Dit is ongeveer ’n derde (of 31,18%) laer as ’n jaar gelede en 53,3% laer as in 2018 toe wol tydens die derde veiling van die seisoen teen die rekordprys van R253,82/kg vir skoonwol verhandel het.

“Die week se daling kan toegeskryf word aan die voortdurende onsekerheid in wêreldmarkte, wat nog geruime tyd kan voortduur,” waarsku mnr. Pierre de Lange, bestuurder van wolbemarking, luidens OVK se markverslag.

Hy voeg by dat die versterking van die rand ’n bydraende faktor was in die daling van die prys.

Luidens die verslag het die rand 3% sterker verhandel teenoor die Amerikaanse dollar en met 4,8% versterk teenoor die euro sedert die vorige veiling twee weke gelede.

Luidens Cape Wools se markverslag vir die derde veiling vir die 2020-’21-seisoen het die Australiese aanwyser sedert die vorige veiling met 1,7% tot 7,6% gedaal in die afgelope twee weke, nadat die Suid-Afrikaanse mark ’n ruskans geneem het.

De Lange waarsku dat die voorraad wat in wolpakhuise ophoop, in die toekoms ’n uitwerking op die markte sal hê.

“As gevolg van die groot volumes voorraad in die Suid-Afrikaanse en Australiese wolpakhuise gaan dit geruime tyd duur vir die mark om te herstel.”

Hy voeg by dat die wolontvangste 16,5% laer was as in die ooreenstemmende tyd verlede seisoen.

Die algehele verkoopsyfer was 82,6%, met 10 152 bale wat aangebied is, terwyl 638 bale voor die veiling en ’n verdere 715 bale gedurende die veiling verkoop is.

Die grootste daling van 12,4% was in die 22,5 mikron-segment.

Volgens mnr. John Lapersonne van Lapersonne Wool is daar ook ’n algehele tekort aan vraag uit Europa sedert die aanvang van die seisoen, wat gelei het tot die laagste prys van die afgelope vyf seisoene.

Hy voeg by dat daar tans geen vertroue bestaan onder kopers nie, saam met ’n tekort aan aktiwiteit wat regdeur die waardeketting voorkom.

“Verbruikers reg oor die wêreld moet nog terugkeer na winkels en met toenames in Covid-19-gevalle wat af en toe in Amerika en Europa voorkom, sal dit nog lank duur voordat teruggekeer word na iets wat normale toestande verteenwoordig.”