Danksy dié verbeterings in doeltreffendheid het die bedryf in 2017 goed met sy eweknieë in ander groot hoenderproduserende lande vergelyk. Suid-Afrika was saam met Rusland sesde uit 16 lande in die Wageningen-universiteit en -navorsingsentrum in Nederland se jongste ontleding van verskillende hoenderbedrywe se produksiedoeltreffendheid. Die ontleding word elke twee jaar gedoen.

Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het onlangs ’n verslag met die resultate en bykomende inligting oor die plaaslike bedryf gepubliseer. Benewens verbeterings in voeromsettingsverhouding en produktiwiteit, het die plaaslike bedryf se tegniese doeltreffendheid ook verbeter rakende gemiddelde slaggewig, wat met 4,5% verbeter het, en ’n styging in plasingsdigtheid, met meer hoenders per vierkante meter behuising.

DOELTREFFEND

Wat ekonomiese doeltreffendheid betref, het die Suid-Afrikaanse prys van tipiese voerrantsoene, gemeet in euro/ton, van 2015 tot 2017 met 5% gestyg. Plaaslike hoenderprodusente se voerkoste per kilogram geproduseerde hoender was egter in 2017 2,3% laer as in 2015, danksy veranderinge in rantsoensamestelling en beter doeltreffenheid, sê BFAP. Die hoër getal hoenders per werker het ook die koste van arbeid per kilogram hoender verlaag.

Die jongste syfers bied belangrike ammunisie vir die plaaslike bedryf teen invoerders se bewerings dat hy ondoeltreffend is, en ter stawing van sy versoeke aan die regering om beskerming teen wat die bedryf as gestorte, ingevoerde hoendervleis beskou.

Die plaaslike bedryf se grootste mededingers, naamlik Europese lande, Amerika en Brasilië, se doeltreffendheid is ook deur Wageningen ontleed. “Die koste om ’n hoender in Suid-Afrika te produseer is tussen 10% en 20% laer as in die meeste lande in die Europese Unie (EU), insluitend Nederland, Duitsland, Frankryk, Brittanje, Italië, Spanje en Denemarke,” sê BFAP in ’n verklaring. Selfs die kostedoeltreffendste EU-lande, Pole en Hongarye, se produksiekoste is hoër as Suid-Afrika s’n.

VOERKOSTE

Die wêreld se twee top-hoenderproduserende lande, Brasilië en Amerika, is wel ook die lande met die laagste produksiekoste per kilogram. BFAP wys daarop dat albei dié lande surplusprodusente van belangrike voergrane en oliesaadprodukte is. Voerkoste is die grootste deel van produksiekoste.

Suid-Afrika se koste is in dié opsig effens hoër as die gemiddelde van die koste in die 16 lande wat gemeet is. Die meeste EU-lande se voerkoste is ook hoër as die gemiddelde, terwyl Turkye, Brasilië, Amerika en Argentinië s’n die laagste is.

Dr. Tracy Davids van BFAP sê wat plaaslike voerkoste in 2017 betref, was voer in die eerste kwartaal van dié jaar nog baie duur, met geelmielies wat weens die nagevolge van die 2016-droogte teen invoerpariteitsvlakke verhandel het. “Suid-Afrika se taamlik hoë voerkoste word deur die koste van onverwerkte materiale beïnvloed,” luidens BFAP se verslag.

“Suid-Afrika is tipies ’n netto uitvoerder van geelmielies, maar ’n netto invoerder van sojameel. Die hoofbron van energie in die rantsoen het gevolglik ’n mededingende prys, maar die proteïenbron is duurder as in lande soos Brasilië, Argentinië en Amerika, wat netto uitvoerders van albei produkte is.”

SLAGGEWIG

Wat voeromsettingskoers betref, het Suid-Afrika in 2017 die beste van die 16 lande presteer, maar Davids sê dis nie onverwags nie, omdat Suid-Afrika se slaggewig ook die laagste is. Suid-Afrikaanse produsente se beter voeromsettingskoers en hoër gemiddelde slaggewig dui egter op belangrike vordering in doeltreffendheid.

Die koste van dagoudkuikens word ook in die Wageningen-ontleding gebruik. Suid-Afrikaanse produsente betaal minder per kuiken as wat die gemiddelde prys in die 16 lande was, maar omdat Suid-Afrika hoenders teen ’n laer gewig slag, is die koste van dagoudkuikens per geproduseerde kilogram hoender hoër as die gemiddeld. Dit het wel van 2015 tot 2017 met 3,5% gedaal.

INVOER

Volgens BFAP is die hoenderbedryf Suid-Afrika se grootste landbousubsektor en verteenwoordig hoenderproduksie 65% van die land se vleisproduksie. Hoenderproduksie verteenwoordig ook sowat 44% van die totale voerverbruik in die land en die bedryf bied ’n beduidende aantal werkgeleenthede op verskillende vlakke van die waardeketting.

Die afgelope paar jaar het Suid-Afrikaanse hoendervleisverbruik vinnig gestyg, maar produksiegroei het gestagneer. Volgens BFAP is die belangrikste redes hiervoor die droogtejare, wat voerpryse tot rekordhoogtes laat styg het, en die stygende volume van hoendervleisinvoer, wat druk op pryse geplaas het. BFAP sê van 2000 tot 2010 het invoer 14% van die groei in verbruik opgeneem, maar 73% van 2010 tot 2017.

UITVOER

BFAP sê Suid-Afrika se 2017- produksiekoste was net 3% hoër as klein, maar belangrike uitvoer- lande soos Thailand en Argen- tinië s’n. Dit beteken as Suid-Afrika ’n klein voordeel rakende ’n tariefstruktuur of vervoerkoste geniet, kan hy met sulke lande in die uitvoermark meeding.

BFAP sê dit dui ook op moontlike geleenthede om, ingevolge die ekonomiese vennootskapsooreenkoms met die EU, borsvleis na dié streek uit te voer.

* Die volledige verslag is hier beskikbaar.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.