Toe die Ferguson TE20, of Vaaljapie, soos dié geliefde trekkertjie in Afrikaans bekend staan, in 1946 in Engeland op die mark gekom het, was dit die toppunt van Harry George Ferguson (1884–1960) se ontwikkelingswerk van meer as 30 jaar.

Vandag het byna alle trekkers wat wêreldwyd vervaardig word, Ferguson se hidrouliese hystoestel met driepuntkoppeling tussen die trekker en die werktuig.

Die meeste ingenieurs sal saamstem dat dié stelsel die tegnologie is wat die grootste invloed op trekkerontwikkeling, en daarmee saam landbouproduksie, gehad het. Niemand kon nog daarop verbeter nie.

TALENTVOLLE HARRY

Ferguson het in Noord-Ierland grootgeword. Sy oudste broer het ’n werkswinkel vir fietse, motorfietse en motors gehad, en op 15-jarige ouderdom het hy as vakleerling by sy broer se onderneming aangesluit. Die jong Harry se talent is ontdek, en baie gou was die werkswinkel die beste in Belfast.

Harry het ook as vreeslose motorfietsrenjaer ontpop en met sy oorwinnings baie publisiteit vir sy broer se werkswinkel besorg. Hy het ook in lugvaart begin belangstel en was die eerste Brit wat sy eie vliegtuig gebou en gevlieg het. Dit was in 1909. Nadat Ferguson sy lewenswerk voltooi het, het hy ’n renmotor ontwerp.

In 1961, ’n paar maande ná Ferguson se dood, het Stirling Moss die eerste en tot dusver enigste mens geword wat met ’n vierwielaangedrewe renmotor – die Ferguson P99 – ’n Grand Prix kon wen.

LEWENSWERK

Ferguson het nie veel erg aan die lewe op sy pa se plaas gehad nie, maar voedselproduksie as ’n noodsaaklike bedryf het hom geïnteresseer. Drie jaar nadat hy in 1911 sy eie motoragentskap in Belfast gevestig het, het hy begin om Amerikaanse trekkers in te voer en te bemark.

'Die landbou is die wêreld se belangrikste bedryf, maar ook die enigste wat op verouderde metodes staatmaak.'

Vir Ferguson was die trekkers egter swaar, moeilik hanteerbaar en selfs gevaarlik, want soms het trekkers onder die vrag agteroorgeslaan – dikwels met lewensverlies. Dit, onder meer, het hom laat verklaar dat die landbou die wêreld se belangrikste bedryf is, maar ook die enigste wat op verouderde metodes staatmaak.

Ferguson was later ’n lid van ’n regeringskommissie wat probleme moes ondersoek ten einde die trekker se veiligheid en sy doeltreffendheid vir voedselproduksie te verbeter. Sy ideaal was ’n kleiner trekker waar die trekker en die werktuig nie met ’n enkele trekstang gekoppel word nie, maar met drie “arms” om ’n eenheid te vorm.

Verder moes die koppel-aksie maklik uitgevoer kon word, die trekker self sy werktuig vervoer en die eenheid maklik beheer word.

Die enkel boonste arm van die drie is die een wat voorkom dat die trekker agteroorslaan. Voordat die revolusionêre trekker-en-werktuigeenheid in 1926 gepatenteer is, het Ferguson in 1917 eers met die Eros-stelsel vorendag gekom waar ’n ploeg aan ’n aangepaste Ford Model T gekoppel is. ’n Paar jaar later het die meganies beheerde Duplex-hitch System gevolg, wat baie goed vir die Fordson F gewerk het.

BLADSKUD-OOREENKOMS

Ferguson het in 1936 saam met David Brown die Ferguson-Brown trekker begin vervaardig, waarvan net 1 356 eenhede die lig gesien het. Hy het gou besef dat hy met Ford se vervaardiging, bemarking en handelaarsnetwerk veel meer sukses sal behaal.

Hy het toe sy trekker met die driepuntstelsel aan Henry Ford gaan demonstreer, wat dadelik die potensiaal daarvan ingesien het. Die twee het net daar ’n ooreenkoms aangegaan: Ford sou ’n trekker met die Ferguson-stelsel bou en bemark.

Dit was die beroemde “handshake-ooreenkoms” tussen dié twee wêreldleiers op die gebied van die landbou en vervoer. Vanaf 1938 kon Ferguson dus vir die eerste keer groot geldelike voordeel uit sy stelsel geniet. Net meer as 99 000 Ford-Fergusons is in Amerika vervaardig en wêreldwyd uitgevoer.

Ford se kleinseun, Henry II, het later die ooreenkoms eensydig opgesê – ’n stap wat die Ford-maatskappy miljoene dollar gekos het.

Intussen het Harry Ferguson self ’n trekker ontwerp, die TE20 – Tractor, England, 20 perdekrag (15 kW) – wat sedert 1946 vir die volgende tien jaar deur die Standard Motor Company in Coventry vervaardig is. Dít is die geliefde Vaaljapie waarvan sowat ’n halfmiljoen eenhede in verskillende modelle te kry was.

Vir baie liefhebbers van veteraantrekkers is ’n versameling sonder ’n Vaaljapie onvolledig. Teen die einde van die vorige eeu is die Ferguson TE20 as die Trekker van die Eeu aangewys.

Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van Savtek, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.