Met ’n oppervlakte van 3 000 vk. m is dit die grootste uitstalling op Nampo. Die lokaal het plek vir tot 300 besoekers op ’n slag en het ’n nuwe onthaalruimte vir gaste.

Nog ’n verrassing vir Nampo-besoekers is die nuwe gebou oorkant die bestaande John Deere-uitstalruimte wat nou dié maatskappy se winkel huisves. Die winkelgedeelte is ook heelwat groter as voorheen. 

Die stalletjie is aan die noordekant van die Nampo-terrein naby die uitstalgebied vir lewende hawe geleë.

John Deere doen reeds meer as 60 jaar sake in Afrika. Nou het die groep nuwe lewe in sy handelsmerk op dié vasteland geblaas. “Daar is ’n persepsie dat ons produkte buite bereik van die gewone boer is en ons wou dié siening nek omdraai,” sê mnr. Stephan Nel, bemarkingsbestuurder van John Deere in Afrika suid van die Sahara.

Om dié doelwit te bereik, het die maatskappy die trefreël “Glo in meer” bekend gestel.

Mnr. Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere in Afrika suid van die Sahara, sê voedsel, en daarmee saam landbouproduksie, bring mense op die vasteland byeen.

“Boere, ons klante, is in die hart van hierdie bedryf en ons glo in die krag van ’n reis wat ons saam aanpak om die landbou se potensiaal in Afrika te ontsluit.”

Jonk en oud bewonder John Deere se werktuie, soos hierdie CP 690-katoenplukker wat in die maatskappy se opgeknapte uitstalruimte ten toon gestel is. Foto: Vida Booysen
Mnr. Jacques Taylor, besturende direkteur van John Deere in Afrika suid van die Sahara. Foto: Johan Norval

Omtrent 60% van die wêreld se onbenutte landbougrond is in Afrika. Met die wêreldbevolking wat teen 2050 tot 9,8 miljard sal opskuif, moet Afrika volgens Taylor nou sy regmatige plek as voedselverskaffer begin inneem.

“Daar moet ’n groen revolusie in Afrika plaasvind. As ons elkeen bemagtig wat deel daarvan is, sal Afrika die wêreld se voedselmandjie kan word.”

Dit beteken nie noodwendig dat elke kleinboer op die vasteland ’n trekker kry nie, maar elkeen moet toegang tot die tegnologie hê, sê mnr. Antois van der Westhuizen, besturende direkteur van John Deere Financial in Afrika suid van die Sahara.

“Daar is nie ’n kitsoplossing om finansiering vir kleinboere toegankliker te maak nie.” Die maatskappy het programme ontwikkel om finansiële instellings te help om die sektor beter te verstaan. Die maatskappy het deur sy handelaarsnetwerk ook sy eie finansieringsoplossings geskep deur die risiko met banke te deel. “As die boere net eers ’n kredietrekord opgebou het, gaan dit makliker.”

Die meeste kleinboere is gewoond daaraan om kontant te betaal, juis omdat hulle nie toegang tot krediet kry nie, sê Van der Westhuizen. “ ’n Deel van ons taak is om hulle te help om ’n kredietrekord op te bou sodat hulle nie nodig het om eers te wag totdat hulle die volle koopsom het nie.”

Die landbou-omgewing, en dan ook landbouwerktuie spesifiek, beweeg weg van ’n mantra van sterker, groter en vinniger na presisie, volhoubaarheid en aanpasbaarheid, sê Taylor.

“Die gehalte en doeltreffendheid van werktuie bly belangrik, maar dit is die produsent se kundigheid saam met ons tegnologie wat bykomende waarde ontsluit.”

Besoekers het op die eerste dag van Graan SA se Nampo-oesdag na John Deere se nuwe winkel gestroom. Foto: Vida Booysen

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.