Die Sussex-beestelersgenootskap van Suid-Afrika wil sy eeufeesskou in April op hierdie wyse aanbied weens die ontwrigting wat die uitbreking van bek-en-klouseer veroorsaak.
’n Enkele beoordelaar gaan die ingeskrewe beeste op hul eienaars se plase besoek en ’n videofotograaf sal opnames maak om hom met sy besluitneming te help wanneer hy die kampioene moet aanwys.
Me. Daleen Potgieter, voorsitter van die genootskap, sê die genootskap is vanjaar honderd jaar oud en ’n groot nasionale kampioenskapskou is vir die Bloemskou beoog. Toe bek-en-klouseer in Limpopo uitbreek, moes die genootskap ander planne beraam omdat die byeenbring van beeste vanaf verskillende plase na veilings en skoue verbode is.
Potgieter het toe op die gedagte van beoordeling deur een beoordelaar en video-opnames gekom. Mnr. Ika van Niekerk, koördineerder van die eeufeesviering, het die plan help uitbou. “Ek het nog nooit van so ’n manier van beoordeling gehoor nie,” sê sy.
Mnr. Martin Seyfferdt van Bloemfontin, voormalige voorsitter en stigterslid van die interrasbeoordelaarskomitee, is aangewys om die beoordeling te behartig. Hy sal al die ingeskrewe beeste ter wille van goeie biosekerheid op die eienaars se plase beoordeel. Die wenners in die verskillende afdelings, soos die junior, senior en opperste kampioene, sal tydens die Sussex-galadinee op 30 April in Bloemfontein aangekondig word.
Potgieter verwag ongeveer 60 inskrywings van 10 telers. Hierdie plan sal voortgaan selfs al word die verbod op die verskuiwing van vee dalk opgehef.
Seyfferdt wat al in talle oorsese lande beeste beoordeel het, sê hy glo nie daar was al ooit so ’n manier van beoordeling nie. Sommige rasse het wel ’n kompetisie om wêreldkampioene aan te wys, maar die beoordeling word op foto’s geskoei, en ’n foto vertel nie altyd die hele storie van ’n dier se eienskappe nie.
Hy verwag om die plase middel Maart te begin besoek en wil die besoeke binne sowat 10 dae afhandel. Aan die einde van die besoeke behoort hy ’n goeie idee van die moontlike wenners te hê. Dan kan hy die video-opnames gebruik vir ’n finale oordeel. Die opnames sal die beeste van verskillende kante wys en ook die loopvermoë toon.
Seyfferdt sê dit gaan nie maklik wees nie, maar hy is ervare en die video’s sal hom help om die beste Sussexbeeste as wenners in die verskillende kategorieë aan te wys.
Die dinee, kongres en konferensie wat op 28 en 29 April tydens die Bloemskou gehou word, gaan ook deur gaste van oorsee bygewoon word en hulle sal na die video’s van die beeste kan kyk.Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier