“Wolboere sal baat vind by die samewerking. Van die voordele wat hulle sal ervaar, is mededingende tariewe, persoonlike diens, kundige advies en waarde wat toegevoeg by hul skeersel sal word,” lui ’n verklaring.

“Ons sien dit as ’n baie goeie geleentheid om meer wol in te kry,” sê mnr. James de Jager, wat in Maart die leisels oorgeneem het as uitvoerende hoof van Segard Masurel. Die maatskappy is sedert 1948 betrokke by wolhandel in Suid-Afrika en het in 2009 ook begin om ’n diens as wolmakelaar aan te bied.

“Ons wil ons teenwoordigheid verbreed en omdat Vleissentraal oor die hele Suid-Afrika sake doen, bied dit ’n goeie geleentheid. Albei maatskappye is afhanklik van die boere en as jy nie ’n beter diens kan lewer of beter pryse kan bied nie, kan jy nie aanspraak maak op die boer se ondersteuning nie. Dit is waarna ons strewe en hoe wyer ons teenwoordigheid is, hoe meer besigheid kan ons doen.”

Vleissentraal, wat reeds 80 jaar gemoeid is met veebemarking, wou ook die wolmark betree om sy vleisafdeling te versterk en verbreed. Die twee maatskappye het derhalwe besluit om eerder saam te werk as teen mekaar, sê De Jager. Met Vleissentraal se bemarkingsdiens kan stoetboere ook baat vind by die ooreenkoms.

saamwerk
Mnre Clarence Friskin (uitvoerende hoof van Segard Masurel Wolmakelaars), Anton Vos (besturende direkteur van Vleissentraal), James de Jager (uitvoerende hoof van Segard Masurel Suid-Afrika), Chris Troskie (besturende direkteur van Vleissentraal op Port Elizabeth) en Gawie van Heerden, (bemarkingsdirekteur van Konsortium-Merino). Foto: Verskaf

Jonger boere

De Jager glo waardetoevoeging binne die wolwaardeketting is ’n geleentheid wat binne die wolbedryf wink, wat veral aanklank vind by die jonger geslag boere wat wil weet wat in die verwerkingsketting gebeur.

“Hulle wil weet waarheen hul produk gaan en of dit wat hulle produseer, aanvaarbaar is vir die eindproduk wat produseer word. Hulle is ook bereid om daarvoor te produseer.”

Segard Masurel het ’n verhandelings-en-makelaarsafdeling wat beteken die inligting rakende die verwerking van die wol kan maklik aan die produsent deurgegee word.

Hy glo die kostestruktuur van die gesamentlike diens wat die maatskappye sal bied, sal tot voordeel van boere wees. Boere sal slegs vir velddienste hoef te betaal as hulle dit verlang.

Segard Masurel bied reeds skeerdienste. Die maatskappy het sy eie skeerspanne en het reeds met kontrakteurs oor dienste vergader. Hulle kan ’n volle diens lewer wat hand- of masjienskeer betref.

Boere kry ook toegang tot Segard Masurel se Abelusi Wool-sertifisering, asook die Responsible Wool Standard. Boere kan ’n premie verdien deur hul goedgekeurde wol aan Abelusi Wool te lewer, en die wol word regstreeks na die winkel geneem. Die standaard word ook internasionaal deur onder meer Decathlon – die wêreld se grootste sportkleinhandelaar – aanvaar. Die standaard se mikpunt is volhoubare produksie wat die versorging van die skaap, die mens en die natuur behels.