Die winter is tipies ’n tyd wanneer ’n skaarsste aan goeie veldweiding in die somerreëngebiede heers. Die droogte vererger egter die situasie en boere word genoodsaak om bykomende voer te verskaf. Dit is juis waar hulle in ’n slaggat kan trap.

Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), het in sy April-verslag oor siektes en toestande wat in Suid-Afrika voorkom, nuttige wenke vir vee- en wildboere.

Luidens ’n verslag van prof. HO de Waal van die Universiteit van die Vrystaat is daar nie vooruitsigte dat weidingtoestande gedurende die winter sal verbeter nie. Boonop het die min en laat reën die watervlak in die grond laat daal. Graanoeste is klein en oesreste skaars, wat die voerskaarsste vererger.

Hy beveel aan boere moet bykomende voeding op die veld verskaf as hulle kan, waaronder lekke. Verminder die veegetalle. Hou die oorblywende vee in klein kampies met beskutting teen die elemente sodat hulle minder voer nodig het. Verskaf skoon water. Skei swakker diere van die sterker vee om mededinging by die voerbakke te voorkom.

Moenie onbeperkte hoeveelhede voer vir lang tye verskaf nie. Rantsoeneer diere volgens hul produksievlak. Moenie voer vermors deur dit op die grond uit te strooi nie, maar gee dit in bakke of op rubbermatte. Verskaf die bykomende voer net elke tweede of derde dag.

De Waal sê ruvoer is ’n belangrike basis vir herkouers. Grofgemaalde voer is op lang termyn die beste. Die energie-inhoud kan vermeerder word deur byvoorbeeld mieliemeel by te voeg en dit met ruproteïen te balanseer.

Klik hier vir die tabel waarin die siektes en toestande wat gedurende April by Ruvasa aangemeld is, opgesom is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.