Volgens Lötter was hy aangenaam verras deurdat die hele aanbod van meer as 1 800 Angorabokkies op BKB se digitale veilingsplatform van die hand gesit is.

Mnr. Gert Jordaan, BKB se nasionale bestuurder van digitale veilings en naspeurbaarheid, sê sowat 20 geregistreerde biërs het aanlyn meegeding in die 236 aanvaarde internettransaksies. Altesaam 88 belangstellendes het die veiling aanlyn gevolg.

Geskeerde kapaterbokkies met ’n haargroei van twee maande het verhandel teen gemiddeld R1 000 stuk, terwyl dié met ’n haargroei van ses maande teen R1 200 verkoop is. Ooibokkies met dieselfde haargroei is teen gemiddeld R1 300 verkoop, terwyl rammetjies (twee en ses maande haargroei) onderskeidelik teen gemiddeld R1 150 en R1 275 stuk verkoop is.

Die prys van tweetand-kapaters het gewissel van R1 011 tot R1 347 elk, terwyl die prys van dragtige ooie gewissel het van R1 335 tot R1 960, na gelang van hul haarlengte. Oop ooie is teen gemiddeld R1 000 (haargroei van twee maande) en R1 388 (haargroei van ses maande) elk verkoop. Die prys van die ramme het van R1 093 tot R2 773 gewissel.

Die koper wat bykans die helfte (789 bokke) van die aanbod bekom het, is mnr. Greg Harvey van Queenstown.

Volgens Lötter het die droogtetoestande van die Oos-Kaap sy familie gedwing om die kudde te verkoop. Hy het ’n teelgroep van 200 stoetooie teruggehou. 

Navrae

Mnr. Dirk Lötter (082 827 8367), Dirk Lötter-stoetery, Willowmore.