Sy ingenieursvernuf en insig, asook sy geniale sakebrein, was ongekend. In onderhandelinge was hy onverbiddelik.

Nadat hy op 16 as vakleerling-werktuigkundige in Detroit ingeskryf en later gekwalifiseer het, het Ford sowat tien jaar lank geboer voor hy hom by die Edison-maatskappy aangesluit het. Op 30 was hy die hoofingenieur.

Toe het hy genoeg tyd en geld gehad vir sy groot belangstelling in die lewe – motors. As plaasseun in die deelstaat Michigan was plaaswerk vir die jong Henry vervelig en veeleisend vir mens en dier. Daar het sy ideaal ontstaan dat die harde werk vir vlees en bloed deur staal en masjiene vervang moet word.

Sy Model T-Ford is wêreldbekend. Net soos dié praktiese, bekostigbare motor, waarvan van 1908 tot 1927 ongeveer 15 miljoen in verskeie gedaantes verkoop is, ’n omwenteling in padvervoer teweeg gebring het, het Ford dieselfde met die Fordson Model F-trekker reggekry. Die reuseprêrietrekkers was nie oral doeltreffend nie en Ford het vroeg aan ’n alternatief begin werk.

Die direkteure van die Ford-motormaatskappy was nie te vinde vir die maak van ’n trekker nie, dus het Ford ’n nuwe maatskappy gestig – Henry Ford and Son. Hy het dieselfde twee ingenieurs wat die Model T ontwerp het, die taak opgelê om die trekker te ontwerp. In 1917 was sy trekker op die mark.

Splinternuwe konsep

Aangesien die Fordson se masjien, ratkas en ewenaar ’n eenheid gevorm het en die trekker nie ’n swaar raamwerk soos die ander trekkers van daardie tyd nodig gehad het nie, was dit ligter en makliker om te hanteer. Die trekker is op ’n bewegende monteerband gebou, wat produksie meer bekostigbaar gemaak het.

Die drie ratte vorentoe het vir snelhede van 4-10 km/h gesorg. Die vierlitermasjien, wat op paraffien geloop het, was in wese dieselfde een wat in die Model T gebruik is. Die eerste reeks Fordsons het die eienaardigheid gehad dat dit slegs een voetpedaal gehad het. Om te rem, moes die bestuurder die pedaal trap om eers die koppelaar te ontkoppel en dan verder trap om te rem.

Volgens die maatstaf van die tyd kon die trekker ’n tweeskaarploeg met gemak trek. Die trekker het staalwiele gehad, want rubberwiele vir trekkers was eers 15 jaar later beskikbaar. Die Britte het die eerste 5 000 Fordsons bestel. Die Eerste Wêreldoorlog was aan die gang. Arbeid was skaars en Brittanje is deur voedseltekorte in die gesig gestaar. Met trekkers kon voedselproduksie verseker word.

Eers in 1918 is die trekkers in Amerika bemark, waar dit onmiddellik ’n sukses was. In ’n stadium het Fordson 75% van die markaandeel in Amerika gehad en 50% in die wêreld. In die 11 jaar wat die Fordson F op die mark was, is net minder as ’n miljoen in die Britse en Amerikaanse fabrieke vervaardig. Vir baie boere was ’n Fordson hul eerste trekker.

Baie probleme wat met die trekker ondervind is, kon aan die bestuurders se gebrek aan ervaring toegeskryf word. Soms, wanneer die trekker aan ’n swaar las gekoppel was, het die Fordson agteroorgeslaan, wat tot die bestuurder se dood kon lei. Hierdie probleem, wat nie net by Fordsons voorgekom het nie, is later deur Harry Ferguson opgelos.

Vir baie boere was ’n Fordson hul eerste trekker.

Ford en die Russe

Henry Ford het Fordsons aan die Britte gelewer toe daar net naastenby 500 trekkers in Engeland was. Van die volgende jaar af het hy aan Amerika en die res van die Westerse wêreld ook trekkers verskaf. Min mense weet egter dat Henry, een van die wêreld se grootste kapitaliste, van 1921 tot 1927 nie minder nie as 25 000 Fordsons aan die Kommuniste in Rusland verkoop het.

Ná die Russiese Revolusie in Maart 1917 was dit een van Lenin se ideale om Rusland se voedselproduksie te verbeter. Maar die Russe het moontlik nóg minder trekkers as die Britte gehad. Die Russe het voelers uitgesteek, allerhande planne beraam en die ooreenkoms met Ford gesluit. Ford was saam met Lenin en Trotsky ’n held vir die Russe.

Die Russe het natuurlik dadelik begin ploeg. Die onervare bestuurders het glipsies gehad en onderdele was nodig, wat hulle self begin vervaardig het. In 1924 het hulle ’n eie trekkerfabriek opgerig waar die Fordson-Potilovet, niks anders nie as ’n kloon van die Fordson F, vervaardig is. Henry Ford kon dus die Russe help om in ’n betreklike kort tyd hul voedselproduksie aan die Middeleeue te ontruk.

Die Fordson-handelsnaam is tot 1964 gebruik, maar vandag word die Ford-naam nie meer vir trekkers gebruik nie.

Hennie Richter van Yzerfontein is redakteur van die gereelde nuusbrief van SAVTEK, die Suid-Afrikaanse Federasie van Veteraan-trekker-en-enjinklubs.

Volgende week: Harry Ferguson sorg dat hy nooit vergeet sal word nie.