Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) kon vanjaar weens die Covid-19-pandemie vir die eerste keer in sy bestaan van meer as 90 jaar nie ’n kongres aanbied nie. Die toesprake wat gelewer sou word, het wel in die bedryfstydskrif, Die Wolboer, verskyn.

Volgens prof. Ferdi Meyer, direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), wat as spreker tydens die kongres sou optree, lyk die vooruitsig vir ’n robuuste herstel in die landbousektor goed. Daarteenoor is China, die hoofbestemming vir Suid-Afrikaanse wol, drasties geraak deur die Covid-19-pandemie. Dit het ’n ongunstige impak op die wolmarkte en meer wisselvalligheid kan in die volgende paar maande daar verwag word.

Volgens mnr. Guillau du Toit, nasionale voorsitter van die NWKV, beleef die wolbedryf tans moeilike tye te midde van ’n wêreld wat probeer om ’n internasionale pandemie – wat net een maal in ’n leeftyd plaasvind – te oorleef.

Hy sê met die opening van die jongste wolseisoen aan die begin van 2019, ná die bek-en-klouseerskok, het die bedryf aanvanklik gedink hy is op die herstelroete na hoër pryse met normale handel. “Toe kom Covid-19 en leer ons nog ’n groter les, nie net vir ons as wolprodusente nie, maar vir die hele wolbedryf binne die globale wolketting. Menslike welstand is voor die ekonomie geplaas, wat beteken daar lê ’n lang en stadige herstelproses voor.”

Hy voeg by dat hoewel die prys van wol geraak is, moet boere dankbaar wees dat die produk nie geraak is nie.

“Op dieselfde wyse wat kommoditeite soos olie en goud altyd ’n prys sal hê, sal wol sy waarde behou. Ons moet die eksterne faktore wat produksie en bemarking raak, bestuur en ons moet bepaal hoe ons oor finansiële verliese sal kom in dié ekonomiese fase in die wêreld.”

Wat kan wolboere verwag?

Volgens Du Toit het die wolbedryf oor die jare hoogte- en laagtepunte beleef, maar was die laaste daling in die mark ’n redelik groot val. Wolpryse toon egter ’n algehele stygende neiging oor dié tye.

Hoewel dit moeilik sal wees om te voorspel wat kom, sê Du Toit dat inligting verskaf deur die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) toon wat moontlik op wolboere wag.

Volgens die IWTO het die inperkings die wolverwerkingsbedryf redelik ingeperk, met minder as 40% van meulens wat 80% van hul produksiekapasiteit kon bereik. Baie werk teen minder as 50% van hul kapasiteit. In die eerste kwart van die jaar het die produksie van woldraad met 26% gedaal teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar, en wolmateriaal het met 24% gedaal. Hoewel Chinese wolmeulens hul produksie opskuif, is produksievlakke steeds laer as normaal. Daar word voorlopig voorspel dat die vraag na kleedwol vanjaar met 30% gaan verminder. Die algehele swak ekonomie en opgehoopte voorraad in die wolpyplyn sal die vraag en verbruik verlaag.

Die algehele afname in produksie sal die uitwerking van die krisis versag.