Volgens navorsing wat in die Amerikaanse vaktydskrif vir kliniese voeding verskyn en deur die Universiteit van Texas se sentrum vir gesondheidswetenskap in Houston uitgevoer is, is daar geen verbintenis tussen melkvette en hartvatsiektes en beroertes, twee toestande wat veral aan versadigde vette gekoppel word nie.

Daarteenoor kan dié vette jou eerder beskerm teen ernstige beroertes. “Ons bevindinge ondersteun en versterk toenemende bewyse dat melkvet, anders as wat aanvanklik geglo is, nie die risiko van hartsiektes of sterftes onder ouer mense verhoog nie.

Daarby dui die resultate daarop dat die vetsure in melk in werklikheid die risiko van sterftes weens hartvatsiektes, veral beroertes, verminder,” sê dr. Marcia Otto, hoofnavorser. Volgens die huidige dieetriglyne (van 2015 tot 2020) vir Amerikaners moet mense vetvrye of laevetmelkprodukte, soos melk, kaas, jogurt en ander verrykte sojaprodukte, eet.

Otto sê egter dat kossoorte wat laevetmelk bevat, soos laevetjogurt en sjokolademelk, soms hoër hoeveelhede bygevoegde suiker het, wat tot swak hartvat- en metaboliese gesondheid kan lei.

“In ooreenstemming met vorige bevindings wys ons resultate dat bestaande dieetriglyne rakende volvetmelkprodukte, wat ’n ryk bron van voedingstowwe, soos kalsium en natrium is, hersien moet word.

“Dié voedingstowwe is noodsaaklik vir gesondheid gedurende jou kinderjare, maar ook vir die res van jou lewe wanneer ondervoeding en siektes, soos osteoporose, meer algemeen raak.”

Otto sê navorsing wat op bewyse gegrond is, is nodig om mense ten opsigte van voeding op te voed.

“Verbruikers is al blootgestel aan verskillende en teenstrydighede inligting oor diëte, veral ten opsigte van vette. Daarom is dit nodig om deeglike navorsing uit te voer sodat mense gebalanseerde en ingeligte keuses kan maak gegrond op wetenskaplike feite pleks van hoorsê.”

BRON: HTTPS://GOO.GL/SVBVZL

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.