Dit was ’n dag vir verskillende hooimaak- en weidingstoerustingvervaardigers om hul slag op 60-meter lange grasbane te wys. Mnr. Carel Kriek, ondervoorsitter van die Balfour-boerevereniging, het gesê elke maatskappy kry elke jaar ’n geleentheid om sy produkte tot hul volle potensiaal te demonstreer.
“Plekke wissel elke jaar sodat niemand voorgetrek word nie. Ons begin reeds tien dae voor die geleentheid die verskillende plekke uitmeet volgens ’n vooraf bepaalde formule. Die gebied waarop die demonstrasies plaasvind, is sowat 2 ha, maar die hele perseel waarop die werktuie ingestel word en die stalletjies asook tente staan, is 7 ha,” het Kriek gesê.
Hy was veral bly oor genoeg reën wat gesorg het vir genoeg gras om elke werktuig se doeltreffendheid met grassny, hark of baal ten volle te demonstreer. “Ons het vanjaar ’n skenking van 26:3:3-kunsmis van Omnia-kunsmis ontvang en ons het 400 kg/ha daarvan op die demonstrasiegedeelte toegedien. Dit het die gras mooi help groei sodat ons ’n goeie demonstrasiedag kon hou.”
John Deere bring ’n nuwe bielie
Een van die demonstrasies wat die grootste
belangstelling uitgelok het, was die bekendstelling van die John Deere 8R
410-trekker. Min werkende modelle van die trekkerreeks is beskikbaar omdat
volle produksie van die reeks eers in Mei vanjaar begin. Nietemin is
Suid-Afrika een van die min lande waar die nuwe bielie van naderby beskou kan
word. Die 8R 410 is ’n indrukwekkende werktuig wat 375 kW lewer. Dit is die
eerste vasteraamtrekker ter wêreld met dié vlak van kraglewering.
Die trekker kan presies volgens die boer se behoeftes en spesifikasies toegerus word, insluitende met kameras voor op die neus en agter, sodat die trekkerbestuurder voor en agter die trekker kan sien wat gebeur wanneer byvoorbeeld ’n grassnyer vooraan en ’n hark agteraan die trekker gehaak is. Die trekker kan ook sy gewig versprei om beter vas te trap in moeilike toestande, terwyl ’n spesiale hidrouliese stelsel voorkom dat die trekker wieg terwyl dit oor ’n hindernis soos ’n kontoerwal beweeg.
Kuilvoerkontrakteur wys sy versakker
Die kontrakteursbedryf het ’n geleentheid gehad om
sy staal te toon met mnr. Jarren Hurwitz van Green Star Contractors wat een van
die maatskappy se Budissa Bag-kuilvoerversakkers gedemonstreer het. “Die
versakker kan tot 220 ton kuilvoer per uur hanteer. Die aksie laat kuilvoer toe
om geruime tyd vars te bly, terwyl die versakking die boer toelaat om slegs die
hoeveelheid kuilvoer wat vir ’n rantsoen aangewend moet word, te gebruik,” het
Hurwitz gesê.
Die demonstrasie het deel uitgemaak van Claas se reeks toerusting. Die indrukwekkende Jaguar 980-kuilvoerkerwer het ’n strook gras gesny en op ’n vragmotor gelaai voor dit in die versakker gelaai is.
Veertien vervaardigers en verspreidingsagente het hul produkte gedemonstreer.Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier