In 2018, net twee jaar nadat Liezel Parkin haar Dormerstoetery begin het, het dié oud-Kovsie die silwermedalje verwerf in die Elite Kleinveeteler van die Jaar-kompetisie. ’n Jaar later het sy weer dié prestasie behaal. Goud is in haar visier, maar eintlik is haar langtermyndoelwit om beter boerderypraktyke toe te pas.

Liezel, wat in die Vrystaatse Jongboerkomitee dien, is ’n plaaskind in hart en siel. ’n Paar maande nadat sy die graad BSc Agric in landbou-ekonomie en veekunde behaal het, was sy terug op die plaas Begin by Marquard, waar haar pa en broer, Ben en Adriaan Kramer, met gesaaides boer.

Sy het nie gras onder haar voete laat groei nie en dadelik tien kommersiële Dormers gekoop. “Daar was net Dohne-Merino-ooie op die plaas. Dit was aanvanklik ’n stryd om almal te oortuig om die kommersiële Dormers in te bring, maar sedertdien kyk ek net vorentoe.”

Liezel boer nou met 1 300 diere, wat wissel van die Berend Dormerstoetery, kommersiële Dormers en Dohne-Merino’s tot Angus- en Brangusbeeste. Die vleis en wol word plaaslik verkoop.

Struikelblokke

Haar pad was egter nie sonder dorings nie. “My pa het vier jaar gelede ernstig siek geword en ek en my broer moes inspring en groot besluite neem. Ek het baie geleer en die hele ondervinding het ons as gesin nader aan mekaar gebring.”

Haar ma, Susan, dra die gesin met liefde en ondersteuning. Liezel se man, Johan Parkin, werk vir ’n landboumaatskappy en oor naweke is hy betrokke by die plaasbedrywighede. As vrou het sy in die begindae maar die wind van voor gekry. “Almal wou aanvanklik met my pa praat wat besigheidsbesluite en -transaksies betref! Ek was vasbeslote om hulle verkeerd te bewys.”

Aan vroue wat dieselfde pad stap, sê sy: “Glo in jouself, moet nooit moed opgee nie en werk hard. ’n Mens moet aanpasbaar wees en aanhou beweeg.”

Die Covid-19-pandemie het ’n verwoestende uitwerking op vleispryse gehad en die mark was onseker. “Ons het geen ander keuse gehad as om ons pryse te verlaag nie, of om die diere langer te hou in die hoop dat pryse weer sou styg. Ons moes optimisties bly.”

Beste helpers

Liezel behartig haar stoetery met vier helpers, waarvan drie haar geliefde Australiese kelpiehonde, Max, Roy en Jack, is. “Hulle is my geselskap en beskermers. Wat skaapwerk betref, is dié drie onontbeerlik. Hulle help my om die skape in die drukgang te kry en vol te maak. In en om die kraal doen hulle alles!

“Ek laai hulle by ’n kamp af, wag by die hek en gee hulle dan hul bevel om die skape na my toe te bring. As daar ’n siek of kruppel dier is, waak een van die honde daar totdat ek opdaag.”

As sy nie self ’n skaap kan vang nie, doen hulle dit vir haar. “Al wat hulle nog nie doen nie, is om te spuit en doseer!”

Ontspanning bestaan nie eintlik in Liezel se woordeskat nie. “As jy met diere werk, is jy 365 dae van die jaar besig. Wanneer daar wel ’n kans is, spring ek op my perd se rug.”

Liezel kom eers tot rus as die son oor die Vrystaatse vlaktes sak. “Dit is vir my die mooiste tyd van die dag. My diere se pense is vol en ek weet ek het álles vir die dag gegee.”

Getrou aan hul plaas se naam is dit net die begin vir dié jong veeboer.