Mnr. Koos (J.N.) Human het tussen die twee wêreldoorloë op die plaas Langverwagt naby Lindeshof geboer en ’n wamakery in sy werkwinkel op sy plaas bedryf.
Die Bulldog Lanz wat Koos in 1937 nuut by P. Andrag en Seuns gekoop het, is steeds in die familie se besit, en is met ’n volledige inligtingstuk op die skou vertoon. Nie ver van die trekker af nie, is ’n gerestoureerde perdekar uitgestal wat dieselfde Koos Human in sy werkwinkel vervaardig het.
As jy die uitstekende toestand van die 81 jaar oue Lanz, wat vir sowat 50 jaar op die plaas gebruik is voor dit begin “genadebrood eet” het, in gedagte hou, moet jy ook nie verbaas wees dat die oorspronklike koopbrief nog bestaan nie.’n Faksimilee daarvan is saam met die trekker uitgestal.
Die eerste tak van P. Andrag en Seuns (tans Agrico) was op Gouda, ’n spoorwegstasie in die distrik Porterville. Op die koopbrief is in die Afrikaans van die tyd gespesifiseer dat dit ’n “windwiel”-trekker is en met “gewige” en ’n kis gereedskap op die Lindeshof-stasie gelewer sal word.
Ongelukkig word die koopprys nie aangedui nie. Ook op die skou was die Ran- somes-dorsmasjien (houtbak) waarmee die oorspronklike eienaar op kontrak in die distrik gedors het. Die Lanz is destyds as die ideale trekker beskou vir die aandrywing van ’n Ransomes-dorsmasjien.
Die werkwinkel op Langverwagt – dit is tot naastenby 1950 gebruik – bestaan steeds, hoewel al die wamakersgereedskap nie behoue gebly het nie. Mnr. Herman Giliomee van Heidelberg, ’n trekkerrestoureerder van formaat, se oupa het ’n perdekar uit Koos se wamakery op Langverwagt gehad.
Herman het dié kar, waarop hy nog sy oupa sien ry het, nou behoorlik gerestoureer. In die verlede is dié soort bewaringswerk as die domein van amptelike museums gesien, maar algaande word dit deur individue en lede van bewaringsorganisasies oorgeneem. Dit is stof tot dankbaarheid.
Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van Savtek, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraantrekker-en-enjinklubs.
Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier