Deur vernuwend te dink oor meganisasie en bemarking het Cyrus McCormick in ’n kort tyd ontwikkel in ’n wêreldklasnyweraar. Die maatskappy wat hy gestig het, het jare lank ’n toonaangewende rol in voedselproduksie in die wêreld gespeel.

McCormick (1809-1884) het op 22-jarige ouderdom sy pa, wat Europese snymasjiene bestudeer het, se ontwikkelingswerk voortgesit en sy pa se poging beduidend verbeter. In 1834 het hy ’n suksesvolle snymasjien gepatenteer.

Die dorsmasjien, hoewel aanvanklik uiters elementêr, was in daardie stadium reeds meer as 50 jaar in gebruik. ’n Doeltreffende snymasjien, en later nog een wat die gerwe self kon bind, was dus ’n groot deurbraak.

Eerder entrepreneur

Aanvanklik het McCormick ingenieursondernemings aangestel om sy snymasjiene te vervaardig, maar gou besef dat sentralisasie en persoonlike toesig beter is. Hy het Chicago in die Amerikaanse Midde-Weste gekies vir sy fabriek vanweë die gunstige landboutoestande en omdat water- en spoorvervoer beskikbaar was.

Die ietwat omstrede McCormick was ’n man met ’n sakebrein soos min. Sy filosofie was dat die sukses van ’n uitvinding nie in die uitvinding as sodanig opgesluit lê nie, maar in die bemarking daarvan. Uiteindelik het sy entrepreneurskap sy ingenieursprestasies heeltemal oorskadu.

Hy en sy familie het in die middel van die 19de eeu ’n sakeryk gestig wat met massavervaardiging, kreatiewe bemarking en produkhernuwing tot ongekende hoogtes ontwikkel het. In 1856, die Republiek van die Oranje-Vrystaat was nog jonk, is 4 000 snymasjiene in sy fabriek in Chicago vervaardig.

Daar was egter meer Amerikaners met snymasjiene op die mark. Fabrikante het mekaar in die 1890’s letterlik uitgeroei vir ’n markaandeel. Nadat die bank J.P. Morgan ingegryp het, het die McCormick Harvesting Machine Co., die Deering Harvester Co. en nog drie kleiner maatskappye in 1902 saamgesmelt om die International Harvester Co. te vorm.

“Presisievisie” – Die bestuurder van hierdie Farmall Super C met die smal vooras weet presies waar en hoe hy tussen die rye plante werk.

‘Farm all’

Trekkers, soos ons dit vandag ken, het ’n “stadige geboorte” gehad. Die ou lomp en swaar stoomtrekkers en later die sogenoemde prêrietrekkers, wat vir ’n paar dekades gebruik is, was onbekostigbaar vir die meeste boere. Fabrikante het geleidelik kleiner trekkers begin maak, maar trekdiere is nog lank nie deur trekkers vervang nie.

Henry Ford se Fordson het tot ’n vlaag van goedkoper trekkers gelei soos hy deur ander fabrikante gevolg is. “Farm all” is eers as ’n beskrywende naam gebruik, bedoelende daarmee dat nie net die groot lande (prêries) met daardie trekkers bewerk kan word nie, maar dat die kleiner boere (veral ook groenteboere) nou trekkers pleks van perde in hul landerye kon gebruik.

Farmall-‘letterreeks’ 

Die trekker wat die meeste bygedra het om die trekperd te vervang, was International Harvester se Farmall Regular wat in 1924 op die mark gekom het. Dit was die eerste massageproduseerde, doeltreffende rygewasmodel (row crop) met ’n baie kort vooras of een wiel, hegpunte vir ’n gereedskapbalk en ’n kragaftakker.

Toe was farm all nie net ’n beskrywende naam nie, maar ’n geregistreerde fabrikaatnaam. Die bekende Farmall-“letterreeks” was van 1939 tot 1955 op die mark. Vir baie mense is Farmalls mooi trekkers en daar is goeie rede voor. Eers het net werksvermoë van trekkers getel, maar sedert sowat 80 jaar gelede het kopers ’n aantrekliker produk verkies.

Toe International Harvester se “letterreeks”-trekkers ontwerp is – dit was die A, B, C, H en M – is Raymond Loewy, die “Vader van Industriële Ontwerp” betrek.

Teen die tyd dat Loewy se ontwerpspan klaar was met International Harvester, was hulle verantwoordelik vir die trekkers, die IH-embleem vir al die maatskappy se produkte én die argitektuur vir hul handelaars se geboue wêreldwyd.

In ’n stadium het International Harvester wêreldwyd die pas aangegee met die vervaardiging en bemarking van landboumasjinerie, maar die maatskappy het fokus verloor toe konstruksiemasjinerie, voertuie en selfs kombuistoerusting by sy produkportefeulje gevoeg is.

Die International-fabrikaatnaam, asook Farmall, leef vandag by trekkers voort, maar onder ander eienaarskap.

Volgende week: Henry Ford dink dieselfde oor trekkers as oor motors.