Dit volg ná ’n drastiese daling van 28,3% in die eerste veiling van die seisoen. Die prys op tweede veiling is 31,29% laer as op die ooreenstemmende veiling ’n jaar gelede.

Luidens die Cape Wools-verslag is ’n kleiner as verwagte aanbod van wol van goeie gehalte een van die redes vir die styging.

Die Suid-Afrikaanse mark het die Australiese mark gevolg met die Australiese EMI wat met 12,5% toegeneem het. Volgens ABC.net.au is die prysstyging van $1,70 per kilogram die grootste weeklikse styging nog vir die Australiese EMI.

Volgens dié land se wolbevorderingsliggaam, Australian Wool Innovation (AWI), se kommentaar vir die week was die styging heeltemal onverwags hoewel ’n regstelling ná die drastiese dalings te wagte was.

“Verwarring oor die wolverkope was net so algemeen soos toe die wolpryse geval het. Die grootte van die aanvanklike dalings en die gevolglike stygings is nie net ’n aanduiding van die wisselvalligheid van die huidige vraag nie, maar ook van die hand tot mond aard van die hedendaagse bedryf,” lui die AWI-verslag vir die week geëindig op 13 September. “Met ’n beperkte aanbod kan ’n klein verandering in sentiment in ’n positiewe rigting vergrote bewegings lewer. Die week se winste is aangedryf deur die prysdaling tot ver onder die balanspunt vir die vraag teenoor die aanbod.”

Volgens die AWI was die afgelope drie weke se wolveilings nie ’n goeie aanduiding van die regte vraag na wol nie, maar eerder ’n aanduiding van die globale sentiment wat vertroue nadelig geraak het.

Sterker rand

Altesaam 91,5% van die aanbod is op die plaaslike veiling verkoop en Cape Wools se aanwyser vir alle wol het op R163,60/kg vir skoonwol gesluit. Daarbenewens het die rand met 1,2% teenoor die Amerikaanse doller versterk, wat beteken die mark het in Amerikaanse dollerwaarde met 12,1% verbeter.

Volgens die Cape Wools-verslag was daar goeie mededinging vir die 19,5 mikronkategorie en is fyner wol nie so direk geraak nie. Die prys van korter en swak wol het marginaal verbeter.

Die volgende veiling is op 26 September.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.