Die instelling het nie net daarin geslaag om ’n waardevolle bydrae tot die plaaslike landboubedryf te maak nie, maar ook om sy internasionale akkreditasie te behou.

Dié laboratorium is die eerste provinsiale veeartseny-laboratorium wat internasionale akkreditasie ontvang het. Dit beteken toetsresultate uit hierdie laboratorium word internasionaal aanvaar.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, het die toekenningsaand aangebied. “Ons behoort baie trots te wees op die werk wat by ons provinsiale laboratorium gedoen word om die gesondheid van ons diere, die veiligheid van ons diereprodukte en die welvaart van Suid-Afrikaners te verseker,” het hy gesê. “Dié werk is noodsaaklik vir groter uitvoermarktoegang en dus die groei van die landbouekonomie.”

Altesaam 10 veeartsenytegnici is gemagtig om die geakkrediteerde toetse uit te voer vir onder meer serums teen bruccelose, voëlgriep, Newcastle-siekte en Afrika-perdesiekte. Meyer het gesê akkreditasie vir ’n vinnige toets vir veral Afrika-perdesiekte hou groot voordele in vir die plaaslike perdebedryf.

laboratorium personeel
Die personeel van die Wes-Kaapse veeartseny-laboratoriumdienste saam met dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou. Foto: Verskaf

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.