Voordat Venter kon uitkom by die ooi wat verlede week gelam het, het ’n vyfde lam sy verskyning gemaak. “Hulle is springlewendig en gesond. Ons sien dit as ’n goeie teken. Twee van die lammers is vir ’n ander ooi gegee om die lammers die beste kans op oorlewing te gee.”

Die ooi het onder ekstensiewe toestande gelam.

Met dié vyfling troef hy sy pa, Barnie, se plaasprestasie toe een van sy Dormers meer as twee dekades gelede ’n vierling in die lewe gebring het. Francois se vyfling-ma is ’n kuddeooi van die Venters se Helderhoek-stoetery, een van die oudste Dormerstoeterye in Suid-Afrika.

Hy sê die vee “lam iets verskrikliks” op die plaas. Benewens die skape wat besig is om te lam, is dit amper sy Boerbokke se beurt. “Ek het nou die dag grappenderwys vir my pa gesê ons moet die plaas Produksiehoek pleks van Helderhoek begin noem!”

Die ooie is gespons en met DMS gespuit waarna hulle op die veld gepaar is. Die hele trop ooie het op natuurlike weiding geloop met bloot ’n aanvullende lek. Sowat vyf weke voor lamtyd is die dragtige ooie toegelaat om smiddae groenvoer te vreet. Die meeste van die 40 ooie wat tot dusver wat gelam het, het tweelinge, met enkele drielinge onder hulle.

Die jong stoetooie, wat ook gespons en met handdekking gepaar is, sal na verwagting oor ’n week begin lam. Francois het sy ouer stoetooie met die saad van ’n ram van mnr. Johan Barnard van Lindley geïnsemineer.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.