asemhaal. Sodra die kuikens kan asemhaal, kruip hulle uit die dop en begin rondbeweeg.

“Toe die volstruisbedryf op sy hoogtepunt was, het ons 300 000 voëls per jaar geslag. Verlede jaar is net 100 000 geslag.” Deur dié skaarsheid, en omdat die Coetzees tussen die hoogte- en laagtepunte van vraag en aanbod en veer-, vleis- en leerpryse altyd vir veergehalte geteel het, behaal hul vere nou hoë pryse. Goeie teelmateriaal is skaars en hul dagoudkuikens is in aanvraag.

“Ons kan hier eintlik net met volstruise boer, want ons grond is te klein vir skape. Omdat ons wyd binne die volstruisvertakking gediversifiseer is en veral op vere konsentreer, verdien ons twee tot drie keer meer as wat ons sou kry as ons net slagvolstruise gehad het.”

Laubscher sê volstruise se vere kan elke agt maande geoes word. “As jy goed vir vere verdien, betaal dit vir die uitbroei van die eiers en jou kuikenverkope is ’n goeie wins.” Goeie pryse word nie vir enige vere betaal nie. “My pa het altyd gesê ’n veer moet lengte en breedte hê en dit moet ’n skag hê. Wanneer jy die veer optel, moet dit regop staan sodat jy kan sien wat sy lengte is.”

‘KYK NA JOU VERE’

Laubscher is die vierde en sy jongste seun, Jacques, die vyfde geslag in hul familie wat met volstruise boer. Jacques sê toe volstruisvleispryse hoog was, het baie boere kruisteling met Zimbabwe- en Kenia Red-volstruise gedoen om groter voëls te teel en van hul verevoëls ontslae geraak. Die hoë vleispryse het ongelukkig nie baie lank gehou nie.

Die Coetzees het die afgelope paar jaar groot veranderinge in hul boerdery aangebring om hul volstruisvertakking glad te laat verloop. Benewens volstruise wat vir vere geteel is, is dit ook belangrik om na die vere om te sien, sê Laubscher.

“Kyk na jou vere, dip jou vere teen veerluise en veermyte en oes tydig sodat daar nie te veel slytasie op die vere is nie. Maak ook seker dat die volstruise nie teen die drade skuur nie.” Hy sê as jy alles reg doen, kan jy R3 250 per kop vir vere verdien.

Hy lewer sy vere aan mnr. John Lourens van BKM Vere op Oudtshoorn wat dit per tender aan kopers aanbied. Volstruisvere word per gewig en per kategorie verkoop.

Buiten die vere wat aan mode-ontwerpers verkoop word, koop motorvervaardigers in Suid-Korea baie vere wat hulle op rollers vassit om die bakwerk van nuwe voertuie stadig af te stof. Dit skep ’n lading op die bakwerk en help dat die spuitverf baie beter vaskleef.

INGERIG VIR VOLSTRUISE

Om seker te maak elke vertakking van die volstruisboerdery kry intensiewe aandag, het die Coetzees die broei- en kuikengrootmaakafdelings tussen hulle verdeel. Laubscher behartig die uitbroei van die eiers en die verkope van dagoudkuikens, en Jacques maak die kuikens groot en sorg dat veergehalte gehandhaaf word.

Die afgelope drie droë jare het die lusernbedryf in die Klein-Karoo erg geknou. Boere moet lusern inkoop en kan nie juis saad oes nie.
Anna Wintour, redakteur van die Amerikaanse modetydskrif Vogue, in haar veelbesproke volstruisveermantel by die Met Gala in 2019.

“Ons betrokkenheid bepaal tot groot mate ons sukses. My pa het my geleer dit help nie jy probeer uit die bakkie boer nie. Jy moet weet wat aangaan en jou werkers moet sien jy weet, want onmiddellik werk hulle op ’n hoër vlak.” Hul boerdery word oor verskillende plase bedryf sodat alle vertakkings nie op een plek plaasvind nie.

EIERS EN BROEITYD

Van einde April af is dit volstruisbroeityd by Kandrift Boerdery. Die broeivoëls loop in groepe van vier mannetjies en ses wyfies in klein kampies of meer in groter kampe. In die koeler maande haal personeel in spesiale drag wat hul hande en die voertuie ontsmet het, op Maandae, Woensdae en Vrydae eiers uit.

Jacques sê in die warm maande is dit elke dag omdat hulle nie wil hê die eiers moet begin uitbroei nie.

“Ons het twee bakkies met drie manne op ’n bakkie wat die neste deurwerk en die kampnommer op elke eier skryf. Die bakkies moet baie stadig beweeg sodat die eiers nie skud nie.” Laubscher sê as die eiers by die broeikamers aankom, word hulle in ’n spesiale ontsmetmiddel gewas en ’n week lank onder 20 °C in ’n rak geberg.

Daarna word die eiers wat in trollies met ’n roteerapparaat gepak is, vir vyf weke in broeikaste in die aanbroeikamer geplaas. Die roteerapparaat draai die eiers elke uur deur ’n hoek van 90 grade.

“Vroeër jare met die ou houtbroeikaste is die eiers met die hand gedraai. Dit het nadele gehad, veral wat higiëne betref. Dit is baie belangrik om die eiers te draai. Die oumense het altyd gesê die eiers word ‘deurgelê’ as jy dit nie gereeld draai nie.” Laubscher skryf hul broeisukses toe aan die streng higiëne wat hulle handhaaf en die feit dat net hy en mnr. Izak (Seun) Witbooi in die broeikamer kom.

“Hy neem volle verantwoordelikheid vir die eiers.” ’n Wyfie kan gemiddeld 60 eiers in ’n seisoen lê en 35 kuikens lewer. Hoewel hulle gewoonlik net vir sewe maande broei, kan die Coetzees die broeiseisoen rek omdat hul volstruise in ’n goeie kondisie gehou word met genoeg regte voeding. Hulle gebruik die voerformulasie wat dr. Fanus Cilliers van Camelus Voere op Oudtshoorn ontwikkel het.

Jacques sê hy wyk nie van Cilliers se kaart af nie. “Ek volg dit presies. Ek dink meeste kuikengrootmakers doen dit. Cilliers stel die standaarde hoog.” Laubscher sê die eerste plek waar ’n volstruis wys of die voer reg is of nie, is die hoeveelheid doppe wat hy by die broeikas uitgooi.

“Daardie kalsium moet uit die wyfie se liggaam kom. As die voeding nie goed is nie, hou haar beenstruktuur dit nie. Onthou, ’n mannetjie wat 130-140 kg weeg, klim op die wyfie om te paar. Trap hy haar rug af, staan sy nie weer op nie.”

BLOEDLYNE ‘OOR JARE GETEEL’

Aan die produsentekant is daar meer as 100 veerprodusente, maar die koperkant is geslote, met ’n paar families wat die verebedryf beheer. Boonop is hul graderingstelsel vir volstruisvere moeilik verstaanbaar, “met ’n klomp kodes oor verskillende veertipes en veerlyne”, sê mnr. John Lourens van BKM Vere op Oudtshoorn.

“Van die mense sê daar is meer as 250 verskillende graderings en lyne.” ’n Boer wat vere oes, haal net sowat sewe tot nege “boerlyne” van sy volstruise af en bind dit saam. ’n Verwerker gradeer die vere, sorteer dit volgens grootte en was dit indien nodig. Wat egter seker is, is dat vere van die hoogste gehalte die beste pryse behaal.

“Die Coetzees is van die beste veerprodusente. Hul bloedlyne is oor jare geteel en dit is baie goeie lyne. Hulle kry bogemiddelde pryse vir hul vere omdat dit in die hoogste kategorie val,” sê Lourens. BKM Vere bedryf ’n tenderstelsel vir volstruisvere deur ’n platform op Oudtshoorn waar boere se vere vertoon kan word.

“Ons maak die vere ’n bietjie mooier sodat kopers dit kan besigtig en ’n prys maak. Elke boer se vere het ’n nommer, nie ’n naam nie, en die kopers betaal net volgens gehalte.” Lourens sê BKM Vere bied ’n diens aan volstruisboere met spanne wat vere oes, bloed trek, ent en identifiseer om die volstruise veilig vir eet te verklaar.

Lourens bied 40 tot 45 tenders per jaar. Hy is ook by die res van die volstruiswaardeketting betrokke. Lourens en mnre. Joey en Dirkie Potgieter van Oudtshoorn en die Van Zyl-familie van Citrusdal bedryf World Ostrich Products, ’n groep maatskappye wat elke deel van ’n volstruis verwerk en verkoop.

Hulle maak volstruissalami, -pastrami en -macon wat aan Shoprite- Checkers en Emirates verkoop word. Van die volstruisafvalprodukte word troeteldierkos gemaak en aan troeteldierwinkels en winkels by veeartspraktyke verkoop.

DROOGTE KNOU LUSERN

Soos vele ander boerderye in die Klein-Karoo vul lusernverbouing Kandrift Boerdery se volstruisvertakking aan. Die lusernvertakking is gediversifiseer in saadproduksie, weiding vir hul volstruise en droë lusern vir hul voerkorrelfabriek.

Die droogte, wat al sedert 2016 duur, tref die lusernvertakking swaarder as die volstruise omdat alles afgeskaal is. In die waenhuis staan die platsnyers en stropers wat elke somer hard gewerk het. Die Coetzees sê egter as dit goed reën, kan die prentjie vinnig verander.

“Ons hoop nou op sowat 150 mm reën, sodat die riviere kan begin vloei en ons water in ons opgaardamme kry. As dit goed in die berge gereën het en die takriviere begin vloei, hou jou water gewoonlik.” Die voerkorrels wat die Coetzees maak, is ’n fyn broeirantsoen met alles wat ’n broeivoël nodig het, veral kalk vir die eiers se doppe.

“Dit is ’n baie duur rantsoen, maar ons moet dit gee, anders kry ons nie produksie nie.” Die Coetzees het verlede jaar baie voer gekoop. In goeie reënjare wanneer hulle baie lusern sny, maak hulle genoeg voerkorrels sodat hulle ook daarvan kan verkoop.

In sulke jare sal hulle ook fluitjiesriet in die rivier sny en verkorrel. Hierdie seisoen gaan hulle hoogstens saad oes op lande wat hulle uit ’n boorgat besproei het, en die lande naby die rivier waar die lusern ten spyte van die droogte gegroei en geblom het.

Navrae:
Mnre. Laubscher en Jacques Coetzee, 082 898 5941, John Lourens, 072 273 7314. Bykomende inligting: bit.ly/2RKmhV3; bit.ly/2rIb6Bw