Mnr. Henk Coetzee het laat weet dit is baie skaars dat ’n skaap ’n vierling kry, en dit boonop in die droogte. “Dit het Maandag darem 19 mm hier gereën, letterlik manna uit die hemel.”

Die vierling is eergister gebore en hy is dankbaar dat die ooi genoeg melk het. “Sy het vooraf darem goeie voeding gekry.” Hulle is nou na ’n kleiner kraal geskuif en word fyn dopgehou om te sien of al die lammers goed drink. “Almal gaan goed aan.”

Coetzee, ’n vierdegeslagboer op 3 700 ha, sê daar is niks oor van die veld nie. “Alles staan op kraal. Die veld is pikswart. Ek gee die skape tans lusern en mielies.” Hy boer ook met Damaras en saai hawer, korog en gars vir voer.

Net sy kernkudde het oorleef. “Die ou ooie gaan vanself dood… Hulle is net so moedeloos soos ek. Maar die droogte sal gebreek word. Ons moet net ’n plan maak met die ongediertes. Die veld sal herstel, maar die ongediertes raak net meer.”

Boere van 87, 91 jaar laat weet dat hulle in hul leeftyd nog nie so iets beleef het nie. “Nou wag ons angstig op opvolgreën. Dit lyk darem of dit Maandag hier gaan verbytrek.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.