Mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder by Cape Wools, sê hoewel dit voorkom asof die mark stabiliseer, is dit steeds moeilik is om te voorspel hoe die mark oor die korttermyn gaan presteer weens die handesloorlog tussen Amerika China.

Die aanwyser het op R181,48/kg gesluit. Die rand het met 3,3% verswak sedert die vorige veiling, terwyl die mark in Amerikaanse dollarwaarde met 3,4% verbeter het. Die prys is steeds 18,7% laer as op die ooreenstemmende veiling verlede jaar.

Saayman sê wol van goeie gehalte word tans op die veiling aangebied. Dit bied goeie vooruitsigte vir produsente aangesien dit meer ruimte bied vir ’n wyer mark en gevolglik beter mededinging om die wol.

Hy sê dat nou al hoe meer daarop gekonsentreer word om Suid-Afrika te vestig as ’n verskaffer van wol van goeie gehalte wat eties geproduseer is.

Verskeping

Saayman sê die verskepingskedule het genormaliseer. Wol se lewering en verskeping pas in die 28-dae-siklus in, wat vir die kopers en hul klante meer gerusstelling gee. Wol van Suid-Afrika wat vir China bestem is, moet volgens die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) voor verskeping vir 28 dae by 18 °C opgeberg word ná die bek-en-klouseer-uitbreking aan die begin van die jaar.

Volgens Saayman dra al die bogenoemde by tot die positiewe marksentiment.

Lang wol

Volgens die Cape Wools-markverslag is 97,6% van die aanbod van 9 767 bale verkoop. Die grootste pryssprong is waargeneem by goeie lang en mediumlang Merinowol. Kopers het aktief meegeding om dié tipes en gesertifiseerde lotte. Die resultate was wisselend vir korter wol.

Die volgende veiling is geskeduleer vir 7 November, met ongeveer 12 068 bale wat aangebied sal word.