Dit het onder meer tot gevolg dat te min wol beskikbaar was vir ’n katalogus 27-veiling wat op 14 Mei moes plaasvind nie. Dit is uitgestel tot die week van 20 Mei.

Volgens Cape Wools kan dit ’n ruk duur voor die produksielyn ten volle op dreef sal wees aangesien werksaamhede by die woltoetsburo, makelaars en veilings ingefaseer moes word, soos aangedui deur die regulasies vir vlak 4 wat op 1 Mei in werking getree het.

“Daarby kon skeerdienste op plase nie soos normaal aangaan nie. Boere kon nie hul wol na die makelaars vervoer nie, wat verdere vertragings beteken,” sê mnr. Deon Saayman, bestuurder van Cape Wools.

Volgens Cape Wools kan makelaars wat dringend wol moet verkoop, dit op die elektroniese platform Zoom aanbied.

Die afsnytydperk vir die ontvang van wol is tot 17 Junie uitgestel. Die laaste veiling vir die huidige seisoen sal op 8 Julie plaasvind. As die volumes te groot is vir ’n eendagveiling sal ’n tweede veiling op 15 Julie plaasvind.

Die volumes sal tot 7 000 bale per veiling beperk word.KommunikasieAangesien omstandighede kan verander, word boere aangeraai om te alle tye met hul makelaars te kommunikeer.

Pryse is steeds onder druk. Die Suid-Afrikaanse wolmark het met die tweede helfte van katalogus 26 se veiling met 4,6% verswak, deels weens die aanbieding van wol van minderwaardige gehalte. Die Australiese EMI was ook onder druk en het met 4,5% verswak vergeleke met die vorige week. Daarby het die wisselkoers bykans onveranderd gebly vergeleke met die vorige week.

Volgens mnr. Leon de Beer, bestuurder van die Nasionale Wolkwekersvereniging, is dit moeilik om te voorspel hoe die wolbedryf op kort en lang termyn sal reageer aangesien dit afhang van hoe die situasie rondom die Covid-19-pandemie gaan uitspeel.

“As ons na vlak 5-inperkings terugbeweeg, sal die wolbedryf weer onder druk wees om sy plek terug te vind as ’n noodsaaklike produk.”

Hy sê boere wat hul wol gedurende die tyd van inperking moes lewer, se vloei van inkomste is vertraag. Baie boere het dié inkomste dringend nodig, veral waar die droogte swaar tref.

Volgens De Beer is besluit dat die NWKV se jaarlikse kongres nie vanjaar aangebied sal word nie. Toekennings soos die beste geklasseerde skeersel en die wenner van die Bennie van der Merwe-wisseltrofee sal steeds in die bedryfstydskrif, Die Wolboer, aangekondig word.