Die geskiedkundige, wit geverfde plaashuis en -werf van Gelukplaas buite Middelburg in die Oos-Kaap val jou met die intreeslag op. Dit is hier waar mnr. Johnson Mandlendoda in 2014 sy gemengde boerdery kom vestig het.

Die boerdery bestaan uit Bonsmarabeeste, Merinoskape en lêhoenders. ’n Toevallige gesprek oor ’n boksie eiers het daartoe gelei dat hy vandag meer as 600 Angorabokke op sy plaas het, ’n boksoort “wat nie deel is van die swart boere se geskiedenis nie”, sê hy.

Gelukplaas is ook die eerste plaas onder die vaandel van die Sybokhaartrust se bemagtigingstrust wat in 2020 aan die streng RMS- (Responsible Mohair Standard) vereistes voldoen het.

Mandlendoda, ’n voormalige amptenaar van die departement van korrektiewe dienste, het die plaas bekom nadat die regering sy aansoek om ’n plaas goedgekeur het. Hy sê: “Ek het besluit ek wil my eie paadjie loop, ek het ’n visie en het geglo die tyd is reg.”

Mnr. Johnson Mandlendoda in die skeerskuur besig om wol te klas. Hy is by al die prosesse op die plaas betrokke.

Pad met Angorabokke

Sy eerste tree met die Angorabok het toevallig in ’n supermark begin waar hy gesien het hoe me. Beauty Mokgwamme en haar man die pryse van eiers staan en bespreek.

Hy het hulle toe aangeraai om eerder van sy plaas se eiers te koop. Mokgwamme was in daardie stadium ’n opleidingsbeampte by die departement van landbou by die Grootfontein-landboukollege.

Die netjiese verpakking en gehalte van Mandlendoda se eiers het haar opgeval. Sy het meer oor sy boerdery begin uitvra en uiteindelik sy plaas gaan besoek.

“Ek het meestal met opkomende boere gewerk, maar in sy geval was sy boerdery groter as die gemiddelde boer wat ek bedien het,” sê Mokgwamme.

“Toe ek hoor hoe groot die plaas is en self die infrastruktuur sien, was ek beïndruk. As jy op die plaas was, wil jy teruggaan. Hy is baie toegewyd, nederig en gerespekteer.

Hy is ’n man met wie jy die paadjie wil stap.” Mokgwamme het Middelburg in 2018 verlaat om haar nuwe pos as bestuurder van die bemagtigingstrust by Sybokhaar Suid-Afrika oor te neem.

’n Deel van haar posbeskrywing was om opkomende swart boere met die regte infrastruktuur vir Angorabokke te identifiseer. Sy het geweet Gelukboerdery het die regte pakket.

“Die plaas het die regte bestuurders, daar word na die boerdery gekyk en daar is goeie infrastruktuur. Dit is presies waarna hulle kyk.

Die plaas is ook naby Grootfontein, waar hulle in Angorabokke spesialiseer.” Nadat die boerdery die nodige goedkeuring van die bemagtigingstrust gekry het, is die eerste 400 kapaters in 2019 by die Gelukboerdery se veekudde gevoeg, wat uit 340 beeste en 1 240 wolskape bestaan.

Die getal het intussen tot net minder as 700 bokke toegeneem. Weens die plaas se hoë drakrag was die doel aanvanklik om 1 000 bokke te kry, maar weens beperkte getalle in die bedryf is dit tans ’n kwessie om genoeg bokke te kry, sê Mokgwamme.

“Ons het met kapaters begin, want ons wou eers meer leer oor die bokke waarmee ons boer om hulle te verstaan en te sien wat hul sterk en swak punte is,” sê Mandlendoda.

Die volgende stap is om vanjaar ooie na die plaas te bring. “Die doel is om die bemagtigingsplase op ’n kommersiële vlak te kry. Wanneer ons dus bokke bring, is dit nie net 100 nie, maar eerder 500 of meer wat ’n ekonomiese eenheid is,” voeg Mokgwamme by.

Mandlendoda se veehanteringsgerief wat hy te alle tye in ’n goeie toestand moet hou om te verseker hy voldoen aan die RMS- en RWS-standaard.
Mandlendoda hou lêhenne aan en verkoop die eiers op Middelburg.

Terugbetaling help ander

Mandlendoda koop die bokke met ’n geen-rentelening van die Sybokhaartrust aan. Die geld wat terugbetaal word, word gebruik om ’n volgende boer te help.

Die lening word terugbetaal deur 25% van die totale inkomste wat die skeersel op die amptelike veiling deur die makelaar behaal het, direk namens die bemagtigingsvennoot aan die trust oor te betaal volgens die leningsooreenkoms vir die bokke.

Die res van die 75% word deur die makelaar aan die opkomende boer oorbetaal. Volgens Mokgwamme is daar tans tien boere onder wie daar altesaam 5 300 bokke verdeel is.

Die boere kon in 2020 reeds 12 000 kg sybokhaar tot die bedryf bydra. In 2020 alleen is meer as R1 miljoen van die tien boere ingesamel. “Van die bemagtigingstrust se kant af is ons baie opgewonde oor die Gelukboerdery.

Ons sien uit daarna om die boerdery groter te laat groei.” Mokgwamme meen die plaas kan een van die voorste Angoraboerderye in Suid-Afrika word. “Hulle het die vermoë, alles is in werking. Ons hoop net op reën.”

Buiten vir die terugbetaling van die lening is Mandlendoda ook verantwoordelik vir die koste van die onderhoud van die diere, wat voer en gesondheidsorg insluit.

Dit is aanvanklik groot koste vir ’n beginnerboer. Die Angora het sedertdien diep onder sy vel ingekruip. Mandlendoda beoog om een van Suid-Afrika se voorste Angoraboere te word en om die ras ook aan ander swart boere bekend te stel.

Voordat hy homself op die plaas gevestig het, het hy en sy broer, Lizo, reeds in 2008 die Dicla-opleidingsentrum by Queenstown gestig om opleiding aan studente te bied in tuinbou op hul plaas, en nou ook vee by die Gelukboerdery.

Landbouprodukte soos groente word ook verbou en aan supermarkte verkoop. Die geakkrediteerde Dicla-sentrum se tak op Queenstown het ook ’n groentemark waardeur groente en vrugte aan die publiek verkoop word.

Die sentrum bied verskeie Seta-kursusse aan, wat diere- en plantproduksie, meganiese opleiding en trekkeroperateurskursusse insluit. Daarby kan studente hul indiensopleiding en praktiese ondervinding op albei die plase voltooi.

Landboustudente van verskillende landbou-opleidingsinstellings, soos Grootfontein, die Universiteit van Fort Hare en die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie, kan deur Dicla hul praktiese ondervinding en indiensopleiding by Gelukboerdery voltooi.

Mandlendoda het besluit om homself in die landbou te vestig, want hy meen die bedryf is ’n sleutel tot die ekonomie van Suid-Afrika. “Ons visie is groot. Een daarvan is om seker te maak daar is voedsel vir alle Suid-Afrikaners.

Armoede en werkloosheid neem daagliks toe, en ons wil ons kant bring en deel wees van die Suid-Afrikaners wat bydra tot die ekonomie.”

Die geskiedkundige opstal op die plaas wat as kantoor en verblyf vir gaste en besoekende jagters gebruik word.
Mnr. Johnson Mandlendoda en me. Beauty Mokgwamme met die RMS-sertifisering wat die Gelukboerdery in 2020 ontvang het.

Vee én wild

Gelukplaas het ’n lang geskiedenis en is reeds in 1846 gestig. Volgens Mandlendoda is hy dankbaar dat die vorige eienaars so goed na die plaas gekyk het dat hy steeds daar kan boer.

Die plaas is tans in ’n vee- en wildboerdery verdeel. Op die veeplaas hou hy, benewens die Angorabokke, ook Bonsmarabeeste vir vleisproduksie aan en Merinoskape vir wolproduksie.

Hy hou ook lêhenne aan en verkoop die eiers plaaslik. Mandlendoda het lusern onder besproeiing en beoog om dit uit te brei. Dohne-Merinoskape word gebruik om vleisproduksie te verhoog.

Hy het onder meer slaglammers in voerkrale vir die vleismark. Jagpakkette word ook aanbied, en die geskiedkundige plaashuis is omskep in ’n gastehuis waar jagters en besoekers kan oorbly.

Die wild op die plaas sluit koedoes, blesbokke, springbokke, bergribbokke en sebras in. Hy wil ook kameelperde vir wildritte koop sodat kinders wat nog nooit blootstelling aan die diere gekry het, dit kan leer ken.

Danksy die Angorabestuursprojek wat deur die bedryf saamgestel is, weet Mandlendoda watter praktyke hy deur die jaar moet volg vir dieregesondheid, skeer, voeding en bestuur.

“Jy sal kwessies kry, en dit verg dissipline om die program te volg. Maar indien jy die program volg, verminder dit die druk op die boerdery. Indien jy op jou eie gevoel boer, gaan jy probleme ondervind.”

Skeertyd op die plaas. Daar word in Maart en September geskeer.
Mnr. Johnson Mandlendoda en me. Beauty Mokgwamme in een van die lusernlande wat onder besproeiing is.

Waardevolle kans

Om deel van die trust te wees, is baie waardevol vir Mandlendoda. “Dit beteken daar is mense op wie ek kan vertrou en wat vir my omgee.” Boonop bring dit waardigheid na sy boerdery en dit beteken hy kan vorder.

“Dit help my om te glo ek is ’n boer, want om met meer as 600 bokke te boer, is spesiaal. Dit maak jou nederig, maar ook dat jy harder wil werk.” Hy weet hierdie is ’n kans wat hy nie deur sy vingers moet laat glip nie en dat hy sy boerdery moet onderhou en laat groei.

“Indien ek nie na my diere kyk nie, is daar ’n kans dat ek nie meer kan boer nie.”

Hy sê die meeste van die nodige strukture was reeds ingestel vir die RMS-sertifisering. Daar was slegs ’n paar uitstaande faktore wat reggestel moes word.

Die plaas het ook die Responsible Wool Standard (RWS) ontvang. “Omdat alles gereed was en daar ’n administratiewe beampte op die plaas is wat administrasie en finansies behartig, het alles redelik vinnig verloop.”

Die proses wat hy moes deurgaan, was vir hom ’n goeie leerproses om meer vertroud te raak met van die fynere punte van Angoraboerdery.

“Daar is dinge waaraan ons nie aandag gegee het nie omdat ons nie so lank in die bedryf is nie, soos hoeveel olie in die haar is, of watter vreemde voorwerpe nie toelaatbaar is nie.”

Die sertifisering bring egter verskeie voordele, soos dat kopers weet die produk kan vertrou word indien die stempel van sertifisering op sy wol of sybokhaar is.

Daarmee saam verkoop sy sybokhaar en wol makliker. Omdat die sertifisering nie eenmalig is nie, moet Mandlendoda altyd voorbereid wees op onaangekondigde besoeke deur die sertifiseerders. Hy moet gewoond daaraan raak om aan die voorpunt van die RMS-sertifisering te wees.

“Mense begin kyk na jou en vra vrae en vertrou dat jy die regte dinge doen.” Dit beteken dat hy alles wat hy toepas, moet onderhou aangesien hy ’n rolmodel is vir ander boere.

Die boerdery bly vir hom ’n interessante veld waar hy daagliks iets leer. “Dit is ’n roeping wat verseker dat jy aanhou leer. Jy kan nooit ontspan en dink jy weet alles nie.”

Mandlendoda verseker die beste pryse vir die sybokhaar deur te sorg dat die diere in ’n goeie toestand is. Hy skeer in Maart en September volgens die program se aanbevelings om sodoende sy sybokhaar te verkoop op veilings wat vir hom die beste pryse sal bied.

Doelwitte

Sy mikpunt is om 7 000 bokke aan te hou en grond te koop om die getalle te kan akkommodeer. “Daar is potensiaal in Angoraboerdery. Die verkope is nie afhanklik van wat in Suid-Afrika gebeur nie.”

Hy meen daar sal altyd ’n vraag na sybokhaar wees omdat dit ’n uitvoerproduk is, veral indien die bokke mooi opgepas is en die produk wat gelewer word, dit is waarvoor die kopers vra.

Nog ’n doelstelling is om uiteindelik kommersieel te boer en op sy eie voete te staan. Dit beteken egter dat hy as boer moet aanhou groei, “anders bereik jy nie jou potensiaal nie”.

Toe hy aanvanklik aan die Angorabok bekend gestel is, het Mandlendoda besef dit is ’n dier wat nie tradisioneel aan swart boere bekend is nie. “Sybokhaarboerdery is nie werklik deel van die geskiedenis van swart mense nie.

Ons ken die Boerbok, maar weet nie werklik van die Angora en sy spesiale eienskappe nie.”

Deur Dicla wil hy ook die potensiaal van die Angorabok aan voornemende swart boere bekend stel, sodat die boere kan weet dit is ’n dier waarmee daar suksesvol geboer kan word.

Navrae: Mnr. Johnson Mandlendoda, 063 697 9896, Facebook: Gelukfarm; me. Beauty Mokgwamme, 073 797 5614, web: www.mohairempower.co.za