Die weidingstelsel wat die boer volg en die manier waarop hy dit benut, is die belangrikste instrument vir rooivleisproduksie. Hy boer immers met gras en die bees is die fabriek wat die gras na die produk (kalf of vleis) omskakel.

Mnr. Frits van Oudtshoorn, weidingkundige, het op die jaarlikse boeredag van die Winton-boerevereniging by Kathu oor veldbestuur gepraat. “Gras is nie net gras nie. Die goeie, smaaklike weidingsgrasse bevat meer voedingstowwe as onsmaaklike grasse en word in ’n hoër mate deur diere benut. Dan groei die beeste vinniger.

“Die weidingstelsel moet daarom die behoeftes van die goeie grasse in ag neem en dit moet genoeg tyd kry om ná bewei- ding te rus. Dan kan die groei-krag herstel en saad geprodu- seer word.

“Die grasse sal voortplant en die weiding en drakrag verbeter. Alle plase verskil egter van mekaar en het ’n unieke weidingstelsel wat op die veldtoestand, terrein, veldtipe en reënval gegrond word.”

Die tabel toon die hoofbenaderings as dit by weidingsbestuur kom. Hierdie breë benaderings sluit in selektiewe beweiding (of aanhoudende beweiding, skets 1), beheerde, selektiewe beweiding (skets 2) en nie-selektiewe beweiding (of hoëdrukbeweiding skets 3). Van Oudtshoorn verduidelik ook ultrahoëdrukbeweiding (skets 4).

Blokstelsels

Die boer kan ook verskillende blokstelsels volg. Hy beskryf dit as voerbankstelsels waarvolgens die weidingsgebied vir een groep diere in twee of drie blokke verdeel word. Elke blok rus om die beurt vir ’n volle groeityd, wat dan as ’n voerbank vir die komende droë seisoen dien.

Elke blok kan ook verder in twee of meer kampe onderverdeel word, wat vir wisselweiding gebruik word. Voorbeelde van blokstelsels sluit in ’n tweeblokstelsel sonder binnekampe (skets 5), tweeblokstelsel met twee kampe elk (skets 6), tweeblokstelsel met vier kampe elk (skets 7) en ’n drieblokstelsel (skets 8).

Van Oudtshoorn het beklemtoon dit is belangrik dat die boer die grasse op sy plaas ken. Dan kan hy dit doelmatig benut deur die drakrag aan die hand van die gehalte en hoeveelheid beskikbare grasse te bepaal en dit noukeurig te volg.

Sodoende kan hy doelgerigte veldbestuur toepas sodat die veld bewaar word en die grasse kans kry om saad te vorm en natuurlik te vermeerder. Die veld kan verbeter word deur saad meganies te saai in swak kampe wat rus. Die boer kan sélf saad in ander kampe oes of saad koop.

Dit behoort van November tot Februarie (die vroeë tot middel-groeityd) te geskied. Saad kan met ’n tandwerktuig agter ’n trekker gesaai word. Die werktuig maak voortjies en die saad word daarin gestort. ’n Geenbewerking-fynsaadplanter kan ook gebruik word omdat dit nie van die losmaak van die grond afhanklik is nie.

Verder kan die boer die saad met die hand rondom voerbakke uitstrooi waar die beeste dit kan intrap, en die voerbakke elke week verskuif. Van Oudtshoorn het gesê in gevalle waar daar groot kaal kolle in die veld is, kan die boer dié dele afkamp en saad saai. Die deel word dan so gelos totdat die veldtoestand weer normaal is voordat dit bewei word.

Navrae: Mnr. Frits van Oudtshoorn, e-pos: frits@alut.co.za; sel 078 228 0008.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.