Die skikking is saam met ’n kostebevel teen Wolmarans se bure in die Hooggeregshof in Mmabatho bekragtig met die opdrag dat die skikkingsbedrag nie aan die media bekend gemaak mag word nie.

Dit is ter vergoeding vir die 104 beeste wat Wolmarans verloor het weens snotsiekte sedert sy bure wildebeeste op hul plase gevestig het. Sy bure is ook opdrag gegee om hul blouwildebeeste te verwyder van die plase wat aan Wolmarans se plaas grens.

Wolmarans bedryf sy stoetery, Kwantum Simmentalers, al 25 jaar lank op sy plaas van 350 ha tussen Rustenburg en Swartruggens. Dié stoetery het al wêreldbekende bulle soos Migkar en Profeet opgelewer. In 2006 het van sy beeste egter begin vrek.

“Ek het nie dadelik besef dit was snotsiekte nie. Dit was nie iets wat ons geken het nie, want daar was nog nooit blouwildebeeste in hierdie omgewing nie,” sê Wolmarans. Hy het sy beeste vir hartwater behandel, maar dit het geen verskil gemaak nie. Beeste wat siek geword het, het eenvoudig gevrek.

Siviele eis

Dr. Marli Olivier, die plaaslike staatsveearts, het snotsiekte as die oorsaak van die vrektes gediagnoseer. Wolmarans het besef die siekte bedreig sy voortbestaan as beesboer. Nadat onderhandelinge met sy bure misluk het, het hy ’n siviele eis teen hulle ingestel.

Sedertdien hou Wolmarans noukeurig rekord van al die vrektes op sy plaas. Van elke bees wat vrek, neem hy weefselmonsters en stuur dit via die staatsveearts na Onderstepoort om te toets vir snotsiekte.

Drie van Wolmarans se bure hou wildebeeste aan, derhalwe kon hy nie een spesifiek verantwoordelik hou vir sy verliese nie. Al drie sy bure is dus respondente in sy skadevergoedingsaak.

’n Soortgelyke eis is hangende teen ’n buurman van ’n tweede plaas van Wolmarans. Hy is ook aangekla ingevolge artikel 11(1) van die Wet op Dieregesondheid (Wet 35 van 1984). Ingevolge dié wet moet boere alle moontlike stappe doen om die verspreiding van dieresiektes van hul grond te voorkom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.