Die eerste stroper wat só gevorderd is dat dit sekere aksies met behulp van algoritmes aanleer, en dié aksies die stroper tot ’n groot mate beheer, is in Suid-Afrika in ontvangs geneem.

Die trotse eienaar van die Fendt Ideal 8- model is mnr. BP Greyling van Wakkerstroom in Mpumalanga. Greyling is ’n voormalige Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar.

Hy is die eerste kommersiële boer met ’n Fendt-stroper in Afrika. Die stroper is in die werktuigmaatskappy Agco se fabriek in Italië vervaardig, van daar na Suid-Afrika verskeep en op Greyling se plaas Langfontein oorhandig en gedemonstreer.

Greyling sê die stroper se groot stroopkapasiteit help dat hy minder ure op die land hoef te bestee om ’n groot hoeveelheid graan te stroop. By Wakkerstroom het ’n saaiboer vanweë relatief min hitte-eenhede min tyd om te saai en oes. Daarom moet alles vinnig geskied. Die stroper se oeskapasiteit is sowat 200 ton mielies per uur.

Een van die stroper se beste eienskappe is dat dit baie skoon stroop en min graan op die grond laat beland. “Dit is ’n groot finansiële belegging, maar die geld wat ek danksy die skoon graan wen, sal reeds ’n groot deel van die belegging subsidieer,” sê Greyling, wat op groot skaal met onder meer mielies, sojabone, raaigras, beeste en skape boer, en ook voerkrale, ’n silo-en-graandrogingskompleks en saad-, kunsmis- en veevoermaatskappye besit.

Hy het die Fendt Ideal 8 gekies omdat dit met dubbele bande voor toegerus is wat padvervoer beter pas as rusperbande, aangesien sy boerdery oor ’n afstand van 58 km strek.

Van nuuts ontwerp

Dr. Dominik Reus, besturende direkteur van Agco Africa, vervaardiger van Fendt-werktuie, het gesê die ontwikkelingswerk van die stroper het omstreeks 2012 begin. Hulle het dit van nuuts af ontwerp en nie op ’n vorige model gegrond nie.

Die oogmerk was net die beste tegnologie, doeltreffendheid en werkverrigting. Daarna is dit in verskeie lande op verskillende gewasse geëvalueer, waaronder Noord- en Suid-Amerika, Europa, Suid-Afrika, Australië en Nieu-Seeland, totdat hulle tevrede was om die stroper te bemark.

Reus en ander senior bestuurslede van Agco het self die amptelike oorhandiging van die Fendt Ideal 8 op Greyling se plaas bygewoon. “Hy is baie opgewonde oor die stroper en ons hoop om nog meer opgewonde klante in Suid-Afrika te kry.”

Die belangrikste verskil tussen die Fendt en ander stropers is onder meer die toerusting wat die stroper in staat stel om baie skoon te stroop, wat ook vir saadprodusente belangrik is. Dit is onder meer danksy die langste rotor op die mark – die rotor is 4,84 m lank en 600 mm in deursnit.

Om die oes versigtig te kan hanteer en ’n konstante voorsiening aan die rotor toe te laat, is die invoer-awegaars, dorsstawe en rotorvingers in ’n spiraal om die rotor gerangskik.

Die prosessor verg baie minder krag, wat die oestempo verhoog en werktuigdoeltreffendheid verhoog sonder om die geoeste graan se gehalte te benadeel. Die stroper beskik ook oor twee graanpanne. Gevorderde tegnologie stel die masjien in staat om vanself by toestande aan te pas.

Die Fendt Ideal 10-­ stroper is met rusper­bande toegerus om die verdigting van grond te verminder en die stroper in staat te stel om in sagte en nat grond te funk­sioneer. FOTO’S: charl van rooyen

Groot graantenk

Die graantenk het ’n opbergingsvermoë van 17 100 liter, sowat 18% meer as ander hoëprestasiestropers. Die uitlaai van die geoeste graan geskied teen 210 liter per sekonde, 32% vinniger as ander modelle.

Die Fendt Ideal 8-model wat Greyling gekoop het, het ’n vlak 4- MAN-enjin van 401 kW, terwyl die 10-model 483 kW ontwikkel. Al die modelle is ontwikkel om met breë bande toegerus te word. Die 8-model het dubbele bande voor, terwyl die 10-model rusperbande het.

Mnr. Felix Seitz, Agco se hoof van verkope in Afrika, sê nóg werktuie gaan na Suid-Afrika gebring word, waaronder planters. Fendt-trekkers is reeds die afgelope paar jaar plaaslik beskikbaar.

Mnr. Frans Cronjé, Agco Suid-Afrika se nasionale verkoopsbestuurder, sê ’n evalueringsmodel is met groot sukses gedurende 2020 in KwaZulu-Natal se hoëpotensiaaltoestande en in die Wes-Vrystaat se laerpotensiaallande geëvalueer.

Mnr. Robbie Hall, Agco se stroper-bemarkingsbestuurder, bestempel die Fendt Ideal as ’n baie slim stroper. Baie slim stroper Baie stropers het die vermoë om vanself verstellings te maak, maar die Fendt Ideal gebruik nie net basispunte vanwaar hy verstelling doen nie, maar algoritmes om fisiek aan die hand van onder meer toestande en die klant se behoeftes te leer.

“Dit duur so ’n dag of drie langer om die resultaat te bereik wat die boer wil hê, maar dan kan die stroper outomaties sekere aksies na gelang van omstandighede aanpas, soos grondspoed, oestempo en tonnemaat,” sê Hall.

Die stroper het onder meer sensors wat meet hoeveel materiaal ingevoer word en kan die grondspoed onmiddellik verlaag om ’n verstopping te voorkom, vinniger as wat die boer dit self kan doen.

Die stroper het ook kameras reg rondom om die bestuurder ’n 360°-uitsig te bied.

Mnr. Werner Nel van JWL Landbou het die transaksie met Greyling beklink. Hy bestempel die stroper as die maatstaf waaraan ander stropers gemeet gaan word.

Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking van FNB wat die transaksie gefinansier het, sê Greyling se vertroue in die landbousektor spreek boekdele. “FNB het net soveel vertroue in die landbou se toekoms en ons sal voortgaan om landbou te ondersteun.”