Die Suid-Afrikaanse vleisbedryf het hom heeltemal met die uitwerking van die afgelope landwye droogte op die veestapel misgis.

“Ons het die impak van die droogte op die land se koei- en ooi-kudde totaal onderskat,” sê dr. Cobus Oberholster, hoof van BKB se afdeling vir lewende hawe, veilings en eiendomme. “Suid-Afrika se veegetalle is beduidend laer ná die droogte. Die tradisionele 20 miljoen ooie is seker nader aan 15 miljoen en die sowat 13 miljoen koeie is seker nader aan 10 miljoen of selfs laer.”

Oberholster meen dat die landwye kuddebouproses nog lank gaan duur, wat ’n groot tekort aan verhandelbare diere teweegbring.

Een van die bydraende faktore wat die huidige hoë veepryse ondersteun, is ’n nypende kontantvloeitekort op veeplase. “Verteenwoordigers van voerkrale dui steeds aan dat baie verskalwers bemark word, wat beteken dat boere nog baie vee verkoop ter wille van ’n beter kontantvloei.”

Volgens hom verhoog die verbruikersbesteding van die LSM-groepe 7 tot 10 jaarliks met tussen 6% en 7%, wat die vraag na rooivleis ondersteun. “ ’n Bykomende bonus vir die veebedryf is die huidige lae mielieprys van sowat R1 600 per ton, wat die vraag na diere wat op plase afgerond word, verhoog.” 

Volgens Oberholster het sy maatskappy sy benadering tot veilings aangepas om ’n meer omvattende bemarkingsdiens aan sy klante te bied. “Ons wil wegbeweeg van die beginsel om bloot ’n veeveiling vir klante aan te bied.” Dit behels onder meer die opstel van ’n handelsmerkstrategie van ’n bepaalde stoetery wat van verskillende digitale mediaplatvorms gebruik maak.

“Só ’n benadering sal vir stoettelers baie kostedoeltreffender wees. Dit is ’n goeie tyd in die veilingsbedryf met goeie pryse en ’n laer vee-aanbod.”

Twee Merino-veilings wat daarvan getuig, is dié van die Konsortium-groep en Heuningkrans-Merino’s, waarskynlik die grootste ramveiling van ’n enkele teler.

Op die Konsortium-groep se onlangse veiling is 472 ramme teen gemiddeld R8 158 elk verkoop. Op die “geraasveiling” in die skeerhok is 178 ramme teen gemiddeld R11 610 verkoop en op die stilveiling het die 294 ramme gemiddeld R7 631 stuk behaal.

Altesaam 198 ooie is teen gemiddeld R2 321 verkoop met die hoogste prys R2 450 per ooi vir ’n groep handelsmerkooie.

Kopers van Lesotho het die eerste keer sedert die eerste produksieveiling van die Heuningkrans-Merinostoetery in die distrik Smithfield in 1999 die hoogste prys vir ’n ram betaal. Hoofman Masupha Seeiso van Matsieng, ’n gereelde ondersteuner van dié stoetery, het R44 000 vir ’n ram op die 35ste produksieveiling van Heuningkrans opgedok. 

Seeiso is familie van koning Letsie III van Lesotho en die ram gaan in albei se kuddes gebruik word. Koning Letsie boer onder meer met 600 Merino-ooie en ’n hamelvertakking, asook ’n Drakensberger-beeskudde. 

’n Groot persentasie van die ramme en ooie is aan kopers uit Lesotho gekoop.

Die gemiddelde prys vir die aanbod van 137 ramme op die veiling was R9 929, bykans R2 000 per ram meer as in Augustus 2017 en sowat R3 000 per ram meer as op die ooreenstemmende veiling verlede jaar.

Die gemiddelde prys vir ooilammers was R1 776,87, teenoor die gemiddelde prys van die ander ooie R2 655 elk.

Altesaam 15 kommersiële Dormerramme is vir gemiddeld R6 800 verkoop en kudde-ooie teen gemiddeld R1 800.