Dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy verslag oor siektes wat in Augustus by die vereniging aangemeld is, dit is nou die tyd om te beplan, in te ent en biosekerheid toe te pas. “Een verkeerde besluit gaan jou kos,” waarsku hy.

Dit het laat in die winter in sommige dele gereën en die temperatuur het gestyg, wat die uitbroei van die meeste inwendige parasiete se eiers bevoordeel. Veral skaapboere kan onverhoeds betrap word. Hulle moet oplet na tekens van parasietbesmetting soos bloedarmoede, kwakkeel, gewigsverlies en maagwerking. Lewerslakwurm en peervormige maagslakwurm kan vee besmet wanneer hulle in vleie en ander nat gebiede wei waar die tussengashere, waterslakke, in groot getalle voorkom.

Uitbrekings van koksidiose is reeds vanuit al nege provinsies van Suid-Afrika aangemeld. Veral jong diere is baie vatbaar vir hierdie siekte, asook kriptosporidiose wat in ses provinsies groot veeverliese veroorsaak het. Albei is protosoïese parasiete. Hoewel daar ’n middel is waarmee diere vir kriptosporidiose behandel kan word, is voorkoming die beste raad wat Malan kan gee. Daarvan vorm ’n goeie inentingsprogram, wat saam met ’n veearts opgestel is, een van die belangrikste dele om die meeste ander siektes wat kan voorkom te bekamp. Goeie biosekerheid moet ook te alle tye gevolg word.

Insekte dra ook siektes soos knopvelsiekte, drie-dae-stywesiekte, bloutong, slenkdalkoors en perdesiekte oor.

Uitwendige parasiete soos bosluise wat nou weer in getalle toeneem, dra ook ook talle ernstige veesiektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, anaplasmose, hartwater en knopvelsiekte oor. ’n Behoorlike, voorkomende program kan vir die bekamping van uitwendige parasiete gevolg word, om sodoende die aanslag van hierdie draers van siektes te verminder. 

Hier is 'n tabel van siektes wat in Augustus by Ruvasa aangemeld is.