Die groot probleem wat die varkbedryf tans ervaar met ’n skerp daling in die vraag na varkvleis en pryse wat nog skerper gedaal het, illustreer net weer die risiko’s wat ’n voedselveiligheidsvoorval inhou vir almal wat in die aanbodketting betrokke is.

Daarom word daar gereeld gesê dat daar baie meer aandag gegee moet word aan samewerking in die hele voedselketting, veral wat die ketting vir ’n spesifieke handelsmerk betref, want almal kan verloor. Die voorval by Enterprise (’n filiaal van Tiger Brands) het die maatskappy groot geldelike verliese gekos.

Die skade wat aan die handelsmerk aangerig is, is egter groter. Die verliese vir die varkvleisprodusente beloop ook miljoene rand per week. Dit is welbekend dat daar maatskappye is waarvan die waardasie van die handelsmerk op die balansstaat groter is as die fisieke bates.

Dit het Tiger Brands miljoene rand gekos om die Enterprise-handelsmerk te vestig. Nou sal dit egter waarskynlik goedkoper wees om onder ’n nuwe handelsmerk te vervaardig nadat al die probleme opgelos is. Soos produsente nie kan wegstaan van die verwerkers en bemarkers van landbouprodukte nie, kan verwerkers en bemarkers nie wegstaan van hul produsente nie. Almal is saamgebind in ’n ketting wat die sukses al dan nie van die produk by die verbruiker bepaal.

Daarom vind ’n mens dat sekere handelsmerke in die afwesigheid van ’n nasionale voedselnaspeurbaarheidstelsel hul eie naspeurbaarheid en gehaltebeheer begin toepas. Die afgelope jaar of wat is gekenmerk deur ernstige siekte- of gesondheidsverwante probleme in die intensiewe veebedryf.

Dink aan voëlgriep en die groot skade wat veral eierprodusente gelei het. Sommiges het ál hul lêhenne verloor en was vir sowat nege maande uit produksie, maar moes steeds hul werkers en oorhoofse koste betaal. Die listeriosevoorval het op voedselverwerkingsvlak voorgekom, maar baie vinnig ook ’n produsenteprobleem geword omdat die vraag na varkvleis en verwerkte vleis ernstig geknou is.

VARKBEDRYF

Die varkbedryf is ’n sterk groeiende bedryf en produksie het deurgaans uitgebrei namate die verbruik per kop toegeneem het (grafiek 1, bo).

Die bedryf het ook baie konsentreerd geraak namate skaalekonomie en nuwe tegnologie en gesondheidsvereistes toegeneem het. Die belegging om deesdae ’n nuwe sogeenheid op te rig, beloop etlike miljoene rand. Kleiner produsente het die afgelope paar jaar basies verdwyn weens die ongunstige voermarges vanweë baie duur voer.

Die afgelope twee jaar het die bedryf na winsgewendheid teruggekeer namate voerkoste gedaal en pryse bly styg het. Die bedryf, soos die bees- en skaapbedryf, het veral voordeel getrek uit die algemene tekort aan rooivleis weens die impak van die droogte op bees- en skaapkuddes.

Grafiek 2 toon die verloop van die vleisvarkprys die afgelope paar jaar, asook die mielieprys-varkvleisprysverhouding.

Voerkoste beloop sowat 60-70% van die totale produksiekoste van varkvleis, en die afgelope paar jaar was nie juis winsgewend vir kleiner eenhede nie vanweë die hoë voerpryse. Sedert die goeie oeste en laer pryse van mielies en soja middel 2016 het winsgewendheid egter aansienlik herstel en was die boere wat oorgebly het, in ’n posisie om verliese te verhaal.

Daar is ook die stimulus van nuwe beleggings in die bedryf die afgelope jaar of wat. Volgens berigte word drie nuwe produksie-eenhede opgerig met ’n vermoë van ’n paar duisend sôe elkeen. Dit is groot beleggings in die jongste tegnologie en gesondheidsbeheer en gaan produksie verder uitbrei.

Die bedryf is die skaap- en beesvleisbedryf baie ver vooruit wat gesondheidsbeheermaatreëls betref en het met sy eie skemas begin om gesondheid en gehalte na te volg. Hy is die verste gevorder met ’n vorm van naspeurbaarheid wat werk, wat hom baie goed te staan gekom het. Daarteenoor staan die bees- en skaapbedryf waar botsende belange en ego’s in die pad staan van ’n werkbare naspeurbaarheidstelsel van wêreldgehalte.

Daar is nou ’n poging om ’n halfgebakte stelsel op ’n nasionale vlak via die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye in te stel. Uit die aard daarvan sal dit moeilik suksesvol wees. Dit behels kortliks dat elke dier ’n unieke nommer kry en daar op plaasvlak aantekeninge gehou word.

Die owerhede kry dit nie eens reg om die brandmerkstelsel doeltreffend af te dwing nie. Ek kan dus nie sien dat so ’n verpligte stelsel in die volgende jare gaan werk nie. Dit stel die bees- en skaapbedryf, veral eersgenoemde, bloot aan die risiko’s van siektes en gehalteprobleme wat volgens sekere mense onafwendbaar is.

PRYSE DAAL

Varkvleispryse het die afgelope paar weke skerp onder druk gekom en van net onder R30/kg gedaal tot onder R20/kg en in sekere gevalle tot so laag as R15/kg. Dit is heelwat onder die gelykspeelprys van sowat R22/kg en groot geldelike verliese word gely. Voeg daarby dat jong varke ’n optimale voer- en slagouderdom het.

Met die opeenhoping aan die produksiekant word die probleem vererger. Daar is in Januarie sowat 238 510 varke geslag, volgens statistieke van die Rooivleis-abattoirvereniging. Verlede jaar is sowat 2,7 miljoen varke geslag. Skynbaar word sowat 6 000 varke minder per week, oftewel 24 000 per maand, geslag as voorheen.

Dit is ’n oorskot van sowat 10% van die hoeveelheid varke wat maandeliks geslag en is die rede vir die 40-50% daling in die prys aan sekere boere. Daar is blykbaar nog heelwat onbeantwoorde vrae oor die teenwoordigheid van taamlik hoë vlakke van Listeria in die betrokke verwerkingsaanlegte.

Die beskuldiging van belanghebbendes is dat die Minister van Gesondheid die indruk gewek het dat alle verwerkte vleis besmet is. Dit het die vraag na alle verwerkte vleis skerp laat daal en die hele vleisbedryfketting erg benadeel, pleks van om daarop te wys dat net twee verwerkingsaanlegte betrokke is en dat die produkte herroep is.

Suid-Afrika is een van die min lande wat nie ’n departement van voedsel het wat spesifiek na die veiligheid en gehalte van voedsel moet omsien nie. Dié funksies word op ’n lukrake manier behartig deur wanfunksionele munisipaliteite en staatsdepartemente vir wie dit nie hul hooftaak is nie. Daar is departemente met ministers vir allerhande onbenullighede.

Daar moet eerder daadwerklik aandag gegee word aan die kwessie van voedselstandaarde, gehaltebeheer en inspeksiedienste, want die listeriosevoorval kos die bedryf baie geld, afgesien van die sterftes. Ek meen dit gaan ’n baie groot poging van die hele varkbedryf en verwerkingsketting verg deur met bemarking die vertroue in verwerkte vleis te herstel.

En indien bees- en skaapvleisprodusente dink hulle gaan ongeskonde hierdeur kom, dink ek hulle sit die pos mis. Daar is heelwat van dié vleis wat ook in verwerkte vleis gaan. Met ’n ooraanbod van varkvleis teen lae pryse gaan dit die mark vir bees- en skaapvleis ook knou.