Die prys het met die negende veiling van die 2020-’21-seisoen, luidens die Cape Wools-markverslag, teenoor die vorige veiling skerp gestyg met 8,6% tot R142,32/kg.

Goeie mededinging het geheers vir Merinowol van goeie gehalte, veral volhoubaar geproduseerde wol. Veral lang fynwol het ’n goeie premie behaal teenoor korter Merinowol, lui die verslag.

Sedert die prys by ’n vyfjaarlaagtepunt van R118,58/kg gaan draai het, het dit met 23,4% gestyg.

Prysstygings

Mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools, sê die wisselvalligheid op die mark is verwag.

“In die jongste drie veilings het die mark mooi verstewig. Gunstige tekens kom veral vanuit die Oosterse markte. Daar is vir seker ’n verbetering in die marksentiment.”

Die tweede vlaag van die Covid-19-pandemie in Europa veroorsaak egter onsekerheid vanuit Europa.

Volgens Saayman hang die herstel van die mark af van die herstel binne die kleinhandel en hoe vinnig modehandelsmerke kan herstel om hul verkope op goeie vlakke te kry.

Die Cape Wools- volhoubare standaard is in Junie bekend gestel. Saayman sê dit is belangrik dat boere moet kennis neem dat die standaard nie meeding met ander standaarde vir volhoubaarheid nie. “Dit is vir ons as bedryf om ’n breë basis van volhoubaarheid te vestig.”

Die standaard is dus ’n stap vorentoe van die kode van beste praktyk en die ondertekening van die verklaring teen die Mules-operasie. Die standaard word gratis aan boere beskikbaar gestel en is daar om seker te maak dat al die risiko’s wat die bedryf in die gesig staar, bestuur word.

Volgens mnr. Tink Strydom, bestuurder van veselverkryging en -bemarking by OVK, is dit noemenswaardig dat die Australiese aanwyser tans 26,4% laer is as die ooreenstemmende tyd verlede jaar, terwyl die Suid-Afrikaanse aanwyser 20% laer is.

“Dit is moontlik omdat Suid-Afrika tans ’n hoë persentasie RWS-gesertifiseerde wol het wat verkoop word.”

Altesame 7 642 bale is op die veiling aangebied, met 1 135 bale wat voor die begin van die veiling onttrek is, met ’n algehele verkoopsyfer van 93,9%.

Swakker verkoopspersentasie

Volgens Strydom is een van die redes vir die swakker verkoopspersentasie dat wol met hoë saadinhoud baie swak verkoop, en tans is daar ’n hoë volume daarvan. Kopers is huiwerig om wol met enige vorm van besoedeling te koop.

Strydom sê ’n rede vir die hoë onttrekking is dalk omdat boere glo daar is vooruitsigte dat die wol weer teen ’n skoonprys van R170/kg sal verhandel en hou (waar moontlik) eerder hulle wol terug vir hoër pryse.

“Die gevoel is dat ons weer daar sal kom en ’n rede vir die vinnige sprong in pryse is vermoedelik omdat kopers wol nou teen laer pryse wil aankoop voor pryse styg.”

Strydom se raad aan wolboere is om kruisteling te vermy.

“Vanweë die goeie vleispryse is die versoeking daar om te kruisteel. Dit kan besoedeling veroorsaak en boonop die veselgehalte in die toekoms benadeel. As daar enige vorm van steekhaarwol is, is die belangstelling laag.”