In vanjaar se karkaskompetisie was die wenner en naaswenner was ook die wenner en naaswenner in die lewende beoordeling. ’n Bonsmara-Afrikaner-kruisbulletjie van die groep Connor and the Demeters wat met die louere weggestap het. Steer Clear se Boranbulletjie is as naaswenner aangewys.

Me. Amelia du Preez, medeorganiseerder van die projek en lektor verbonde aan die Universiteit van Pretoria se departement dierkunde, sê diegene wat by die projek betrokke was, was verbaas oor die groeitempo wat die kalwers bereik het. “Die gemiddelde gewig van die beeste teen die einde van die projek was rondom 490 kg, met 41 beeste wat meer as 500 kg geweeg het. Die gemiddelde daaglikse gewigstoename was rondom 2 kg en die voeromsetting was 5,5.”

Du Preez sê hoewel al die beeste goed gegroei het, was dit interessant om te sien hoe sekere rasse doeltreffender groei. “Ons moet wel in gedagte hou dat ons die verskillende beesrasse in hierdie projek nie regstreeks met mekaar kan vergelyk nie, omdat hul verskillende rantsoene ontvang het.”

Dr. Francois van de Vyver, nasionale tegniese herkouerbestuurder van Nutri Feeds, het vier verskillende rantsoene vir elke voerfase geformuleer. Die formulasies is aan die studente gegee en hulle moes toe op ’n rantsoen besluit. Die maatskappy het die voer verskaf.