“Ent jou skape in en verbeter jou kudde se gesondheidstatus,” het dr. Sewellyn Davey van die direktoraat veeartsenydienste van die Wes-Kaapse departement van Landbou op die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie se jaarvergadering op Moorreesburg gesê.

Veral stoetboere ontken dikwels dat die siekte in hul kuddes aanwesig is.

Die feit dat geen entstof teen bloutong beskikbaar is nie, is ’n groot bekommernis en kan die lammeroes vanjaar benadeel. “Entstof sal dalk eers volgende jaar weer beskikbaar wees.”

Wat boere intussen kan doen, is om hul skape in droëlandkampe op hoër dele van die plaas aan te hou waar muggies minder is. Dit kan ook help as ’n paar beeste saam met die skape loop, want die muggies steek eerder die beeste, wat meer bestand is. Skape se gesigte kan ook met insekweerders bespuit word. 

Bloutong-entstof en voëlgriep

Sy het gewaarsku as bloutong-entstof gebruik word wat reeds verval het, moet die doeltreffendheid daarvan eers getoets word. Dit moet steeds lewende organismes bevat om doeltreffend te wees. “Hou sulke entstof ook uit die son.”

Voëlgriep is steeds ’n groot bekommernis en talle seevoëls vrek daaraan.

Wat brucellose betref, het sy boere aangeraai om hul kuddes te laat toets sodat hulle kan weet wat hul status is. Cryptosporidiose en E. coli is ook ernstige probleme wat baie lam- en kalfvrektes veroorsaak.

Min brandsiek kom vanjaar in die provinsie voor.

Davey het gesê baie inligting is oor dié siektes beskikbaar. “Die Kaapse dieregesondheidsforum hou gereelde inligtingsvergaderings waar boere inligting kan kry. Hou julself ook op hoogte met die biosekerheid op jul plase.”