Vee-eienaars en diegene wat boere behulpsaam is, moet as ’n span saamwerk om die beste uitkoms te behaal. Indien die betrokke gebied ’n rampbestuursplan en -span het, is dit die beste manier om reaksies te koördineer. Indien daar nie só ’n plan is nie, behoort ’n rampbestuursplan vir die gebied ingestel te word vir toekomstige gebruik.

Vir vee hang die prognose af van die erns van die brandwonde. Dit is noodsaaklik om die assessering van die betrokke diere sistematies te doen. Gegrond op navorsing wat in Australië gedoen is, behoort diere in drie groepe ingedeel te word, naamlik diere wat lig, matig of ernstig geraak is.

DIERE WAT LIG OF MATIG GERAAK IS

Dié diere sal maklik en normaal asemhaal, met min of geen hoes of kortasemheid nie. Die diere sal maklik kan loop en normaal kan eet en drink. Hare of wol kan geskroei wees en die vel kan slegs liggies geskroei wees (eerstegraadse brandwonde) oor beperkte gedeeltes van die liggaam.

Matige, oppervlakkige brandwonde kan behandel word en as diere goeie sorg, skuiling, voer en water kry, is die prognose baie goed.

MATIGE GEVALLE

Hierdie diere kan kortasem wees, swaar asemhaal en hoes, maar steeds daartoe in staat wees om te loop, te staan en te vreet en drink. Hulle kan ernstiger wonde (tweedegraadse wonde) oor groter gedeeltes en reaktiewe onderhuidse swelling toon.

Die vel op die diere se pote kan matig geraak wees of glad nie. Hoewe kan ’n mate van skade toon. As hierdie diere behoorlik behandel en versorg word tot hulle op die pad na volkome herstel is, is hul prognose goed.

Skade aan speenopenings kan daartoe lei dat vroulike diere in die toekoms nie daartoe in staat sal wees om kalwers, lammers of boklammers te voed nie.

DIERE WAT ERNSTIG GERAAK IS

Hierdie groep sal gewoonlik ernstige asemhalingsprobleme toon en hoes weens die inasem van rook en/of nie kan loop, vreet of drink nie. Daar kan ernstige (derdegraadse) brandwonde oor verspreide areas wees, terwyl ernstige brandwonde op die laer bene ’n besonder slegte teken is.

Aangesien die prognose in dié gevalle swak is, selfs met besonder goeie behandeling, word rasionale en menswaardige genadedood aanbeveel om ’n einde aan die diere se lyding te bring.

BEHANDELING

Die toewysing van gevalle in bovermelde drie kategorieë is noodwendig ietwat subjektief en dit moet gemaak word met inagneming van die diere asook die eienaars se beste belang.

Die besluit om diere intensiewer te behandel moet geneem word met inagneming van sekere faktore. Die getal diere, die beskikbaarheid van gepaste medikasie, die aantal verantwoordelike mense wat beskikbaar is om daaglikse evaluasies en behandelings uit te voer, die koste wat betrokke is, en die waarde van die diere is alles faktore wat in ag geneem moet word.

Diere wat nie op behandeling reageer nie, moet moontlik na ’n laer kategorie toegewys en moontlik van kant gemaak word.

Behandelings sal onderhewig wees aan die besluite van veeartse, maar die volgende kan van hulp wees:

Vir ligte tot matige brandwonde moet aktuele versagmiddels, rome, wondsalf of antiseptiese middels oorweeg word. Vir ernstige wonde by baie waardevolle diere word geregistreerde produkte aanbeveel.

Sistemiese antibiotika word sterk aanbeveel vir alle gevalle waar die longe beskadig is, of waar ’n sekondêre infeksie ’n gevaar is. Baie lewens kan só gespaar word. Analgetika kan waar moontlik ingespan word om die ernstige pyn wat deur brandwonde veroorsaak word, te verlig. As ’n dier wat met analgetika behandel is, doodgaan, kan die karkas egter ’n bedreiging vir aasvoëls inhou en daarom moet daar op ’n veilige manier van die karkas ontslae geraak word.

Ondanks oënskynlike swak prognoses, kan sommige diere herstel as hulle goed versorg word en die gepaste behandeling ontvang, waaronder beskermde verbande, antiseptiese middels, beddegoed, kos en water. Die hoef kan weer binne ’n paar weke vorm, hoewel dit tot ’n mate misvorm kan wees.

NOODSLAG

Slegs lewende hawe wat aan die vleisveiligheidsregulasies voldoen ten opsigte van die vereistes vir die aanvaarding van diere vir noodslag, mag vervoer word.

Erg beseerde en onvanpaste diere mag onder geen omstandighede na abattoirs vervoer word nie, aangesien dit tot onnodige lyding en verwerping by die abattoir sal lei. Konsulteer vooraf met die naaste abattoir om te bepaal of lewende hawe gepas is vir slag. 

Prof. Gareth Bath is die voorsitter van die koördineringskomitee vir die welstand van lewende hawe (LWCC). NAVRAE: Web: lwcc.org.za

Soek jy ’n antwoord? Besoek ons webwerf vir meer as 4 000 antwoorde deur kenners in die landboubedryf.

* Gaan na Landbou.com.

* Klik op Indeks van antwoorde vir onderwerpe te kies en keur.

Wil jy graag ’n vraag vra?

* Klik op Kundiges op Landbou.com.

* Klik dan op Vra ’n vraag.