Hierdie kultivar, genaamd Finecut, is ’n diploïede kultivar en reageer vinnig wanneer vog en temperatuur toeneem. Die kultivar groei vinnig, is meerjarig en kan herhaaldelike platsny of beweiding goed deurstaan. Vir droëlandproduksie word 12-15 kg saad per ha aanbeveel en vir vestiging en onder besproeiing 17-20 kg/ha.

Dr. Jubbie Muller, ’n veearts en beesboer van Bergville in KwaZulu-Natal wat drie jaar gelede sy eerste proef met Finecut begin het, sê dié gras kom vroeër aan die gang as die meeste ander grasse. “Anders as ander rhodesgras-kultivars raak die Finecut nie stokkerig en houtagtig ná ’n jaar of twee nie. Dit bly smaaklik en sag vir die beeste.

"Die dun stammetjie en sagte blare herinner aan kikoejoe. Onder besproeiing kan ons hierdie gras tot vier keer per jaar benut, hetsy deur weiding of platsny en baal. Ons laat groei die gras van Maart af om saad te maak. Met die eerste ryp sal dit gaan staan.

“In Mei en Junie gebruik ons die gras as staande hooi vir die speenkalwers. Hulle vaar baie goed daarop. Omdat hierdie kultivar so vinnig wegspring en lekker vinnig groei, is daar min indringing van ander, natuurlike grasse waar die Finecut gesaai is.

“Ek saai dié gras op ál my swakker lande sonder besproeiing, en daar vaar dit ook goed. Van my bure het goeie resultate met Finecut gekry in die laaggeleë vleilande, waar dit baie vinnig reageer op ’n effense toename in vog,” sê Muller.

PRYS: Op aanvraag, na gelang van die wisselkoers.

NAVRAE: Mnr. Johan Olivier, e-pos: johann@selectedseeds.co.za, 082 797 0022.