Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê egter in sy verslag oor siektes en toestande wat gedurende Julie by hom aangemeld is, baie veeartse het inwendige parasiete by boere se vee aangetref.

Dit weerlê dus dié mite.

Uit die maandelikse tabel oor die siektes wat aangemeld is, is dit duidelik veral haarwurm, kriptosporidiose en koksidiose het op groot skaal voorgekom. Dit is ook ontstellend hoeveel gevalle van weerstand teen wurmmiddels aangemeld is.

Daar is tans tien aktiewemiddelgroepe op die mark waarmee inwendige parasiete bekamp kan word. Boere moet seker maak die middels wat hulle gebruik, is steeds doeltreffend. Gereelde evaluerings en die hulp van ’n veearts kan onsekerheid uit die weg ruim.

Malan sê boere moet ook waaksaam wees as hul vee in die winter in nat vleie wei waar daar groen gras is. Dit is waar hulle met lewerslakwurm besmet kan word omdat water en modderslakke tussengashere vir die lewerslakwurm is.

Uitwendige parasiete dra ook siektes oor en verg veeboere se volgehoue aandag, veral bloubosluise wat draers van uiters gevaarlike Afrika- en Asiatiese rooiwater, anaplasmose en knopvelsiekte kan wees.

Ook in hierdie geval moet boere seker maak die bosluismiddels wat hulle gebruik, is nog doeltreffend. Daarom moet boere met behulp van ’n veearts vasstel of daar bosluisweerstand op die plaas is voordat hulle weer bosluismiddels koop.