’n Ouditstelsel, om te verseker dat boere aan beste skeerpraktyke voldoen, is die wolbedryf se voorland, het mnr. Guillau du Toit, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), op die streekvergadering van die KwaZulu-Natalse NWKV op Dundee gesê.

Wolkopers is ook te vinde vir die plan en het reeds aangedui hulle sal nie wol koop van produsente wat nie aan die standaarde voldoen nie. Die doelwit is om met ’n spesiale stempel op veilingskatalogusse aan te dui of verkopers aan standaarde voldoen.

Du Toit het na ’n video verwys wat verlede jaar die ronde gedoen het en sogenaamde wreedheid en mishandeling in die sybokhaarbedryf ontbloot het. Hy beskou skeertoestande en dierewelstand as van die grootste onweerswolke op die wolbedryf se horison. Daar is reeds sprake dat ’n Noorweegse maatskappy ’n ondersoek wil borg na die toestande op Suid-Afrikaanse wolplase.

Hoewel ’n kode vir beste praktyke in die wolbedryf geld en deur alle wolboere onderteken is, meen Du Toit daar is steeds plase wat nie aan die riglyne van beste praktyke voldoen nie.

“Dit gaan in die nabye toekoms tot ’n ouditstelsel lei, want dis nie internasionaal aanvaarbaar om ’n kode vir beste praktyke te hê wat nie ekstern geoudit word nie. Dan beteken dit eintlik niks nie. Dis ’n kwessie vir die bedryf, maar ek kan jou verseker dit kom gou.”

SA se skeerkoste laag

Suid-Afrika se skeerkoste per skaap beloop net sowat 20% van dit wat Australiërs betaal, hoewel albei lande se boere se inkomste min of meer dieselfde is.

Mnr. Othard Klingenberg, voorsitter van die KwaZulu-Natalse NWKV, het gesê veral skeerhokke, skeerders se woongeriewe en hul voedselsituasie moet aandag geniet.

Du Toit het boere aangeraai om die goeie wolpryse van die afgelope paar jaar te gebruik om seker te maak hulle voldoen aan standaarde.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.