Pryse sluit BTW in en kan in sommige gevalle benaderd wees. Foto's: Gerrit Bezuidenhout en Charl van Rooyen



Vukani Agri van Johannesburg, invoerder van die Farmtrac-trekkerreeks, het sy nuwe “baba”, die FT 30, vertoon. Dié trekker van 23 kW is hoofsaaklik vir wingerdbewerking geskik. Die sleepvermoë van hierdie model is 2,5 ton en die hysvermoë 750 kg. Dit is met ’n 9x3-ratkas toegerus. Die model sal ook later met turfbande vir gholfbane beskikbaar wees. Prys: R197 800. Navrae: Mnr. Jan Barnard, sel 082 461 2953.
Massey Ferguson se nuweling in sy reeks boordtrekkers, die MF 2600-reeks, bied ’n nuwe opsie aan boere vir boord- en wingerdwerk. Die 2630 GE (op die foto) bied drywing van 48 kW en maksimum wringkrag van 245 N.m teen 1 500 r/min. Prys: Die MF 2630 GE kos R402 500. Navrae: BHBW, tel. 011 898 0000.
Die staatmaker Massey Ferguson 6713 is vanjaar opgeknap en spog nou met ’n kajuitopsie om plaaswerk te vergemaklik. Die MF 6713 is ’n goeie trekker vir algemene plaaswerk en is veral geskik vir hooimaak. Terselfdertyd is dit ook nie te veel gevra om die MF 6713 met hidrouliese werktuie te skakel vir grondbewerking nie. Die hyser kan tot 5 ton optel. Die MF 6700-reeks se kraglewering wissel van 61 kW tot 97 kW. Prys: Dit was tot einde Mei teen ’n spesiale prys van R515 200 te koop. Navrae: BHBW, tel. 011 898 0000.
Kubota hoef nie langer net met klein trekkers verbind te word nie. Die maatskappy het ’n groot trekker van 128 kW, die Kubota M7172 Premium KVT, bekend gestel. Dit word plaaslik deur Smith Power Equipment bemark. Die trekker op die foto is die eerste een in Suid-Afrika. Die model sal eersdaags beskikbaar wees. Prys: Nog nie vasgestel nie. Navrae: Mnr. Greg Bergman, sel 078 155 5717.
Die Versatile 620 Delta Trac van Kanada word deur JWL-landbou van Ermelo versprei. Dié kolos van 27,8 ton is met ’n Cummins QSX15-dieselenjin (463 kW) en ’n Caterpillar 16x4-ratkas toegerus. Sy dieseltenk van 1 749 liter is in die middelvlak gemonteer vir stabiliteit in die gewigsverhouding tussen die voor- en agteras. Prys: R5,87 miljoen. Navrae: Mnr. Werner Nel, sel 079 506 7495.
Die Landini Super 90-trekker spog nou met ’n splinternuwe kajuituitleg nadat die vorige model nog sonder ’n kajuit was. Die reeks, bestaande uit die Super 90, Super 100 en Super 110, is kleiner trekkers wat geskik is vir allerlei plaastake, waaronder grassny- en hooimaak. Drywing wissel van 61 kW tot 75 kW. Prys: Van R609 500 tot R713 000. Navrae: Mnr. Callie Human, bemarkingsbestuurder, Argo Industrial, tel. 011 914 1700.
Die Landini Super 100, hier toegerus met die MClassic 80-laaigraaf, vorm deel van Argo se Landini-aanbod. Die MC80-laaigraaf het ’n optelhoogte van 3,8 m en kan tot 1 420 kg op maksimum hoogte laai (2100 kg-laaivermoë op die grond). Die laaigraaf se beheermeganisme is ergonomies langs die bestuurder se sitplek aangebring. Prys: Op aanvraag. Navrae: Mnr. Callie Human, bemarkingsbestuurder, Argo Industrial, tel. 011 914 1700.
Argo Industrial het sy nuwe McCormick X7-reeks vertoon. Die vyf modelle in die reeks het sessilinderenjins van 6,7 liter. Die reeks kan ook toegerus word met twee verskillende ratkaste: die Pro-Drive-36-gangratkas of ‘n CVT-ratkas. Prys: Die McCormick X7.690 Power Plus (op die foto) kos R2 070 000. Navrae: Mnr. Callie Human, bemarkingsbestuurder, Argo Industrial, tel. 011 914 1700.
John Deere het vanjaar sy reeks boordspuite uitgebrei. Om die reeks aan te vul, het hy ook sy bestaande 5-reeks-trekkers aangepas. Die John Deere 5076 EN se PowerTech-viersilinderenjin van 4,5 liter lewer ’n hoë wringkrag met gepaardgaande lae brandstofverbruik. Die doeltreffende gesinchroniseerde ratkas het nege ratte vorentoe en drie truratte. Prys: Vanaf R575 000. Navrae: John Deere Suid-Afrika, tel. 011 437 2600.