Mnr. Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het op die vereniging se 90ste jaarkongres wolkopers bedank wat ondanks die uitvoerbod steeds aanhou om wol vir Chinese kliënte te koop.

“Ook ons produsente se opregte dank aan ons kopers wat gepoog het om die markprys stabiel te hou in ’n onstabiele en onsekere tyd.”

Volgens Du Toit het die kopers groot verliese gely en aanpassings gemaak om dit te kon vermag.

“Ons sien dit raak en ek is oortuig dat jul optimisme die wolbedryf in Suid-Afrika stimuleer.”

Mnr. Leon de Beer, bestuurder by die NWKV, het bygevoeg dat indien dit nie vir die wolkopers was nie, die bedryf in groter moeilikheid sou wees.

Dringend

Hoewel die verbod volgens die regulasies van die Wêrelddieregesondheidsorganisasie (OIE) vir bek-en-klouseer opgehef is, kan wol egter steeds nie Suid-Afrika se grense verlaat vir China nie omdat Suid-Afrika se wol tans in onverwerkte vorm uitgevoer word. China is tans die grootste aankoper van Suid-Afrikaanse wol en koop meer as 70% van die nasionale skeersel.

Mnr. Philip Stucken, voorsitter van Stucken & Co, het op die konferensie genoem daar is tans 48 000 bale wol ter waarde van R827 miljoen wat deur kopers aangekoop is maar in makelaars se pakhuise wag om na China verskeep te word.

“En die werklikheid daarvan is dat dringend na die saak omgesien moet word.”

Markte

Die wolmark het op die laaste veiling van 5 Junie gesluit op ’n prys van R209,07/kg. Die mark het regdeur die seisoen, sedert die aankondiging van die verbod, steeds prysvlakke van die sogenoemde supersiklus volgehou. Dié siklus is hoofsaaklik aangedryf vanweë die vraag uit China.  

Die mark het aan die begin van die seisoen geopen met ’n rekordprys van R238,29/kg, wat beteken die prys het met die verloop van die seisoen met 12,26% gedaal. Die prys vir die laaste veiling is egter slegs 0,14% laer as dié van die laaste veiling van die 2017-’18-seisoen.

Daar is nou vrese dat indien die situasie nie voor die volgende seisoen opgelos word nie, dit die bedryf ’n geweldige knou kan gee. Die handelsoorlog tussen China en Amerika kan ook ’n verdere uitwerking op die koopkrag uit China hê, wat die vrees verder verhoog.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.