Wolboere wat vir meer wol per skaap teel, boet in met ekstra voerkoste. Daarom het mnr. Claude Cloete van die plaas Felix, diep in die Drakensberg buite Dordrecht, begin om diere te teel wat vir die omgewing en toestande op sy plaas aangepas is. “Die natuur stel die pas vas en ons probeer boer soos die natuur ons lei.”

Sy hoofdoelwit op die plaas is om ’n wins te maak. Dit probeer Cloete regkry deur sy produksie te verhoog, terwyl hy terselfdertyd sy koste so laag moontlik hou. Volgens Cloete is die grootste fout wat boere maak om volgens getalle te boer.

“Wees versigtig om te mik na spesifieke lampersentasies, speengewig of wolgewig per skaap. Jou mikpunt moet finansieel wees.”

Claude, sy vrou, Des, wat hom uithelp met boekhouding, en sy seun Greg.

Sy mikpunt is om die grootste wins per hektaar te maak en om op lang termyn sy inkomstebelasting gereeld te betaal. “In enige besigheid betaal jy óf rente óf inkomstebelasting. As jy inkomstebelasting pleks van rente betaal, is die lewe soveel makliker.”

Claude en sy vrou, Des, het in 2007 na Felix verhuis. Sy vorige plaas, Carlton, nader aan Dordrecht, was naby die pad, en veediefstal het hom amper op sy knieë gehad.

“Ek het meer polisieman gespeel as wat ek ’n boer was.” Hy sê dit het hom ’n paar jaar gekos om weer die weë van die nuwe plaas, wat meer afgeleë is, te leer ken. Vandag geniet hy egter die boerdery só dat sy seuns gaan sukkel om hom van die plaas af te kry.

Die hooggeleë dele van die plaas kry tot 1 000 mm per jaar, wat by ’n stroom invloei waaruit hy dan water vir besproeiing pomp. Hy sê omdat die plaas so hoog lê, is daar min ondergrondse water en tydens die onlangse droogte was dit moeilik om te alle tye water vir die diere te voorsien.

Daar is drie gronddamme op die plaas waarin Cloete water opvang wat ook vir besproeiing gebruik word.

Hy hou ook ongeveer 150 Anguskoeie op die plaas aan, maar dit is hoofsaaklik vir veldbestuur. “In dié streek is die netto wins met skape omtrent drie tot vier keer meer as met beeste. Die koue, winderige toestande eis sy tol by die beeste. Op ’n baie koue, winderige dag verloor beeste daar liggaamsgewig, aangesien hulle gaan skuiling soek en dan nie vreet nie.”

Benewens die ooie hou Cloete ook 1 500 hamels in die bergagtige dele van die plaas aan waar dit te moeilik is om met lammers te boer, asook 750 jong vervangingsooie.

Vrugbaarheid binne die kudde

Cloete sê in die boerdery word daar te veel tyd en moeite afgestaan om die omgewing te verander om produksie te verhoog. “As jy ses kilogram wol per skaap kry, maar dit kos jou sewe kilogram om dit te behaal, is jy beter daaraan toe om vier kilogram wol teen geen koste nie van die veld af te lewer.”

Dit is daarom dat hy begin het om eerder vir vrugbaarheid te teel en om die natuur as die maatstaf te gebruik om sy skape se potensiaal te meet. Sy lammeroes is gevolglik groter, wat hom die geleentheid gee om vir wol en vrugbaarheid te selekteer.

Cloete is gedwing om dié kopskuif te maak nadat hy besef het hy is nie meer besig om vorentoe te boer nie en dat sy wolproduksie eerder daal pleks van toeneem. Die “lig het vir hom aangegaan” nadat hy sy pa se dagboek gelees en gesien het dat sy pa in 1968 amper 300 tweelinge in ’n jaar gelewer het, terwyl hy self in 2000 slegs 100 tweelinge gelewer het.

Die benadering het sowat vier jaar gelede begin vrugte afwerp en sy wolproduksie en vrugbaarheid het begin toeneem. Hy klas nagenoeg 700 jong ooie per jaar, waarvan hy 400 kan uitkies om terug te hou in sy kudde. Van die oorblywende 300 ooie verkoop hy nagenoeg 200 aan ander boere.

Die oorblywende 100 maak hy vet vir die slagmark. “As ek net 400 jong ooie het, gaan ek nie dié kan uitkies wat beter wol en vleis het nie. Ek sal moet gebruik wat ek het.

“Ek speen 300 meer lammers as wat ek nodig het. Teen ’n waarde van R1 200 per lam is dit omtrent R360 000 se bykomende inkomste. As ek wol teen R100 per kilogram sou verkoop, is dit sowat 3 600 kg se wol werd.” Hy sê die waarde van die ekstra lammers wat hy jaarliks bykry, is dus gelykstaande aan amper 1 kg wol vir elke skaap wat hy besit.

Cloete en sy pa se dagboek waarin hy die plaaslewe en seisoene aangeteken het. Toe hy in dié dagboek rondgeblaai het, het hy besef sy tweelingsyfer verskil drasties van sy pa s’n, en dit het gelei tot ’n ommekeer in sy teelbeleid.

‘Skape sorg vir hulself’

Aangesien hy die natuur gebruik vir seleksie, vaar die skape veel beter omdat hulle nie meer gepamperlang hoef te word nie. “Dit is soos ’n kind wat sy hele lewe deur sy ouers bederf is en dan sukkel hy as ’n volwassene om in die regte wêreld aan te pas.” Volgens sy plaas se drakrag kan hy nagenoeg 4 000 skape aanhou.

Voor hy die veranderinge aangebring het, kon 2 000 vir hulself sorg en die ander 2 000 het by die hek gewag om gevoer te word. “Wat op Felix gebeur het, is dat ek nou 4 000 skape het wat vir hulself kan sorg.” Van sy kudde is daar tans sowat 75% wat hy uit die Konsortium-Merino-deelboerderymodel geteel het en 25% wat nog deel is van sy ou teling.

Volgens Cloete kan hy nie na ’n ideaal teel deur net ramme met die regte vereistes aan te koop nie. “Jy gaan dit slegs regkry indien jy meer ooie het om van te kies.”

Claude het die voerkorrelmasjien in 2003 aangekoop en maak sy eie voer van die lusern en mielies, waarvan 100 ha onder besproeiing en 100 ha op droëland is.

Klem op kondisietelling

Cloete gebruik die Konsortium-Merino-deelboerderymodel om sy ramme te teel. Volgens dié model is daar 15 000 stoetooie tussen al die Konsortium-telers. Ongeveer 7 500 ramlammers word jaarliks op vyf verskillende plase getoets, en daarvan word sowat 1 200 op veilings verkoop nadat hulle ’n toets geslaag het.

“Dit is 25% van die Merinoramme op veilings in Suid-Afrika. Indien jy bevolkingsgenetika verstaan, is die beste ramme uit 7 500 ramme beter as die beste ramme uit ’n groep van 75.” As deel van die model stuur hy van sy ramlammers na die Karoo en die Karootelers stuur weer lammers na Felix.

“Op hierdie manier word dit gou duidelik watter skaap op die veld aangepas is of nie.” Volgens die Konsortium-stelsel bring sy ramme ongeveer agt maande op die veld deur, van speentyd tot en met 1 Julie die volgende jaar, en hulle kry geen byvoeding nie. “Dié wat oorleef, bly en die wat nie oorleef nie, val uit.”

Hy verduidelik daar word veral klem geplaas op kondisietelling. “Jy wil nie ’n ram hê wat soos ’n kraai lyk nie; jy soek ’n vet, bonkige ram, wat in die berge en koue kan oorleef en die ram moet deur die natuur of die veld gekies word. En, onthou, die natuur is nie die omgewing plus byvoeding of aangeplante weiding nie.”

Getalle aan jou kant

Aangesien hy nou meer meerlinge het om te bestuur, moes Cloete sy bestuur verander om te verseker hy kan tydens klassering ook die ooie afkomstig van meerlinge uitkies. Hy identifiseer en merk die tweelinge by geboorte sodat hy twee jaar later met klassering maklik die tweelingooitjies kan identifiseer.

“As julle hulle gaan saamgooi, gaan jy nie weet wie is wie nie, en die tweelinge gaan nie met klassering gekies word nie omdat hulle kleiner is.” Die ooie met hul tweelinge word ook afsonderlik gehou ná lamtyd sodat die ooie ’n regverdige kans kry om hul lammers groot te maak.

Hy het danksy hierdie praktyk sedert 2000 ’n geleidelike toename in die aantal tweelinge begin waarneem. “Van 2008 tot 2015 het die aantal tweelinge gestabiliseer by ongeveer 250 tweelinge per jaar.” In 2016 was daar skielik 450 meerlinge uit 800 ooie, wat beteken sy lampersentasie was nou 145%.

Verlede jaar het Cloete 456 meerlinge uit 800 ooie gekry, wat ’n lampersentasie van 147% gegee het. Vanjaar was daar 440 meerlingooie uit 800 ooie. Daar lam ongeveer 1 500 ooie per jaar op Felix. Hulle word in die veld gedek en Cloete gebruik geen hormone of kunsmatige inseminasie nie.

Sy stoetooie word deur ’n enkele ram gedek, terwyl sy kudde-ooie deur verskeie ramme gedek word. Aangesien hy die ooie intensief tydens lamtyd bestuur, het hy twee troppe ooie: Een trop wat in Mei en die ander trop wat in Augustus lam.

Die ooie loop in die warmer somermaande (1 Desember tot 1 Maart) in die berge op sy plaas op Alpynse grasveld op ’n hoogte van nagenoeg 2 000 m tot 2 500 m bo see- spieël. Daarna word die ooie afgebring na die vlakte naby sy werf, waar die veldweiding bestaan uit Hoëveldse suurveld, wat ongeveer 1 800 m bo seespieël geleë is.

Vanweë die hoë aantal meerlinge lam Cloete se ooie op ’n intensiewe basis, met sy werknemers wat dag- en nagskof werk. “Dit help nie jy kry al die tweelinge en dan vrek hulle met geboorte nie.” Elke ooi met haar tweeling word vir die eerste 24 uur saam met haar lammers in ’n intensiewe lamhokstelsel gelos.

Daarna word die ooie in kampies van 10 m² gejaag waar hulle ’n week lank saam het hul lammers gelos word. “Die doel is om elke lam die kans te gee om te oorleef sonder om die moederinstinkte van die ooie op lang termyn te benadeel.” Die ooie van die meerlinge én eenlinge bly dan vir die eerste maand ná lamtyd op aangeplante weiding, waarna hulle veld toe gaan.

“My mikpunt is om die tweelinge en eenlinge se gewig met speentyd dieselfde te hê. Daarvoor kry elke ooi met tweelinge 1 kg voerkorrels tot en met speentyd.” Al die ooie word vir drie maande intensief bestuur ná lamtyd, waarna hulle vir die volgende nege maande in die hooggeleë dele van die plaas na hulself in die veld kyk.

Dié pomp is in 1950 deur sy pa opgerig en pomp vandag nog water vir besproeiingsdoeleindes.

Boekhouding eenvoudig

Om te verseker dat hy die regte diere vir sy doeleindes kies, gebruik hy ’n produksie- adviseur, wat per skaap betaal word. Hy gebruik mnr. Cobus Viviers van Konsortium-Merino, wat sy ooie en ramme klas en selekteer. “As ek gelukkig is, betaal ek hom en as ek nie is nie, dan hou ek op. Hy het my belange op sy hart.”

Cloete sê hy gebruik eerder die kennis en ervaring van ’n kundige persoon as om dit self te doen. “Ek kan myself dan op my eie sterk punte in die boerdery toespits.” Cloete boekstaaf getrou sy produksiedata en daarvolgens kan hy besluite neem oor sy kudde se vordering.

“As jy nie deeglike data het nie, weet jy nie waarheen jy gaan nie. My pa se wolrekordboek is al 60 jaar oud en ek kan sien hoe die lamgetalle en wolproduksie mettertyd verander het.”

Hy hou egter die boekhouding eenvoudig en hou inligting by, soos hoeveel en watter skape hy jaarliks verkoop en aankoop, wolproduksie, of die aantal lammers wat jaarliks gebore word, asook die meerlinge.

Hy het in die afgelope vyf jaar geleidelik die wolproduksie op die plaas verhoog en skryf dit daaraan toe dat hy nou vir diere selekteer wat by die natuurlike toestande op die plaas aangepas is. “Maar die wolproduksiesyfer wil ek so natuurlik as moontlik behaal.

“As jy 4 kg se wol kry, moenie 5 kg probeer skeer nie, want dan gaan jy meer aan voer moet begin betaal. Dit kan jou dalk ’n ekstra R100 per skaap kos om daardie ekstra gewig te kry, terwyl jy die 4 kg gratis van die veld af kan produseer.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.