Malan vertel van vier gevallestudies. Op een plaas met 180 beeste het die boer nog nooit vir brucellose (BM) getoets of sy beeste ingeënt nie. Selfs nadat talle vroulike diere verlede jaar geaborteer het, het hy niks gedoen nie. Teen die tyd dat hy na ’n veearts geluister het, het 82 koeie positief vir BM getoets. Hulle is geslag. Die res wat negatief getoets het, moet gereeld getoets word totdat die kudde as BM-vry verklaar word. In die tussentyd is die plaas in kwarantyn.

Op ’n ander plaas met 100 beeste wat vir tien jaar nooit getoets of ingeënt is nie, was die meeste koeie nie dragtig nie en sommiges het geaborteer. Die boer het eers ná baie mooipraat deur ’n veearts toetse laat doen. Altesaam 38 beeste het BM gehad. Die boer het besluit om ál sy beeste te laat slag en van voor af te begin.

Hierdie patroon het hom op ’n ander beesplaas met 80 beeste herhaal waar die boer vir vyf jaar nie getoets het nie. Nádat drie koeie geaborteer het, het hulle én 20 ander positief vir BM getoets.

Op die vierde plaas wou die eienaar ophou boer en het dragtigheidstoetse laat doen. Twaalf van sy 43 beeste was BM-positief. Al sy dragtige diere moet geslag word.

Malan sê dit beklemtoon die noodsaaklikheid om gehoor aan die wet te gee wat vereis dat alle verse van vier tot agt maande ouderdom met stam 19- of RB51-entstof ingeënt moet word. BM is ’n kuddesiekte en as een bees in die kudde BM-positief is, moet almal getoets word.

Dus moet boere seker maak hulle koop slegs beeste met ’n verkopersertifikaat wat verklaar die beeste is getoets en is gesond. Hulle moet ook vee wat hulle elders koop, eers in kwarantyn hou en toets, seker maak hul plaasheinings is in ’n goeie toestande en vasstel of hul bure hul beeste laat toets.

Klik hier vir die kaart wat toon waar brucellose aangemeld is en hier vir die tabel wat toon watter siektes en toestande gedurende September by Ruvasa aangemeld is.