Boere wat nie meer voldoende veldweiding het nie, beskou mielies dikwels as die beste aanvullende kragvoerbron, maar wat as mielies nie beskikbaar is nie?

Mnr. Jan Hoon, dierevoedingskundige by die Grootfontein-landbou-ontwikkelingsinstituut by Middelburg in die Oos-Kaap, sê kleingrane, soos koring, gars, hawer en korog, as aanvullende kragvoerbronne, en hooi en strooi as aanvullende ruvoerbronne tot die veld kan met groot sukses aan diere gevoer word, solank boere die beperkings in gedagte hou.

Mnr. Jan Hoon

In droogtetye bepaal die beskikbaarheid en bekostigbaarheid van voer dít wat uiteindelik gevoer word. Boere moet ook kennis neem van die voedingsbehoeftes van verskillende groeistadiums van vee (tabel 1).

Wanneer boere kies wat om te voer, moet hulle die relatiewe voedingswaarde en koste per voedingseenheid in ag neem. “Tydens droogtes is veral die energie-inhoud (en dus TVV, of totale verteerbare voedingstof) van belang, hoewel die ruproteïeninhoud ook ’n belangrike rol speel in die koste van die voer.”

Tabel 1: Die voedingsbehoeftes van ’n ooi van 60 kg met ’n tweeling in verskillende produksiestadiums (NRC, 2007)

Hoon sê proteïentekorte kan in ’n onderhoudsvoer met taamlike bekostigbare nie-proteïenstikstof in die vorm van byvoorbeeld ureum aangevul word. Hy beveel aan dat boere op die totaal verteerbare voedingstof (TVV) en ruproteïen-inhoud van enkele van die belangrikste grondstowwe vir veevoer (op ’n 100% droëmateriaalbasis) Tabel 2 moet let.

Volgens die literatuur is die energiewaarde in terme van TVV op ’n droëmateriaalbasis vir mielies gemiddeld 92%, vir koring 87%, vir korog 86%, gars 81% en hawer 67%. Kleingrane se proteïeninhoud (10-12%) is egter hoër as die van mielies (8-9%). Kleingrane word normaalweg heel vir skape gevoer. Hoon sê beter resultate word verkry wanneer kleingrane mielies net gedeeltelik vervang. Indien kleingrane die grootste komponent van herkouerrantsoene uitmaak, moet die rantsoene goed gebuffer wees.

Tabel 2: Die gemiddelde voedingswaarde van verskillende voer soos verkry vanaf verskeie bronne

Die diere moet stadig en geleidelik aangepas word om suurpens te voorkom. “Die beste benutting van kleingrane word verkry indien dit nie meer as 35% tot 50% van die mielies in skaaprantsoene vervang nie. In die praktyk word mielies dikwels heeltemal met gars in skaaprantsoene vervang omdat dit kostedoeltreffender is. “Die maksimum insluitingspeile van koring in rantsoene vir lammers is sowat 25% en vir ooie ongeveer 35%.”

ONGEWONE VOER

Baie boere het noodgedwonge heelwat nuwe voerbronne op die proef gestel in die voortslepende droogte in die Noord-, Oos- en Wes-Kaap. Nie alles is noodwendig goed nie, en boere moet bewus wees van die voordele en vangplekke van elke voerbron. Hoon het in Januarie op Landbouweekblad en GWK se eerste droogtehersteldag op Brandvlei gesê koste is ’n groot oorweging. “Alternatiewe voerbronne as droogtevoer of as neweprodukte van ander bedrywe is soms teen billike pryse beskikbaar.”

Nie alles kan egter net só aan diere gevoer word nie. Boere moet hulle vergewis van die voedingswaarde, voor- en nadele en beperkinge van verskillende alternatiewe voerbronne. Hy het, met die hulp van ’n dokument wat prof. Tertius Brand van die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg in 2016 opgestel het, die voor- en nadele van alternatiewe voerbronne beskryf.

Die voedingswaarde van swak hooi of oesreste kan aansienlik verhoog word deur dit met vloeibare konsentrate wat melasse, proteïen, vitamiene en minerale bevat, melassepoeier of voergraaduDit verhoog die proteïeninhoud, verteerbaarheid en inname van die ruvoer.

AARTAPPELS, ROSYNE en sitrus

Uitskot-aartappels, met 9-11% totale ruproteïen (TRP) en 79% TVV op ’n droë basis word soms aan diere gevoer. Aartappels bevat baie stysel en is dus ryk aan energie. Vars aartappels bevat tot 80% water. Herkouers benut aartappels goed, veral as die aartappels gekerf is om verstikking by veral beeste te voorkom.

Die voer van aartappels in laaggeplaasde voerbakke of onder ’n balk of kabel bo die diere se koppe by die voerbak help ook in ’n mate teen verstikking. Hy waarsku aartappels wat uitgeloop het, bevat gifstowwe (alkaloïedes) in die spruite en moenie aan diere gevoer word nie.

Nog ’n hoë-energievoer is uitskotrosyne (6-7% TRP en ongeveer 80% TVV op ’n droë basis). Rosyne is smaaklik en kan in produksierantsoene gebruik word om tot ’n derde van die graankomponent in herkouerrantsoene te vervang. Die voedingswaarde van rosyne word op tot 80% van die waarde van mielies geskat.

Sitruspulp met 6-13% ruproteïene en 84-87% TVV op ’n droë basis is ’n hoogs verteerbare en baie smaaklike voedingsbron vir herkouerdiere. Hoon sê daar moet egter genoeg ruvoer beskikbaar wees indien sitruspulp vir lang tye aan diere gevoer word. “Sitruspulp word met welslae ingekuil. As diere vir redelike lang tye gevoer word, moet die kalsium-fosforverhouding reggestel word.”

Druiwedoppe (10-13% ruproteïen en 32% TVV op ’n droë basis) is soms geredelik naby groot wynkelders in die Wes- en Noord-Kaap beskikbaar. Druiwedoppe kan met sukses as veevoer gebruik word. Wit druiwedoppe is van groter waarde as rooi druiwedoppe vanweë die hoë tannienvlakke in rooi druiwe. Hoe meer sap uit die doppe gedruk is, hoe minder waarde het die doppe as gevolg van die suiker wat uitgedruk word. Druiwedoppe word goed deur herkouers gevreet en is in die algemeen smaaklik.

As uitheemse gewas is oumansoutbos tot ’n kategorie 2-onkruid verklaar. Dit het egter ’n taamlik hoë voedingswaarde (15-20% TRP en 60% TVV op ’n droë basis) en ’n baie goeie drakrag.

VERSIGTIG MET HOENDERMIS

In droogtetye gebruik boere soms gesteriliseerde hoendermis vir onderhoud en in lekke van diere, veral omdat dit die koste van die mengsel noemenswaardig kan verlaag. Kuikenhokmis (15-20% ruproteïene en 45-50% TVV op ’n droë basis) is ’n beter produk om te gebruik as lêhenmis, omdat lêhenmis gewoonlik te nat is en ook dikwels ’n laer voedingswaarde het.

Volgens wet moet hoendermis gesteriliseer word om skadelike organismes dood te maak vóór dit in dierevoeding gebruik word, anders is die voer daarvan teen die wet. Hoendermis as veevoer (gewoon of gesteriliseerd) hou egter steeds risiko’s in wanneer dit vir diere gevoer word. Diere moet teen lamsiekte (Clostridium botulinum) ingeënt wees voordat hoendermis gebruik kan word.

Ander gevare is die teenwoordigheid van sekere ionofore of groeistimulante (bv. maduramisien) wat dodelik kan wees vir alle herkouers, asook te hoë kopervlakke vir skape. Verder kan giftige swamgroei vanweë hoë vog in die mis aborsies by dragtige diere veroorsaak. Voordat hoendermis in veevoer of lekke gebruik word, behoort die boer eers seker te maak alle risiko’s is in ag geneem om potensieel groot verliese te beperk.

Turksvyblare kan saam met die nodige proteïene en vesel as onderhoudsdieet vir herkouerdiere gebruik word.

TURKSVYE EN SOUTBOS

Turksvye (ongeveer 5-6% ruproteïene en 70% TVV op ’n droë basis) is ’n bekende droogtebestande gewas en is vroeër in groot hoeveelhede in die droogtegeteisterde gebiede van Suid-Afrika aangeplant.

Turksvyblare kan saam met die nodige proteïene en vesel as onderhoudsrantsoen vir herkouerdiere gebruik word. Turksvyblare moet verwerk word (in stukke gekap word) vir beter benutting. Wanneer turksvyblare as enigste voerbron gebruik word, kan dit lei tot diarree by diere.

Hoewel oumansoutbos tans tot kategorie 2-onkruid verklaar is omdat dit ’n uitheemse gewas is, het dit ’n taamlik hoë voedingswaarde (15-20% TRP en 60% TVV op ’n droë basis) en ’n baie goeie drakrag. Oumansoutbos is effe onsmaaklik vanweë die hoë natrium-inhoud, maar dit is ’n geharde plant met ’n baie hoë potensiaal as veevoer. Voldoende vars water moet beskikbaar wees vir diere wat soutbosse bewei. (Die inligting van die Wes-Kaapse departement van landbou eindig hier.)

Verkorreling van laegraadse voer is duur, maar daar is talle voordele, soos beter diereprestasie vanweë hoër voerinname en beter groei en voeromsetting.

BEHANDEL LAEGRAADSE RUVOERE SÓ

Op die droogtehersteldag het Hoon voorstelle gemaak van hoe laegraadse ruvoer meganies of chemies behandel kan word om dit smaakliker en verteerbaarder te maak. Om voer te maal, is relatief goedkoop en ’n eenvoudige manier om die partikelgrootte van voer te verklein, tog vereis dit ’n hamermeul. Die maalproses help dat ’n groter oppervlakte van die voer aan die werking van spysverteringsappe in die rumen blootgestel word, wat die verteerbaarheid daarvan verhoog.

Hoon sê die maal van voer vergemaklik ook verdere prosesse, soos die verkorreling van voer. Die voordele wat verkorreling kan inhou, sluit in beter diereprestasie vanweë hoër voerinname en beter groei en voeromsetting. Die hitte wat tydens verkorreling ontstaan, verminder die afbreking van proteïen in die grootpens (rumen) van die herkouer en verhoog sodoende die hoër deurvloeiproteïeninhoud waardeur die aminosuurbeskikbaarheid verhoog en diereprestasie verbeter word.

Verkorreling verminder vermorsing, skakel stof uit, wat die smaaklikheid van die voer verhoog, en daar is nie voerverliese as gevolg van wind nie. Deur die verkorrelingsproses word grondstowwe beter vermeng en dit verhinder dat sekere grondstowwe uitsak of skei en maak dit vir diere onmoontlik om net die smaakliker grondstowwe uit te soek.

Verkorreling verhoog die inname van veral rantsoene wat ’n groot proporsie laegehalteruvoer bevat. Dit maak die rantsoen minder lywig, verminder die behoefte aan opbergruimte en vergemaklik vervoer en hantering. Die groot nadeel van verkorreling teenoor gemaalde voer is dat verkorreling die voer duurder maak vanweë duurder infrastruktuur en hoër arbeidskoste.

PLANNE MET SWAK HOOI

Een ton ruvoer kan ook met ’n kombinasie van 25 kg Kalori 3000 (reg.nr. V2809, Wet 36 van 1947), 15 kg voergraad ureum, 0,75 kg voergraad swael en 200 liter water behandel word. Dan maak jy só: Los die Kalori 3000 in ongeveer 50 liter water op. Voeg dan die ureum, swael en res van die water by en roer tot die Kalori 3000 en ureum volledig opgelos is. Giet of spuit dan die stroopmengsel oor een ton ruvoer (ongeveer 2 liter stroopmengsel per 10 kg ruvoer). Voer die behandelde ruvoer binne vier tot vyf dae vanaf behandeling. Dit is om te voorkom dat die voer muf en die ureum as ammoniak ontsnap.

Navrae: Mnr. Jan Hoon, tel. 049 8026600 / 049 8026621, e-pos: janho@daff.gov.za.

VERMINDER VERMORSING

Die vermorsing van laegraadse ruvoer deur beeste en skape is dikwels ’n probleem, veral tydens voerskaarste. Mnr. Jan Hoon sê vermorsing kan beperk word en die voedingswaarde van swak hooi of oesreste kan verhoog word deur dit met produkte, soos Voermol LS33 (reg.nr. V2678), Voermol Voermolas (reg.nr. V10257), Kalori 3000 (melassepoeier) en voergraad ureum te behandel. Die behandeling kan lei tot ’n verhoging in proteïeninhoud, verteerbaarheid en inname van die ruvoer.

Voermol LS33 moet met ’n gelyke volume water verdun word. Die oplossing moet dan teen die volgende hoeveelhede oor die ruvoer gegiet of gespuit word: Vir ad lib-voeding is die hoeveelheid van die Voermol LS33-oplossing wat vir beeste gespuit moet word, 0,7-1,2 liter oplossing per 10 kg ruvoer. Vir skape is dit 0,5-0,8 liter oplossing per 10 kg ruvoer.

Indien ruvoer beperk gevoer word, benat dan daardie hoeveelheid ruvoer wat voorsien word met 0,4-0,7 liter Voermol LS33 per dier per dag vir beeste en 0,06-0,1 liter per dier per dag vir skape. Indien gewone melassestroop (soos Voermol Voermolas) gebruik word, kan ongeveer 9-10% voergraad-ureum by die melassestroop ingemeng word en kan dit dan op dieselfde basis as Voermol LS33 met water vermeng word en toegedien word.